top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 28 April 2022

Koos Espach


Die uitstorting van die Heilige Gees (3)


Hoor God in ons eie taal

Hand. 2:8-13 – “Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? Perse, Mediërs, en Elamiete sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.’ Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: ‘Wat kan dit tog beteken?’ Maar party het gespot en gesê: ‘Hulle is dronk.”


Lukas beklemtoon die verbasing van die Pelgrims wat ook die geweldige geluid gehoor het wat deur die koms van die Heilige Gees veroorsaak is. In verwondering het hulle gevra of die sprekers dan nie almal van Galilea afkomstig is nie. Hulle verbasing was baie groot dat hierdie eenvoudige Galileërs, wat die ander tale nie op natuurlike wyse kon geleer het nie, nou wel in daardie tale gepraat het. Skielik was Aramees nie meer die enigste spreektaal van die kerk nie. Die gelowiges was so vol van die Heilige Gees dat hulle rondgeloop het en vir almal daar, in hulle eie taal, van God se groot krag vertel het. Oorweldigend!


Die vraag is hoe die hoorders van die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig was om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor, geweet het dat die sprekers almal Galileërs was? Daar was nie tyd om te wonder hoe dié wonderwerk werk nie. Al wat hierdie eerste groep gelowiges wou doen, was om opgewonde God se Naam groot te maak. So vinnig as wat die woorde die gelowiges se lippe verlaat het, het die Heilige Gees dit in die taal van die hoorders wat teenwoordig was, verander! Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.


Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees, is die teken dat Hy deur hulle, die hele wêreld gaan vul met die getuienis van Jesus, die Christus. Hierdie evangelie móés oorvertel word, dit was immers Jesus se opdrag, en die tale-wonder bevestig dat dit vir álle mense bedoel is. Al weet ons nie hoe die gelowiges dit reggekry het om in verskillende tale van verskillende volke te praat nie, weet ons wel wat hulle gesê het – elkeen het in sy eie taal gehoor van “die groot dinge wat God gedoen het.”


Terwyl die meerderheid diep beïndruk was deur wat gebeur het, het ’n ander groep spotters wat nie in die ekstase gedeel het nie, gou ’n verklaring daarvoor gereed gehad en die werk van die Heilige Gees afgemaak as mense wat dronk was. Blykbaar het die toneel van mense wat almal tegelyk op geesdriftige wyse praat, vir hulle na dronkenskap gelyk – moontlik te veel gehad van die oes van die nuwe wyn. Vir mense wat nie die regte ingesteldheid van die Gees gehad het nie en ook nie die tale geken het nie, kon dit na beskonkenheid geklink het.


Ongewone dinge het met gewone mense op daardie Pinksterdag gebeur. “Hoe kan dit wees ... wat kan dit beteken?” Bloot die feit dat eenvoudige mense van totaal verskillende taalgroepe van die hele destydse wêreld, verstaan word, het eintlik ‘n eenvoudige antwoord: God se Gees word nie deur menslike grense soos taal, kultuur en nasie aan bande gelê nie. God se taal is eenvoudig. Ek en jy kan dit selfs in ons eie taal verstaan. God se hemelse woorde vanuit sy Woord spreek tot elkeen wat dit wil hoor. Ons moet net luister!


God is nog steeds besig om groot dinge in die wêreld te doen. Die Pinkstergebeure van Lukas se beskrywing, werk steeds kragdadig in die lewe van vandag se gelowiges. “Die groot dinge wat God (daardie tyd) gedoen het,” wil God vandag steeds deur sy Gees doen. Ek en jy moet net bereid wees om daarvan te getuig. Ons kan nie agter verskonings van “min vermoëns; ek kan nie voor mense oor godsdiens praat nie; ek kan nie leiding neem nie; ek kan nie hardop bid nie; ek het nie tyd nie; ek sal eendag wanneer ek ouer is,” skuil nie. Sê nou daardie eerste klomp eenvoudige, sondaar gelowiges, mense soos ek en jy met dieselfde besware, het geweier om deur die Gees gebruik te word? Dan het ons vandag niks geweet van die Evangelie nie.


Ons moet onthou dat ons nie vir onsself leef nie, maar deel uitmaak van die Liggaam van Christus. Hoe helder is my en jou getuienis van “die groot dinge wat God steeds doen?” Ons sien vandag miskien nie meer vuurtonge of stormwinde wat op bonatuurlike wyse van ons besit neem nie, maar die Heilige Gees wil steeds bonatuurlike dinge met ons doen. Ek en jy moet net gereed wees vir die verandering.


“Voor Christus die kerk die wêreld ingestuur het, het Hy eers sy Gees na die kerk gestuur. Dieselfde volgorde behoort vandag nog gevolg te word” (John Stott).


Gebed: Baie dankie Here, dat U vir my U Gees gegee het. Dankie vir Pinksterdag en die wonder daarvan. Dankie dat gewone mense skielik getuies geword het van U groot dade. Dankie Here, dat U my ook wil gebruik. Ek sal langs die pad baie geduld en leiding van U nodig hê, maar ek neem U op U woord dat U my vir die taak sal toerus. Heilige Gees, maak my oorvol sodat ek sal oorloop van die liefde van Jesus Christus. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page