top of page

Gedagte vir Vandag

23 Nov 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

DIE TEMPELBELASTING (3)

“RESET” JOU VERANTWOORDELIKHEDE!


Matt. 17:27 – “Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie. Gaan see toe en gooi hoek in, en die eerste vis wat byt, moet jy uittrek. As jy sy bek oopmaak, sal jy ‘n silwermuntstuk daarin kry. Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou.”


Ons betaal vandag nie meer tempelbelasting nie. Ons situasie in die een en twintigste eeu is heeltemal anders as destyds. Gister het ons gevra: Wat is ons reaksie hierop? Hoe gaan ons daaraan uitdrukking gee? Ons het ook gevra wie Jesus regtig is? Wie is Hy regtig vir ons? Daarom is dit seker net reg om te vra wie ek en jy regtig is? Ons beskou onsself as kinders van die Here, want “almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Dan is dit seker reg as ons die afleiding maak dat indien ons burgers van die koninkryk van God is, moet ons kan onderskei wat belangrik is en wat onbelangrik is. Dit is belangrik dat ons nooit die koninkryk van God in diskrediet bring nie, die mense wat deel is van hierdie koninkryk, “aanstoot gee nie.”


Baie keer hardloop ons in ’n rigting. Ons probeer so hard om by te bly met die res, dat ons vergeet om te kyk of ons in die regte rigting op pad is. Dis deesdae die norm dat mans en vroue moet werk. Ons finansiële en lewensdoelwitte is so hoog gestel dat ons nie anders as om albei te werk nie. Hoe gaan ons anders aan die einde van die maand al die hope rekeninge betaal? Dis die realiteit waarin die meeste van ons vasgevang is. En om nou voor te stel dat een alles los en die huis gaan bestuur, is dalk effe drasties. As jy dit lankal oorweeg en dit jou roeping is, gaan doen dit, ongelukkig moet die meeste van ons, ons brood in die aanskyn van ons sweet gaan verdien.


Maar, en die groot maar, is dat ons, mans en vroue, te midde van die stryd om al die balle in die lug te hou, ’n groot verantwoordelikheid tuis het. Ons God, ons huis, ons huismense, ons eggenote en ons kinders is ons eerste roeping – in daardie volgorde. As ons die roeping afskeep, om watter rede ook al, is ons diep in die gemors. Daar is ’n rede hoekom God die huisgesin gekies het om die platform te wees vir kinders om in die wêreld te kom. As Hy gedink het ’n hospitaal of ’n spesiale broeikas en grootmaak-sentrums sou beter werk, sou Hy dit eerder gekies het. Maar nee, God het geweet gesinne sal beter werk – God, pa, ma, seun en dogter!


Ons moet terugkeer na die eerste rede hoekom ons hier op die aarde geplaas is. Dit is om ’n goeie rustige huis te skep waar ons en ons kinders vir die wêreld daar buite voorberei word. Dit waaraan ons kinders vandag blootgestel word, is erg. Hulle lewe is op die spel. As ons hulle oorlaat dat die wêreld hulle leermeester is, moet ons nie verbaas wees as hulle eendag presies soos die wêreld is en doen nie.


En net so moet ons elkeen dit wat ons doen, goed doen, maak nie saak wat dit is nie. Om as kinders van God se koninkryk goed te doen, beteken dat ons gewoonlik beter doen as die ander, want ons doen die beste wat ons kan. Ons gee ons alles. Ja, laat mense vir Jesus deur ons werke sien, omdat alles wat ons aanpak goed, beter, beste, uitstekend is.


Ek vermoed ons almal het al so-effe skeef getrap. Dis menslik en dit help nie nou om ’n hoekie te gaan sit en ons minderwaardige polse te kou nie. Kom ons gaan soek opnuut weer Jesus ván die kruis op. Op ’n manier moet ons daar by die kruis ons onvermoë om ‘n mooi prentjie in die wêreld te verf, erken. Ons moet die pakkie sondes en onverantwoordelike dinge wat ons al aangevang het, daar neersit. Ja, ons moet dit erken en dan net daar los.


En dan moet ons uit dankbaarheid daar opstaan en weer met alles in ons probeer om ’n beter, ware prentjie van God se Woord in die wêreld uit te leef. Jy sien, as ons uit dankbaarheid aangevuur word, wil ons God se wil lewe. So moet ons dalk onsself ook nou weer “reset” om weer by ons oorspronklike roeping uit te kom. God het ons gemaak om ’n omgewing te skep waar ons ons kinders (en mekaar!) kan help om die wêreld in te gaan en op te staan vir dit wat reg is, om lig te wees in die donkerte en ander te help om ook kinders van die koninkryk van God te wees.


Dan gaan ons met die hulp van die Heilige Gees dit net beter regkry om “nie ‘n aanstoot” vir God se koninkryk te wees nie. Die prentjie wat die wêreld van ons sien sal vir die wêreld so mooi wees dat dit hulle aantrek, sodat hulle ook deel van daardie koninkryk wil wees. Hoe lyk die prentjie wat ander mense het oor my en jou manier van lewe? Hoe ontvang ander God se Woord a.g.v. ons lewe? Wat moet ek en jy anders doen?


“Daar is net twee dinge van blywende waarde wat ons kinders kan laat erf om hulle toekoms te verseker: Die een is die wortels van verantwoordelikheid en die ander is die bydrae wat jy kan lewer tot God se koninkryk” (Anoniem).


Gebed: Vader, U is groot. U maak so ’n groot verskil in my lewe. En tog bly ek swak. Help my om uit dankbaarheid U Woord na te jaag en alles wat daarin staan ’n werklikheid in my lewe te maak. Here, help my om tussen al die wêreld se verwagtinge deur, U wil helder te sien en my prioriteite reg te kry. Help my om daardie veranderinge te maak wat opoffering vra. Help my tog om nie net aan my eie gemak te dink nie, maar ook aan hoe dit wat ek doen, ‘n invloed op ander en op die getuienis wat ek uitleef, het. Help my om net my beste te gee, ook in die dinge wat vir my minder lekker is, sodat my lewe vir U eer sal bring. Mag ander ’n beter prentjie van U Woord kry, omdat U Gees deur my skyn. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page