top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 30 Maart 2022

Koos Espach


Die belofte van die Heilige Gees (1)


Laat U koninkryk kom


Hand. 1:1-3 – “My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.”


Lukas rig sy skrywe aan Teofilus, ‘n gesiene Romeinse amptenaar wat ‘n Christen geword het en waarskynlik ook die nodige fondse voorsien het vir die skryf van sy Evangelie en die Boek Handelinge. Hy herinner Teofilus aan alles wat hy in sy Evangelie van Jesus geskryf het en gee ‘n kort opsomming van wat Jesus gedoen het sedert Sy opstanding “tot op die dag van sy hemelvaart.” Die belangrikste wat Lukas hier beklemtoon, is die taak wat op Jesus se dissipels, of soos hulle van toe af genoem is, apostels, (gestuurdes), wag. Die apostels is as’t ware deur Jesus as Sy amptelike verteenwoordigers aangestel om Sy werk op aarde voort te sit.


Lukas verklaar onomwonde dat Jesus beslis opgestaan het uit die dood en vir veertig dae ná Sy opstanding, “by verskeie geleenthede aan Sy dissipels verskyn en met hulle oor die koninkryk van God gepraat het.” Die koninkryk was natuurlik die hart van Jesus se prediking. Matteus het vir ons in sy Evangelie daarop gewys dat Jesus reeds “met Sy intreepreek”, die skare mense wat Hom gevolg het, vermaan het om hulle te bekeer omdat God se koninkryk tot by hulle gekom het (Matt. 4:1-17). Lukas het dieselfde boodskap in sy Evangelie oorgedra (Luk. 11:20).


Wat is die koninkryk van God? Die koninkryk van God het begin toe Jesus as mens aarde toe gekom het en tussen ons kom woon het (Joh. 1:14). Dit was egter net die begin. Die “koninkryk van die hemel” (Matteus verwys deurgaans só daarna om aan te sluit by die gebruik onder die Jode om die Naam van God sover moontlik te vermy), sal nie voltooi wees voordat alle boosheid uit die wêreld uitgeroei is nie. Wanneer hierdie Jesus wat aarde toe gekom het om vir ons sondes te kom ly, weer as Regter terugkeer, sal die koninkryk uiteindelik in al sy volheid aanbreek. Jesus kom weer om te kom heers oor die volmaakte koninkryk, waar sonde nie meer bestaan nie.


Die koninkryk van God is nie van hierdie wêreld nie. Dis nie gesentreer in mooi huise of karre of paleise of op trone van ons ou wêreldjie nie. Dis in my en jou hart. God se koninkryk beïnvloed ons lewe radikaal, daarom is bekering nodig om gereed te wees vir die dag wanneer ek en jy ons lewe op aarde afsluit. Natuurlik besit ons nog nie die koninkryk in sy volmaaktheid nie, maar daarom bid ons: “Laat U koninkryk kom.” “Dit is: Regeer ons so deur U Woord en Gees dat ons ons hoe langer, hoe meer aan U onderwerp. Bewaar U kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen U heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van U ryk kom, waarin U alles in almal sal wees” (Antw. 123 van Heidelbergse Kategismus).


Dit is gevaarlik om te bid "laat U koninkryk kom”, want ons eie koninkryk word dan in gevaar gestel. Dit help nie ons vra ons Vader om Sy koninkryk te laat kom terwyl ons oë na die hemel gerig is, en ons diep gewortelde drang van ons sondige natuur nog self wil regeer nie. Ons sal slaaf bly van die “ék-maak-so en ék-sê-so en ék-laat-my-nie-voorsê”, koninkryk van ons harte. “Die Here se koninkryk is daar waar Hy as Koning erken en gehoorsaam word. Daar waar die Grondwet van die Koning die grondslag van ons lewe word” (Ds. Johan Smit). Daarom leer Jesus ons bid vir die ondergang en vernietiging van ons selfgemaakte koninkrykies. Kom ons verskuif ons eie trone en plaas God op die troon van ons lewe! Kom ons maak seker Jesus neem die eerste plek in ons lewe in, dan sal dit moontlik wees om plek in God se koninkryk ook in te neem.


“God se koninkryk is so onbegryplik groot dat ons sintuie Sy majesteit nie ten volle kan waarneem nie” (Johannes Calvyn).


Gebed: Ons Vader, laat U koninkryk kom – en begin by my! ‘n Koninkryk wat U heerskappy erken en aan U gehoorsaam te wil leef. ‘n Koninkryk in slegte tye wanneer chaos, wanorde en die donkerte my wil oorval. ‘n Koninkryk wat die huidige korrupte wêreld, onbekwame regering, moord, verkragting, mensehandel, hongersnood, werkloosheid, swak ekonomiese toestande, oorlog, en al die ander satanbeheerde dinge, verpletter. Dankie dat ek kan vashou aan U, ons Vader en hard kan uitroep: Laat U koninkryk kom “sodat U alles en in almal is” (Kol. 3:11). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page