top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 17 Maart 2022

Koos Espach


Petrus kry opnuut sy opdrag (3)


Volg My!


Joh. 21:19b – “Daarna sê Jesus vir Petrus: ‘Volg My!’ ”


Vergelyk ook Matt. 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”


Net nadat Petrus die versekering gekry het dat hy steeds in diens van Christus as apostel moet optree, sê Jesus wéér vir hom wat die koste van só ʼn lewe is. Hy sal in die Here se diens wees tot op ʼn hoë ouderdom. Maar wanneer hy oud is, gaan hy in die moeilikheid wees by mense wat ánders as hy, oor geloof en navolging van Christus, dink. Die algemeenste aanvaarde kerkoorlewering, is dat Petrus onderstebo aan ‘n x-vormige kruis in Rome gesterf het in vervulling van Jesus se profesie (Joh. 21:18).


Dit is nie so belangrik hóé Petrus en die ander apostels en selfs gelowiges, gesterf het nie. Wat belangrik is, is die feit dat hulle almal gewillig was om vir hulle geloof te sterf. As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, sou Sy dissipels dit geweet het. Mense sal nie bereid wees om te sterf vir iets wat hulle weet, nie waar is nie. Die feit dat die apostels gewillig was om wrede dode te sterf, geweier het om hulle geloof in Christus te verloën, is waaragtige bewys dat hulle werklik die opstanding van Christus gesien en beleef het!


Die vervolging en belediging waarna Jesus verwys in Sy Bergpreek (Matt. 5:12), is spesifiek gerig op Christene wat probeer om regverdig te lewe, wedergebore harte wat in diens van die Here staan. Dissipels wat afhanklik is van God, sagmoedig is en wat die waarheid van die evangelie suiwer verkondig. Die Christus wat ons volg word verwerp, gehaat deur die wêreld wat in konflik is met die verkondiging van die Evangelie. Om vervolg te word vir regverdigheid, is om vervolg te word vir Christus!


Vervolging vererger wanneer daar nie gedeel word in ander se korrupte lewenswyse nie. ‘n Broer-in-misdaad maak dit makliker om te erken dat “almal dit tog doen.” Die ongelowige staan dan skielik alleen wanneer “almal” Christene is, of word. Die vervolgers se gode is hul sondige wellus en dit skei hulle van die “skynheiliges.” Dit is dan wanneer dissipels van Jesus met hulle getuienisse, verag word want hulle het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot.


Gelowiges se oë is gevestig op God se toekomsbelofte, nie op korttermyn resultate nie. Die vervolgers kan maar alles in die stryd werp om alles te steel en te verower van gelowiges, hulle sal nooit slaag om die hemel van die gelowiges in Christus, weg te neem nie. “Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid” (Rom. 8:17b).


Die keuse lê by elke mens. Al wat Jesus vra is dat ons Hom moet volg, ons lewe vir Hom moet gee: “As die wêreld julle haat, onthou: hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19). Jesus sal vir alles sorg. Hy sal die regte vrugte op die regte tyd voortbring. Wees Godsdienstig en Godvrugtig. “God het ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil. 1:29).


“Om jou kruis op te neem en Jesus te volg, is nie ‘n eenmalige heldedaad nie. Dit is ‘n lewenslange volgehoue doen van klein dade van liefde en opoffering wat dikwels vir ons heel onsmaaklik is” (John Henry Newman).


Gebed: Dankie Here dat ek weet dat U Gees wat in my woon, magtiger is as die gees van die wêreld. Dankie God van hemel en aarde, dat ek kan vashou aan U beloftes wat ewigheidswaarde het. Dankie Jesus dat ek ‘n lewe saam met U kan hê, al is dit nie ‘n probleemlose aardse lewe nie, maar U maak die lewe vir my egter ‘n oorwinning oor my probleme. Dankie o Gees dat U by my is, nie om my van ‘n gemaklike lewe te verseker nie, maar juis om my in moeilike tye by te staan. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page