top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 8 April 2022

Koos Espach


Jesus se hemelvaart (2)


Jesus se beloftes


Hand. 1:11 – “Daar het skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan en dié sê toe vir hulle: ‘Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”


Jesus se hemelvaart hou vandag steeds vir ons besondere troos, hoop en bemoediging in, al is dit deesdae dié Christelike feesdag wat deur die meeste Christene afgeskeep word en nie eers meer in Suid-Afrika ‘n openbare vakansiedag is nie. Die dissipels het waarskynlik verlore gevoel terwyl hulle gesien het hoe Jesus finaal van hulle af weggeneem word. Hulle is egter onmiddellik gerusgestel dat die hemelvaart nie die einde van Jesus se heerskappy op aarde is nie. Die belofte van die “Heilige Gees wat hulle krag sal gee” (Hand. 1:8), het hulle immers al voor Jesus se hemelvaart ontvang en saam met die belofte, ontvang hulle die versekering dat Hy “net so sal terugkom soos hulle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”


Die Gees lui dus ‘n nuwe tydvak in die kerk se geskiedenis in. Van daardie hemelvaartdag af sal God in Christus, deur sy Gees, sy kerk tot nuwe hoogtes lei. (Lees dit weer!) Kort voor Sy hemelvaart sê Jesus vir sy dissipels: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18). Jesus is dus nie net ons gelowiges se Verlosser en Heiland nie, maar ook ons Heer en Koning! Al gaan dit nie altyd goed met ons nie, bly Hy ons Koning met “alle mag op hemel en aarde.” Dit is Sy belofte met Sy hemelvaart!


Jesus het ook gesê dat “dit tot ons voordeel is dat Hy weggaan ...” (Joh. 16:7). Jesus se hemelvaart was na ’n werklike bestemming toe, na “die hemel”, die heiligdom waar God woon – al is die presiese hoe en die waar daarvan vir ons nog ’n misterie. Die hemelvaart is nie ’n fabel nie, dis ’n feitlike gáán met ’n adres en ’n doel – hemel toe ... “om vir ons plek gereed te gaan maak ... ” (Joh. 14:2-3). Ons behoort bly te wees, die hemelvaart is vir ons gelowiges ’n feesgeleentheid, al word dit nie meer in Suid-Afrika erken as ‘n feesgeleentheid nie. Dit was die afsluiting van Jesus se volkome versoeningswerk en is vir ons net nog ’n geleentheid om ons redding te vier. Ek en jy wat opreg glo dat die Here vir ons ook in die hemel ingegaan het en vir ons by God intree, kan feesvier. Sy bloed aan die kruis, opstanding uit die dood en daaropvolgende hemelvaart, het vir ons vryspraak en genade by ons Vader gekry.


Dan moet ons ook onthou dat die “wolk wat Jesus weggeneem, sodat die dissipels Hom nie langer kon sien nie,” “die wolk” vir die Ou Testamentiese Godsvolk ‘n teken van God se teenwoordigheid was (Eks. 14:19). Ons kan weliswaar nie meer vir Jesus met ons oë sien nie, maar tog moet ons nie dink dat Hy weg is nie – “Hy is by ons tot die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Paulus bevestig Jesus se teenwoordigheid in Efesiërs 4:10: “Jesus is die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.


Ek en jy het sekerheid van ons toekoms! Is dit nie wonderlik nie? Daarom kan ons Jesus se hemelvaart nie geringskat nie. Wanneer ons Jesus se beloftes voor Sy hemelvaart vir onsself toeëien, kan ons moedig die lewe met al sy hobbelrige paaie en slaggate vol probleme, met nuwe sekerheid aanpak – ons lewe is veilig by die Here. Ons toekoms is veilig in ons Koning wat “alles met sy teenwoordigheid vul,” se hande. Omdat my en jou “lewe saam met Christus verborge is in God” (Kol. 3:3), kan ons nou op aarde regtig strewe en soek na die koninkryk van God.


“Daar is ‘n manier, waarop Jesus ná sy hemelvaart nie meer hier is nie. Maar op ‘n ander manier is Hy nie weg van die aarde af nie, maar altyd en oral teenwoordig by sy kinders. Hy sal ons nooit, ooit alleen laat nie” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here, gee my die geloof om verder as hierdie tydelike wêreld te sien. Rig my oë nie op die sigbare dinge, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, en die onsigbare ewig (2 Kor. 4:18). Leer my as mens wat maar ‘n tydgebonde wese is, om iets van die die ewige Jesus te sien wat opgevaar het na U toe, tog ook teenwoordig is by ons. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page