top of page

Gedagte vir Vandag

5 Okt 2020

Koos Espach


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

DIE TWEEDE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (2).

(Mark. 8:1-10)

VAN KRUMMELTJIE-GENADE TOT VOL BRODE VREUGDE!


Matt. 15:34-36 – “Hoeveel brood het julle?’ vra Hy vir hulle. ‘Sewe,’ antwoord hulle, ‘en ‘n paar vissies.’ Hy het gesê die mense moet op die grond gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse en dank God daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan die dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee.”

Die volk van God is op godsdienstige gebied verwaarloos, verdwaal en herderloos. Soveel te meer die nie-Jode wat deel uitmaak van die skare wat Jesus nou al vir drie dae lank, hier in die Dekapolis omring. Die gesig van die hulpsoekende skare gryp Hom diep aan en Hy kry hulle innig jammer. In Sy amp van herder het Jesus hulle geleer aangaande die dinge van die koninkryk van God, waardeur hulle geestelik gevoed en op die regte spoor gelei kon word. Verder besef Jesus ook aan die einde van Sy driedaagse lering en genesing van baie siekes, dat hulle “niks het om te eet nie, en Hy hulle nie sonder kos huis toe kan stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk.”

Jesus vra Sy dissipels om hulle eie voorraad kos te ondersoek. Uit wat hulle voorhande het, sou die skare gevoed moes word. Die seën van die Here sou die geringe middele aanwend tot oorvloedige spysiging van die groot skare. Sy dissipels aanvaar die verantwoordelikheid, maar daar is ’n merkwaardige spanning oor Jesus se opmerkings, en hulle “sê vir Hom: ‘Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg brood kry om so baie mense kos te gee?” Hulle reaksie verraai waarskynlik hulle onbegrip en ongeloof. Hulle tree op asof hulle glad nie daar was toe Jesus die eerste keer, in min of meer dieselfde situasie, die menigte Jode op ‘n wonderbaarlike wyse gevoed het nie (14:13-21). Trouens, hulle het nou sewe brode wat immers meer is as die vyf wat die vorige keer vir die vyfduisend mans, uitgesonderd vrouens en kinders, gevoed het!

Jesus beveel die skare om op die grond te gaan sit in gereedheid vir ’n maaltyd. Nadat Hy die lofprysing uitgespreek het, breek Hy die brood en laat Sy skeptiese, waar-sal-ons-genoeg-kry dissipels, om dit aan hulle te bedien. Na ’n seënbede waarin God as die Skepper en die Gewer geprys word, doen Hy dieselfde met ’n aantal vissies. Wanneer Jesus sy hande seënend op die mens se gebrekkigheid lê, omskep Hy dit in 'n feesmaal.

Hierdie wonder van Jesus is nie net 'n sensasionele insident wat die heidene se hongersnood stil nie. Dit is 'n heilige wonder wat heenwys na die groot Wonder naamlik, die Woord wat vlees geword het (Joh. 1:14), en nie net na die Jode gekom het nie, maar dat Sy koms voordelig is vir alle mense wie Hy, “die brood wat lewe gee” (Joh. 6:35), sal voed tot in ewigheid. Hierdie maaltyd is 'n heenwysing na Jesus Christus wat kragtens Sy gesag, alles sal gee wat ons nodig het vir ons saligheid. Die Here se genade kom nie net krummelgewys oor na ‘n Kanaänitiese vrou wie se dogter in die mag van ‘n duiwel was nie (15:22), maar ook die heidene van die Dekapolis, én almal in die wêreld, wat die volheid van versadiging by Hom wíl ontvang!

Daar is ‘n ander honger wat slegs Jesus kan stil – die honger vir die waarheid. Daar moet vir die daaglikse brood gewerk word, maar dit moet nie tot hoofsaak verhef word nie. Daar is iets wat van groter belang is, naamlik “die voedsel wat nie vergaan nie en wat die ewige lewe gee” (Joh. 6:27). Jesus wil ons dieet verander deur ons fokus te verskuif van gewone, verganklike brood, wat slegs tydelik ons liggaamlike honger kan stil, na die brood wat aan ons die ewige lewe kan gee. Wanneer die Here in ons lewe ingryp, doen Hy dit nie druppelgewys nie, maar met strome van volheid, en vol mandjies kos wat oorbly as almal hulle versadig het uit Sy hand.

Om gesond te leef en aan die daaglikse eise van die lewe te beantwoord, is voedsel uiters noodsaaklik. Die nalating van die daaglikse dieet word alles later net ‘n sieldodende roetine. Net so vereis ons geestelike lewe ook voeding – dit is ‘n integrale deel van ons aardse bestaan sowel as van die ewige. ‘n Lewe wat sonder die versterkende “Brood van die lewe” kortkom, sal spoedig in ‘n kleurlose en kragtelose bestaan verval.

Ons moet dus seker maak om voortdurend krag te put uit die oneindige reserwebronne van “Die Brood van die Lewe” en in ’n groeiende verhouding met Jesus Christus lewe. Jesus vra miskien nie vir ons: “Hoeveel brood het julle?” nie, maar ons kan gerus gaan kyk hoeveel mandjies vol genade daar agter ons op ons lewenspad staan, nadat ons ook maar net met spreekwoordelik “sewe brode en ‘n paar vissies” begin het. Jou en my vreugde lê daarin om dit raak te sien en ons volheid met ander te deel.

“Ons kan wel van brood alleen lewe, mits dit die Brood van die lewe is” (A.J. Amick)

Gebed: Ewige Vader, daar is geen wesenlike behoefte wat U nie kan vervul nie. Dankie dat U deur Jesus U skatkamers vol seëninge vir my oopsluit en my vrye toegang daartoe verleen. U is my lewensbrood Here. Dankie vir al die menslike geriewe wat ek geneig is om as vanselfsprekend te aanvaar: klere om aan te trek, voedsel om te eet, krag om werk te verrig, die wonder van liefde, gesondheid en die lewe! Dankie Vader dat U die Woord vir my gee sodat ek U beter kan leer ken, en ek dit hierdie naweek weer na ongeveer ses maande, in 'n Kerk-gebou, dit kon aanhoor! Help my om U nie net daarin te vind nie, maar om daarvan versadig te raak en my aan U diens sal toewy. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page