top of page

Gedagte vir Vandag

17 Nov 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

JESUS MAAK ‘N SEUN GESOND (3)

(Mark. 9:14-29; Luk. 9:37-43)

GELOOF IN BEPROEWING!


Matt. 17:19-20 – “Die dissipels het toe alleen na Jesus toe gekom en gevra: ‘Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?’ ‘Omdat julle geloof te klein is,’ sê Hy vir hulle. ‘Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ En hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”


Wanneer die dissipels weer alleen saam met Jesus is, vra hulle waarom hulle die bose gees nie kon uitdryf nie. Jesus se antwoord is nou sagter, en skryf Hy dit toe aan hulle kleingeloof. In Markus se evangelie voeg Jesus by dat gebed nodig is om suksesvol te kan wees (Mark. 9:29). Daarmee wys Jesus hulle daarop dat geloof nooit selfgerig is nie, m.a.w. hoeveel geloof ek binne-in myself het of nie het nie. Geloof is Christus-gerig. Hoe meer ek op Hom in afhanklikheid fokus, hoe meer verwag ek van Hom. Dit is dan wanneer ek berge voor my sien opdoem en Hom vertrou om daardie berge te verskuif. ‘n Goeie voorbeeld is dat Jesus hulle voorheen tydens die storm op see (Matt. 8:20), ook daarop attent gemaak het dat hulle kleingelowig is. Hulle het op die storm gefokus in plaas van op Hom wat by hulle in die skuit was.


Jesus gebruik hierdie vergelyking om te verduidelik dat geloof nie in grootte of hoeveelheid gemeet word nie, maar hulle en ons gerigtheid op Hom. Hulle het misluk in die fisiese afwesigheid van Jesus deurdat hulle nie in die geloof vas gestaan het nie en te gou moed opgegee het toe die bose gees nie onmiddellik uit die seun gegaan het nie. Hulle het na Jesus se mening, alhoewel hulle nie ongelowiges was nie, nie die geloof van ‘n mosterdsaad gehad deur vas te hou aan hulle verbintenis met God nie. Klein of min geloof kan steeds reddende geloof wees. Deur ‘n bietjie vas te hou aan God en ‘n bietjie vas te hou aan eie vermoëns, is nie geloof nie. Dit gaan hier ook nie om die mag van geloof nie maar om die almag van God.


Dit is nie ‘n volmaakte geloof of sterk en groot geloof wat byvoorbeeld gaan bydra dat ons gelowiges die ewige lewe verkry nie, maar ‘n geloof wat selfs net so klein soos ’n mosterdsaadjie kan wees. Dit is duidelik dat kleingeloof hier nie soseer “geloof wat klein” is aandui nie, maar eerder “geloof wat swak, oneffektief, gebrek aan geloof” is. Dit help nie om Jesus as Here te bely, maar tog in sy afwesigheid nie volledig op Sy mag te vertrou nie – ons meet dit in gerigtheid op Hom, nie in grootte nie. Ware reddende geloof is dus om totaal weg te kyk van onsself en in gebed ons hoop op Christus te vestig om ons te red, te bewaar, die berge rondom ons te verskuif en ons gelowiges uiteindelik die hemel in te dra.


Hoekom ontbreek hierdie geloof ons dan so dikwels? Misluk ons nie in ons roeping as gelowiges van Jesus omdat ons nie regtig vashou aan Hom nie? Is ons vertroue eksklusief op Hom gerig? Is ons vir ons normale lewe in al sy vorme, uitsluitlik aan Hom verbind? Ek het altyd gedink dat my geloof in God my eie toedoen is. Ek moet kliphard Sy Woord bestudeer en soveel as moontlik van die waarheid indrink om my geloof in Christus sterker te maak. Maar ek weet nou dat dit nie net van my afhang nie. Dankie tog, want op my eie sal ek dit nie maak nie. Ons geloof is die gevolg van die Gees se werk in ons lewens. “Ons is gered deurdat die Gees ons vir Hom afgesonder het en deurdat ons die waarheid glo” (2 Tess. 3:13b). Geloof het ‘n intieme gebedslewe met God nodig, dit is nie op myself gerig nie!


Die werk van die Gees is om ons te help op die pad van heiligmaking. As ons vir Jesus in ons lewens innooi, is ons ongelukkig nie ewe skielik heilig nie. Dis ’n lang pad, ’n lang proses waardeur ons moet gaan. Dis ’n groeiproses waarin ons leer hoe om al hoe meer heilig te lewe, m.a.w. ons raak stukkie vir stukkie van die gemors van die wêreld ontslae sodat ons meer en meer soos Jesus lyk. Geloof begin klein en groei deur die verloop van ons lewe. Geloof ken; dit het lief; dit vertrou; geloof doen en groei. Iemand het gesê: “God is so ver van jou af as wat jou knie van die grond af is,” dan word alle dinge vir die geloof moontlik. Dít is die soort geloof waardeur ons God se genadegawe van die ewige lewe ontvang. Hoe lyk jou geloof? Hoe na aan die waarheid is jy? Hoeveel ruimte is daar vir die Heilige Gees om in jou te werk?


“Elke gelowige klou te midde van sondes, in dood en ellende aan Christus vas met ‘n geloof wat swak is. En tog red geloof, hoe klein ook al, ons, heers dit oor die dood en vertrap dit die duiwel onder sy voete” (Martin Luther).


Gebed: Hemelse Vader, ek wil U kom loof vir die gawe van geloof. Dankie dat U self geloof, deur u Gees in my hart gewerk het. Dankie dat ek in die waarheid kan glo, wat moontlik gemaak word deur die Heilige Gees se gewoel binne my. Here, help my asseblief om in U te bly glo al is dit hoe donker rondom my, aan U beloftes vas te hou al word nie een daarvan waar nie. Help my om my geloof uit te leef in alles wat ek doen en sê, dat ek sal glo in U belofte dat alles moontlik is deur geloof, al is dit maar so groot soos ‘n mosterdsaadjie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page