Gedagte vir Vandag

18 Nov 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

JESUS KONDIG DIE TWEEDE KEER SY DOOD EN OPSTANDING AAN

(Mark. 9:30-32; Luk. 9:43-45)

‘N SAK VOL HOOP TEN SPYTE VAN HARTSEER!


Matt. 17:22-23 – “Toe die dissipels weer in Galilea bymekaar was, het Jesus vir hulle gesê: ‘Die Seun van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense, en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.’ Hieroor het hulle baie bedroef geword.”


In die eerste lydensaankondiging (Matt. 16:21-23), het Jesus verklaar dat Hy die lyding “móét” ondergaan. Dit is ’n Goddelike beskikking. In hierdie tweede lydensaankondiging sê Hy dat die “Seun van die mens oorgelewer gaan word.” Jesus het die Goddelike beskikking aanvaar as die weg wat Hy bereid is om uit eie verkiesing te gaan. Hy “gaan in die hande van mense oorgelewer word” en soos ’n magtelose gevangene, die diepste vernedering ondergaan. Dit het baie swaar op Jesus se hart gelê, maar Hy het ook geweet daar is geen omdraaikans nie.


Matteus skryf vir ons dat die dissipels, “baie bedroef geword het.” Hulle kan nog nie begryp dat die Messias verwerp gaan word nie, maar dat hulle baie bedroef geword het, wys dat hulle nou uiteindelik erns met Jesus se lydensaankondigings begin maak het. Markus skryf dat hulle nie die aankondiging van Sy lyding en opstanding kon verstaan nie, “maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra” (Mark. 9:32). (Hulle het dalk onthou wat met Petrus die vorige keer gebeur het toe hy teëgestribbel het, daarom bly hulle uit respek uit, liewer stil.)


Jesus praat die tweede keer met sy dissipels oor Sy naderende lyding, dood en opwekking. Dit beteken dit lê swaar op Sy hart. Hulle verstaan nie die omvang van Jesus se woorde nie. Hulle kyk nog net teen die donker van die dood vas.


Is dit nie vir ons wat ná die kruis leef, steeds ook die geval nie? Daar is ten minste twee dinge wat elke mens op aarde moet meemaak – almal moet sterf en almal moet voor God se Regterstoel verskyn. Dit is twee dinge wat meeste mense beangs laat, en veral vrees vir die dood, ontstel. Ontsteltenis en vrees vir die dood is ‘n universele probleem want dit bly vir ons ‘n misterie. Elkeen van ons moet alleen hierdie onafwendbare misterie binnegaan en alhoewel gelowiges met God vrede het, neem dit nie die vrees weg nie. Ons bly bang, hoe gaan dit wees? Wat wag op ons ná die dood?


Niemand wil daaroor praat nie, dit is té morbied, dit bring ontsettende hartseer en pyn vir die geliefdes. Niemand beplan eintlik om dood te gaan nie maar eerder om te lewe. “Here, hoe nou? Ek is in die bloeitydperk van my lewe en hierdie terminale siekte is moeilik om te aanvaar en só onregverdig! Here, ons het só gespaar en nou met ons aftrede wou ons toer, met ons kleinkinders speel, ons lewe geniet maar nou het my jarelange wederhelf gesterf en al ons planne daarmee saam!” Dit klink só bekend! Maar, gelukkig kom die dood eers by die einde van ons lewe ingestap. Al probleem is dat ons nie lekker weet wanneer dit die einde van ons lewe is nie, want dood kan enige tyd van ons lewe sy opwagting maak.


As ek eerlik moet wees, is ek effe bang vir die dood. En eintlik behoort dit nie so te wees nie, want Christene moet mos nie bang wees nie. Tog het ons ’n vrees vir die onbekende. Ek weet waarheen ek gaan. Maar as ’n mens nie iets ken nie en nog nie daar was nie, is daar mos maar ’n tikkie onsekerheid. Gelukkig hoef ons gelowiges ons nie te kwel oor die lewe hierna nie. Ons kan dalk bietjie bang wees vir die onbekende, maar vir die lewe hierna het ons ’n sak vol hoop. Paulus bevestig dit: “Moenie onkundig wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie” (1 Tess. 4:13).


Jesus kom en sê vir ons gelowiges: “Julle moet nie ontsteld wees nie, Ek gaan om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3). Jesus sê eintlik vir ons dat die dood nie ‘n probleem is nie. Hy sê dit so terloops, asof ons sommer so vinnig verby Sy dood moet gaan, en na die voltooide prentjie moet kyk.


Ons gelowiges wat ná die kruis leef, verstaan en glo wat op Paassondag gebeur. Vir God is die dood nooit 'n tragedie nie, daarom het daardie Verskriklike Vrydag in Goeie Vrydag verander. Deur ons na Sy huis te neem wanneer ons sterf, doen God maar net wat enige pa sou doen – Hy voorsien aan ons 'n beter plek om te wees en te rus, 'n plek wat ons Broer, Jesus, vir ons voorberei het. Ons moet Hom vertrou dat Hy nie slegs doen wat die beste is nie, maar ook met die gedeelte van die lewe waarvoor ons heel waarskynlik die bangste is.

Dit neem nie die hartseer weg nie, dit neem nie die ontsettende gemis weg nie. God wat Skepper van alles is, wil hê dat ons hierdie lewe moet geniet en voluit leef, tog is ons in ‘n sekere sin vreemdelinge op aarde omdat ons pelgrimsreisigers is op pad na ons ewige tuiste. Daarom sê Jesus ons moet nie ontsteld wees nie, en ook nie nodig om hartseer te bly nie, want die dood is nie die einde nie, dit is eintlik deur God se genade, die begin! Lewe só dat die mense wat hartseer is, hartseer is omdat daar nou ’n gat in hulle lewe is en nie omdat hulle nie weet waarheen jy gegaan het nie. Lewe ’n lewe van hoop, want ons sit met ’n enorme sak vol hoop vir die lewe hierna!


“Gelowiges kyk na die dood soos Columbus sy eerste ontdekkingsreis aangepak het: Hy kon nie sê wat anderkant die onbekende see lê nie, maar hy was seker God het ook ‘n kus geskep”

(Harry Fosdick).


Gebed: Here, skenk my die geloof en krag om deurgaans op U te vertrou. Dankie dat U verseker het dat die dood nie iets is om oor te vrees of ontsteld te raak nie, want U het vir ons gaan plek berei. Ek hou krampagtig vas aan die bekende want ek is bang vir die onbekende, maar dankie dat U vir my deur u Gees, my die groter prentjie laat sien. Selfs terwyl ons daagliks gekonfronteer word met die dood, kan ek as Christen saam met Paulus prewel: “Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil. 1:21). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.