top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 19 Januarie 2022

Koos Espach


Jesus word gekruisig – Die Via Dolorosa (3)


Jesus het Sy wil prysgegee om my en jou te red


Joh. 19:17 – “Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.”


Die begrafnisstoet beweeg verder op die Via Dolorosa. Jesus se tog word al hoe moeisamer. (Die Evangelies verwys na Jesus se kruis wat Hy moes dra, die hele kruis {stauros} en nie net die dwarsbalk {patibulum} nie). Die smal straatjies is gepak van feesgangers. Jerusalem is tot oorlopens toe gevul met pelgrims wat die paasfees kom bywoon het. Dit het Jesus se vernedering sóveel erger gemaak. Meeste van hierdie feesgangers het ‘n paar dae gelede “van hulle klere op die pad oopgegooi, ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi terwyl hulle uitroep: ‘Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom, die Koning van Israel!” (Matt. 21:8-9; Joh. 12:13). Maar hulle lofprysinge het nou verander in snedige aanmerkings.


In die stoet volg die Fariseërs, die Joodse leiers en owerpriesters wat Jesus aangekla het. Hulle is verskriklik opgewonde. Uiteindelik het die volk, “die hele wêreld wat agter hom aangegaan het” (Joh. 12:19), teen die Man van Nasaret gedraai. Uiteindelik kan hulle van hierdie godslasteraar wat homself die “Seun van God” noem, ontslae raak. Hoe gouer hoe beter. Hy wóú mos die volk teen hulle opsweep en hulle in onguns bring! Hy het nou sy verdiende loon gekry, niemand meng in met die Joodse leiers en kom daarmee weg nie! Ironies beïndruk die heidense praktyk van kruisiging, hulle ook nie. Voorheen sou hulle nie met heidene, of onbesnedenes, meng nie (Hand. 11:3), maar nóú stem hulle saam met hierdie heidense praktyk van hulle heersers wat hulle só haat, al is dit een van hulle volksgenote wat só grusaam moet sterf.


En deel van die skare wat langs die Via Dolorosa staan en toekyk, is ons sondaars. Besig om Sy lyding en vernedering nóg moeiliker te maak, saam met die feesgangers en handelaars snedige aanmerkings toesnou, op Hom spoeg en miskien nog ‘n klap inkry om darem net te wys ons stem saam met die heidense praktyke. Satan en sy bose makkers staan moontlik ook daar terwyl hulle met ‘n hoonlag die omstanders verder pols: “Is dít hoe ‘n koning lyk, die Verlosser van die wêreld?”


Jesus het aarde toe gekom en volkome mens kom word, maar Hy het ook God gebly! Hy moes só die lydingspad van God, as mens kom stap sodat Hy volkome medelye met ons in ons menslike swakheid kon hê. Elke keer wanneer ons struikel op ons daaglikse “via dolorosa”, bevestig Jesus wéér, dat Hy reeds die pad van menslike lyding vooruit geloop het. Hy was reeds daar, sodat Hy vir ons, genade na liggaam en gees kan gee om vandag ons kruis te kan dra. Hy het geweet dat ons in ons mensheid nie alleen ons “via dolorosa” sal kan loop nie, of ons kruis sal kan dra nie, daarom gee Hy ons die Heilige Gees, wat by ons, en in ons kom woon het, om juis die krag van God in ons te ontsluit en ons in staat te stel om énige kruis te dra.

Die toeskouers bestaan vandag nog, mense wat koud langs die “kantlyn van geloof” in Jesus Christus staan; mense wat dalk op ‘n stadium saam met die vrouens van Jerusalem, Jesus gevolg het, maar later deel geword het van dié wat Hom verwerp het; mense wat daagliks wys dat Jesus nie eintlik belangrik is nie; mense wat vergeet het dat Jesus, ons sondaars, met God weer kom versoen het; mense wat ‘n klemverskil of “veranderinkie” aan die evangelie wil bring om húlle sienswyses te bevredig; mense wat dan leringe van hul leiers en nie die leringe van die Evangelie, aanhang; mense wat nie die verskil raaksien tussen sielkundige manipulasie en die ware geloof in Jesus Christus behou nie. Dit alles, is deel van die vyandskap met Jesus se kruis! In watter kategorie val ek en jy – toeskouer of kruisdraer?


“Lig maar jou vuis vir Hom, spoeg selfs in Sy gesig; gésel Hom maar met jou woorde en verwyte; kruisig Hom met jou gedagtes. Waarom maak dit vir Hom saak? Mense het dit mos aan Hom gedoen. En Hy het daar opgestaan en aangehou om ons lief te hê!” (George Bernanos).


Gebed: Here, ek buig in diepe nederigheid voor U wat die pad van die kruis gekies het om my te verlos. Vergewe my wanneer ek koud staan teenoor U opofferinge, wanneer ek my eie koninkrykie wil behou. Ons Here van die waarheid, bewaar my van alles wat vals is. Help my om die magdom skatte in U skatkamers te ontdek. Here, verlig my verstand, my begrip en my hart om standvastig in U Waarheid te bly. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page