Gedagte vir Vandag

4 Nov 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

JESUS MAAK ‘N SEUN GESOND (1)

(Mark. 9:14-29; Luk. 9:37-43)

‘N LEWENDE GELOOF IS NOODSAAKLIK!

Matt. 17:14-18 – “Toe hulle weer by die mense kom, het ‘n man voor Hom kom kniel en gesê: ‘Here, ontferm U tog oor my seun, want hy is geestelik versteurd en hy ly verskriklik. Hy val dikwels in die vuur en dikwels in die water. Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.’ ‘Ongelowige en ontaarde geslag,’ het Jesus gesê, ‘hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank nog moet Ek julle verdra? Bring hom hier vir My!’ Jesus het die duiwel skerp aangespreek, en die duiwel het van die seun af weggegaan. Van daardie oomblik af het die seun gesond geword.”

Na die hemelse ondervinding op die berg, keer Jesus, Petrus, Johannes en Jakobus terug na die vlakte van aardse ellende, die harde werklikheid van die lewe. Wanneer Hy en die drie dissipels weer by die ander nege aansluit, is daar ‘n skare mense wat verras is om Jesus weer te sien en Hom terug verwelkom (Mark. 9:15). Uit die skare tree ‘n man na vore en kom kniel voor Jesus met die versoek dat Hy tog sy seun sal genees. Die seun is blykbaar “maansiek”, wat die primitiewe opvatting van ’n verband tussen die maan se stand en die siekte aandui. Sommige simptome herinner aan epilepsie. Tog is daar ook van duiweluitdrywing sprake. Hoewel die dissipels reeds volmag tot genesing en duiweluitdrywing van Jesus ontvang het (Matt. 10:1, 8), meld die pa dat die nege dissipels wat nie saam op die berg was nie, “hom nie gesond kon maak nie.”

Jesus reageer dan baie vreemd en klink ongeduldig en selfs kwaad. Hoekom? Hy was moontlik gefrustreerd oor die ongeloof van die skare en veral Sy dissipels. Hy is nou al hoe lank by hulle en het al soveel wonders gedoen en tog kom Sy boodskap nie tuis nie. Ons moet egter onthou dat Jesus op pad is om na Jerusalem te beweeg vir die voltooiing van Sy eintlike opdrag – Sy sterwe aan die kruis. Die gedeelte moet teen daardie agtergrond gesien word en hierdie gebeure is bedoel om Sy dissipels in die besonder toe te rus vir wat op hulle wag wanneer Hy nie meer by hulle gaan wees nie. Hierdie genesing is 'n verdere toets van hulle geloof, en hulle het gefaal! Hulle het 'n gulde geleentheid gehad om die deurwerkende krag van die geloof wat hulle deur God se genade ontvang het, teen hierdie tyd te openbaar. Maar hulle geloof is daarenteen, nog wankelrig en hulle huiwer voor die skynbaar onmoontlike.

Ten spyte van Jesus se frustrasie en Sy eie leed van die kruis wat wag, sit Hy die stryd teen die lyding van die mens en die magte van Satan onmiddellik voort en vra Jesus, dat hulle die seun na Hom moet bring. Met ‘n enkele woord spreek Hy die bose gees aan en “van daardie oomblik af het die seun gesond geword.” (Dit is opmerklik dat Matteus baie minder oor die wondergenesing sê as Markus (9:14-29) en Lukas (9:37-43). Matteus wil die fokus lê op ongeloof en kleingeloof, hulle onmag om die seun gesond te maak en die rede daarvoor.)

Die drie dissipels wat saam met Jesus op die “berg van verheerliking” was en die wonderlike belewenis daar kon ervaar, is seker ook met ‘n slag teruggebring na die realiteit van die werklikheid van die lewe. In ons eie bergtop-evarings is dit maklik om te glo terwyl ons naby die Here is, maar sodra ons met die realiteit van die “vallei” van die lewe gekonfronteer word, daar waar dinge nie mooi of opwindend is nie, taan die geloof. Dit is juis op die plek van vernedering, soos vir die nege dissipels, waar ons vind watter waarde ons werklik vir die Here het – dit is waar ons getrouheid tot openbaring kom.

‘n Lewende geloof is noodsaaklik in die wêreld waarin ons lewe. Wanneer alles om my en jou in duie stort, moet ons geloof vas staan – ‘n geloof wat nie net op die kruin van ons bergtop-ervarings voorkom nie, maar veral onder in die sleurgang van die vallei waar dinge soms rof en donker is. Dit is dán dat ons onwrikbaar moet glo dat die wêreld nog aan God behoort: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here” (Ps. 24:1). Opregte geloof is die oortuiging dat my begeertes moontlik is, selfs ‘n middel is teen vrees, en ek met vertroue kan bely dat God ons lewe in Sy hand het, al is Hy nie fisies by ons nie en kan ons Hom nie sien nie. “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” (Heb. 11:6).

“Al wat ons nodig het, is ‘n gelowige hart. God sal ons as’t ware aan die hand lei – Daarom moet ons meer konsentreer op ons liefde vir Hom as op ons vrees vir mislukking” (Francois Fénelon).

Gebed: Here, U roepstem is ‘n uitdaging vir my om in geloof te wandel, veral wanneer die onbekende op my pad kom. Terwyl ek op die bergtop is, is dit maklik om te glo, maar wanneer ek met die realiteite van die vallei gekonfronteer word, raak ek skepties. Help my om die wedloop van geloof met volharding te voltooi, my oë gerig op U, Jesus, ons Leidsman en Voleinder van ons geloof. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.