top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 14 Januarie 2022

Koos Espach


Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word (8)


Jesus neem volle verantwoordelikheid vir ons sondes


Matt. 27:24-25 – “Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: ‘Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.’ Toe antwoord die hele volk: ‘Ons aanvaar die verantwoordelikheid vir sy bloed, ons en ons kinders!”


Joh. 19:14b-16 – “Hy sê toe vir die Jode: ‘Hier is julle koning!’ Maar hulle skreeu: ‘Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!’ Toe vra Pilatus vir hulle: ‘Moet ek julle koning kruisig?’ Die priesterhoofde antwoord: ‘Ons het nie ‘n koning nie, ons het net die keiser.”


Die Jode is rasend van haat teen Jesus en beslis nie in ’n luim om verder met Pilatus te redeneer nie. Hy besef dit en speel veilig. Hy verplaas sy verantwoordelikheid op die Jode. “Hy is onskuldig aan Jesus se bloed” en indien die oproer handuit ruk, is dit beter dat net een man sterf in plaas van honderde. Dit was ’n bekende Joodse gebruik om hande te was as ’n teken van onskuld (Deut. 21:6-9). Tog verskoon dit Pilatus nie, al suggereer hy dat die Romeinse reg nie aan onreg aandadig is nie en die onus volledig op die Joodse leiers en volk rus. Pilatus laat toe dat die skare hom manipuleer en hy lewer Jesus oor om gekruisig te word, sonder ‘n formele verhoor of skuldigbevinding en ten spyte van alle aanduidings, dat Jesus onskuldig is of enige skuld teen Hom ingebring, of bewys kon word!


Die Jode weier om die Seun van God wat na die wêreld gekom het, te erken en as koning te aanvaar. Die mense se woede is so opgesweep teen Jesus dat hulle ’n uitspraak doen wat strydig is met hulle staatkundige aspirasies. Hulle sien uit na die dag wanneer die Romeinse juk van hulle afgegooi sal word en weier volstrek om hulle onvoorwaardelik aan die keiser te onderwerp. Maar nou verklaar hulle ewe vroom dat hulle “nie ’n koning het nie, net die keiser.” In werklikheid is dit die waarheid: hulle het die heerskappy van God verwerp en hulle geskaar by die keiser in die stryd teen Christus.


Die gruwel van die geval is dat dit juis die godsdienstige leiers van die volk was wat die voortou geneem het teen Hom wat gekom het om al die Skrifte in vervulling te bring, en in die Messiaanse sin, die Koning van die Jode wás. Om die volk se verantwoordelikheidsin nog meer te vertroebel, besef hulle nie die omvang en diepte van hulle woorde dat “hulle en hulle kinders die verantwoordelikheid aanvaar vir Jesus se bloed” nie. Dit het ongelukkig ook later in die geskiedenis die rede vir herhaaldelike weerwraak op die Jode en ‘n anti-Joodse gevoel geword wat natuurlik heeltemal teenstrydig is met Jesus wat self gesê het dat Sy bloed “vir baie – ook die Jode – vergiet word tot vergewing van sondes” (Matt. 26:28).


Dieselfde Joodse skare wat ‘n paar dae gelede vir Jesus, tydens Sy intog in Jerusalem, met groot opgewondenheid ‘n helde-ontvangs gegee, toegejuig en liedere gesing het en as die Koning en Messias geprys het, se gesindheid van vriendelikheid het nou vinnig verander na moordlustigheid – ‘n tragiese verandering en keuse! Hulle “verander” Pontius Pilatus se beslissing van ‘n “Man wat onskuldig” is na die “Seun van God” wat gekruisig moet word. Pilatus het geweet dat hy verkeerd doen maar sou eerder sy God en Skepper kruisig, laat vermoor, as om te ly terwille van wat reg en eerbaar was. (Ek wonder of hy later vrede gevind het deur die Bloed van die Man wat hy laat vermoor het, of probeer hy tot vandag toe nog om Sy bloed van sy hande afgewas te kry?)


Baie mense tree vandag presies dieselfde op. Hulle sal eerder hulle eie belange beskerm, as om te doen wat reg is voor God. Dié wat nougeset die smal paadjie bewandel, verbeur bevordering of word selfs uit hulle poste geskors. Maar wat van jou en my? Is ons bereid om die regte ding te doen en die gevolge te dra? Sien ons nie dalk ‘n weerkaatsing van Pilatus wanneer ons in die spieël kyk en dalk ook sê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie Man. Dit is julle verantwoordelikheid” nie? Hoeveel keer ontken ons aanspreeklikheid vir wat ons verkeerd doen en verkies om die skuld op ander te laai?


In hierdie omstandighede het Jesus nie by Pilatus om genade gesmeek nie, inteendeel, Hy het stil gebly want Hy het geweet, God bly altyd in beheer. Selfs ook wanneer Pilatus Jesus oorgee om te sterf. God het nie beheer verloor oor die wêreld nie, ook nie oor ons lewe nie. Hy word ook nie onkant ontvang deur ons sondes nie. Hy was daar toe sy Seun oorgelewer is, en is vandag nog steeds ook by ons. By die Here het ek en jy altyd ‘n oop deur. Hy skryf graag ons sondes af wanneer ons ekskuus vra. Die bloed van Jesus het al ons oortredings bedek. Dankie tog daarvoor, by Sy troon wag oorvloedige genade vir ons.


“Al kry ons nie alles wat ons graag wil hê nie, kan ons steeds dankbaar wees dat ons nie alles kry wat ons verdien nie” (Anoniem).


Gebed: Ag Here, dankie dat U genade vir my ook beskikbaar is. Ek loof U dat dit altyd verniet is. In nederigheid en dankbaarheid buig ek voor U wat deur so baie verag en verwerp is. U is my Koning en Verlosser. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page