top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 25 Maart 2022

Koos Espach


Jesus se opdrag en versekering aan al die gelowiges


Ja, ek en jy kan!


Matt. 28:18-20 – “Jesus kom toe nader en sê vir (sy dissipels): ‘Aan my is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”


Ons sluit vandag af met die “Evangelie volgens Matteus.” Wat Matteus ons probeer vertel het, was maar net ‘n deeltjie van Jesus se lewe op aarde. Hy en die ander drie evangeliste, Markus, Lukas en Johannes, wou hierdie Here op hulle beskeie manier ook aan ons voorstel – elkeen wat dié Evangelies lees, moet die lewende Here ontdek! Dit hang nou van my en jou af om daaroor na te dink of sommer enigiemand uit die dood kan opstaan. Ons moet vra of dit moontlik is dat iemand wat nie van God af kom nie, dooies kan opwek, blindes kan laat sien, duisende kan voed, siekes kan gesond maak, bose geeste uit mense kan verdryf? En indien ek en jy die antwoord gekry het, is al wat oorbly om voor hierdie lewende Here te buig, Hom te prys, aanbid en dien, want dan is ons ook deel van God se gesin. As deel van God se gesin, is dit egter ook nodig om Sy koninkryk op aarde uit te bou deur dienaar en getuie te wees van Jesus Christus, Seun van God!


Sy opdrag is vierledig: “Gaan, maak dissipels, doop en leer” – alles deel van kerkvorming. En nou mag ek en jy dalk vra: “Wie, ék? Sê nou maar ... Hoe sal ék? Nee, ek kan nie ... ek is maar net ‘n gewone mens. Ja, ons kan! God is aan die werk en Hy is ‘n Meesterkunstenaar. Hy verrig wonders met gewone mense soos ek en jy! Hy het selfs ‘n moordenaar soos Moses; egbreuker én moordenaar Dawid; Christenvervolger Paulus en nog baie ander, gebruik om as Sy instrumente te werk. “Dit is God wat my en jou gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer” (Ef. 2:13) want “Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” “Sy krag wat Hy uitoefen in ons wat glo, is geweldig groot. Dit is dieselfde kragtige werking van Sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het” (Ef. 1:19).


God roep ons deur Sy Gees om ‘n rol te vervul – daar is God se deel en ons deel. Ons deel is om te besef dat God nooit in ‘n lugleegte werk nie daarom gebruik Hy gewone mense om vir Hom te werk. Ons het ‘n taak om uit te voer ter voorbereiding vir God, om Sy wonders op aarde te bewerk. Die reis na hierdie begin toe is net om te sê: ‘Hier is ek Here, gebruik my!’ Ons moet onsself opsy sit vir God se gebruik. Dit help nie om net te sê ek lees gereeld Bybel, gaan gereeld kerk toe en bid gereeld nie. Dit gaan dan steeds oor die ‘ek!’ Ons moet eerder vra ná al bogenoemde dinge: ‘Wat het ek vir God gedoen?’ Ons moet onsself toewy aan God. Hy spandeer 24/7 aan ons, hoeveel tyd gee ons terug aan Hom? Dit geld vir álmal wat beweer hulle is Christene en word nie voorbehou vir net ‘n handjievol uitgesoektes nie! “Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God” (Lev. 20:7).


Wat vereis dit? Lééf ‘n lewe gevul met God se Woord. Die Woord is die instrument wat deur die Gees gebruik word: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees, sê die Here die Almagtige” (Sag. 4:6). Ons moet ook daagliks ons sondes bely, want dit versper die werk van God: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh. 1:9).


‘n Sekere George Williams hou die volgende getuienis van ‘n eenvoudige vrou voor: “Sophie was ‘n bekeerde skropvrou wat beweer het dat sy geroep is om te skrop en te preek. Sy is deur iemand bespot wat gesê het dat hy haar voor ‘n sigaarwinkel met ‘n Indiaan wat van karton gemaak was, sien praat het. Sy het geantwoord: ‘Miskien het ek, my sig is maar sleg. Maar om met ‘n karton-Indiaan oor Christus te praat is nie so sleg as om ‘n karton-Christen te wees en om nooit teenoor enigiemand oor Christus te getuig nie.”


God se deel is die wonders wat Hy verrig. God is nie ‘n God van vertonings nie, Sy werk is nie altyd oor die skouspelagtige nie, Sy handewerk verstom egter altyd! Hy openbaar Hom nie noodwendig na aanleiding van ons aandrang nie, maar op Sy bestemde tyd. Net om te dink dat Hy ons vrygekoop het van sonde en Hy ons hoop en vryheid verseker, is verstommend en onverstaanbaar. God gebruik die stukke van my en jou gebroke lewe om Sy hemelse legkaart te voltooi. Elke Christen is geroep om ‘n verskil te maak en om instrumente in die hande van die Here te wees. Ons moet net bereid wees om te sê: “Hier is ek Here, ek is opsy gesit vir U gebruik, sonder U gaan ek nêrens nie!” En Jesus waarborg ons van Sy nabyheid en liefde, ongeag wat ons ervaar. Ek en jy kan daaraan vashou wanneer twyfel onverwags ons lewe binnesluip.


“Elke Christen het ‘n totale Christus vir sy verlossing; ‘n totale Bybel as ‘n staf; ‘n totale kerk vir sy broederskap en ‘n totale wêreld as sy arbeidsveld” (Chrustostomus).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U nie verwag dat ek dinge bó my vermoë moet doen nie, maar wanneer U my roep, dit ‘n teken is van U vertroue in my dat ek wel vir die taak opgewasse sal wees. Dankie vir U wonderlike genade om ‘n onwillige en onbekwame mens soos ek, in U koninkryk te wil gebruik, terwyl U engele daarvoor kon aanwend. Hier is ek Here, ek is opsy gesit vir U gebruik, sonder U gaan ek nêrens nie! Op my pelgrimstog besef ek dit gaan nie oor gerief en plesier nie en soms voel dit of U my rigting verander, maar dankie Here, my eindbestemming bly dieselfde, by U. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page