top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 21 April 2022

Koos Espach


Judas se opvolger (3)


Verkeerde keuses kan jou lewe kos


Hand. 1:15-20 – “In daardie tyd was daar ‘n byeenkoms van die sowat honderd en twintig gelowiges. Petrus het die leiding geneem en gesê: ‘Broers, die Skrifwoord wat die Heilige Gees tevore by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het, moes vervul word. Hy is as een van ons gereken en is ook gekies om ‘n aandeel in ons werk te hê, maar hy het die gids geword van dié wat vir Jesus gevange geneem het.’ Met die geld wat Judas vir sy misdaad gekry het, het hy ‘n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul. Dit het bekend geword onder al die inwoners van Jerusalem. Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond. In die boek van die Psalms staan daar: Laat sy woonplek leeg word; laat niemand daarin woon nie, en: Laat ‘n ander sy amp oorneem.”


"In daardie tyd," terwyl hulle gewag het op die uitstorting van die Heilige Gees, het Petrus opgestaan en die gelowiges toegespreek. Petrus, wat tydens die lewe van Jesus op aarde as woordvoerder vir die twaalf opgetree het, tree ook nou as leier en woordvoerder op. Die getal gelowiges teenwoordig by daardie geleentheid was honderd en twintig, wat moontlik grotendeels bestaan het uit volgelinge wat saam met Jesus na Jerusalem gekom het. Honderd en twintig mense was die minimum wat nodig was vir die stigting van ’n selfstandige Joodse gemeente.


Petrus sê dat die Skrifwoord wat die Heilige Gees deur die mond van Dawid i.v.m. Judas voorspel het, in vervulling moes gaan. Judas was nie alleen uiters ontrou nie, maar hy het ook misbruik gemaak van die amp wat uit genade aan hom toevertrou is. Wie wás Judas Iskariot? Jesus self het hom uitgekies as een van Sy dissipels, hy is nie deur stemming verkies tot die posisie nie. “Hy is as een van die dissipels gereken en is ook gekies om ‘n aandeel in hulle werk te hê.” Ons weet nie presies hoe Jesus vir Judas gekies het as ‘n dissipel nie maar hy het ál Jesus se wondertekens gesien, Jesus se woorde gehoor en ál die voorregte van die ander dissipels gedeel. Daar was uiterlik geen onderskeid tussen hulle en hom gewees nie. Hy was een van die twaalf, sáám met Jesus op die regte lewenspad, ‘n vertroueling. Die enigste onderskeid was dat Judas uit Judea in die suide van die land, afkomstig was, terwyl die ander elf dissipels almal Galileërs van die Noorde was. Selfs dít blyk nie ‘n probleem te gewees het nie, Judas se probleem was waarskynlik dat hy steeds ‘n vriend van die wêreld was.


Daar is ‘n paar beskrywings met opmerklike verskille van Judas se dood: Volgens Matteus het hy selfmoord gepleeg en die priesters het die pottebakker se grond gekoop. Lukas skryf “Judas het self die grond gekoop.” Dit is Bloedgrond genoem omdat Judas daar geweldadig dood is – nie omdat dit met bloedgeld gekoop is nie. Matteus verbind die naam aan die onskuldige bloed van Jesus; Lukas in Handelinge aan die skuldige bloed van die verraaier. Volgens Matteus is Judas se einde die gevolg van sy oordeel oor homself; volgens Lukas die oordeel van God: “Daar rus ‘n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om ‘n onskuldige dood te maak” (Deut. 27:25). Augustinus probeer die verskillende weergawes kombineer: Die tou het gebreek nadat Judas homself opgehang het en toe hy op die grond val, het sy liggaam oopgebars.


Is dit nie tragies dat Judas aan die begin daar was, maar nie aan die einde nie? Op die dag wat Jesus sy dissipels gekies het, sê Hy ‘n baie vreemde ding: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ‘n duiwel!” (Joh. 6:70).Die hartseerste was nie dat Judas aan die begin ‘n duiwel was nie, maar dat hy na drie jaar wat hy saam met Jesus en die dissipels rondbeweeg het, daar was waar wonderlike dinge gebeur het. Ten spyte van dit alles, het hy steeds as ‘n duiwel opgeëindig! Hoekom? Hy het nooit toegelaat dat dit wat hy hoor en sien, hom verander nie.


Verandering en groei begin altyd by ‘n keuse. Iewers langs die pad kies mense om nie te verander nie. Dit is eenvoudig nie genoeg om te wees waar Jesus is nie! ‘n Mens se verkeerde keuse veroorsaak dat hy sy konneksie met Jesus verloor; al sy vriendskappe met mede Christene verloor; kontak en sy posisie in die gemeente van Christus verloor; die voorreg om in die Naam en met die krag van Jesus te bedien, verloor; sy beloning in die hemel verloor en op die ou end ook sy lewe, vir ewig verloor. Wanneer ons egter ons toevlug tot Jesus neem en Sy wil vir ons lewe aanvaar, sal ons in Sy krag alle keuses oorwin wat daarop uit is om my en jou van Sy liefde te skei!


“Dit gaan nie daaroor dat ons die een of ander toevlug het nie; dit gaan daaroor dat God self ons toevlug is” (Karl Barth).


Gebed: Here, moet asseblief nooit toelaat dat enige iets my uit U greep losskud nie. Die prys wat ek daarvoor gaan betaal wanneer ek laat los, is geweldig hoog. U reg en geregtigheid is van dag tot dag en van geslag tot geslag, onveranderlik. Daarom wil ek in U teenwoordigheid op daardie fondament met sekerheid bou. Dankie Gees van God dat U dit moontlik maak deur ons geestelik te laat groei in hierdie oortuiging. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page