top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 11 Januarie 2022

Koos Espach


Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word (5)


Kom ons leer by Jesus wanneer om eerder stil te bly


Joh. 19:10 – “Pilatus sê toe vir Hom: ‘Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”


Pilatus het onverskillig gestaan teenoor die waarheid wat Jesus verkondig en daarom praat Jesus nie verder met hom nie. Jesaja het reeds ongeveer sewe honderd jaar vantevore oor hierdie stilswye van Jesus geprofeteer: “Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jes. 53:7). Pilatus was verbaas (Matt. 26:14), dalk verbouereerd, hy draf heen en weer. Dan is hy buite by die gepeupel, dan terug by Jesus. En vir iemand wat onskuldig verhoor word, het Jesus maar min te sê. Jesus het dertig jaar gewag voordat Hy in die openbaar begin praat het. En daarna het Hy slegs vir ongeveer drie jaar lank ‘n openbare bediening gehad.


Tydens Sy bediening het Jesus die skares onderrig, gelykenisse vertel, vrae gevra, die “woorde wat God aan Hom gegee het, het Hy aan die mense wat die Vader aan Hom gegee het, bekend gemaak (Joh. 17:8), maar tydens Sy verhoor bly Hy stil. Hoekom? Kom ons leer by Jesus. Jesus was nie net magtig wanneer Hy gepraat het nie, Hy was ook magtig in Sy stilswye! Dit was nie die eerste keer dat Jesus stilgebly het nie. Hy het stilgebly nadat Hy gehoor het die Fariseërs verkondig dat Hy meer dissipels maak en doop as Johannes die doper. Hy het nie probeer om te verduidelik dat Hy groter is as Johannes nie, maar die probleem op te los deur Sy stilswye, eerder Hom uit die situasie onttrek het en teruggegaan na Galilea toe (Joh. 4:1-3).


Jesus se reaksie op die vraag van die skrifgeleerdes en Fariseërs toe hulle die vrou wat op owerspel betrap is, na Hom toe bring, was om te swyg en met Sy vinger op die grond te skryf. Dit is moeilik om te luister as daar lawaai is. God praat in die stilte; God praat met ons deur Sy Seun (Heb. 1:1-2). Sy Seun wag vir die regte moment om te praat: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi” (Joh. 8:7). Jesus leer ons dus dat dit dikwels beter is om nie te antwoord nie, maar te wag, te onttrek sodat ander nie deur ons optrede of antwoord, seer kry nie en sodoende satan die kans gee om die situasie uit te buit!


Jesus het vir Johannes, Jakobus en Petrus opdrag gegee om stil te bly oor Sy verheerliking op die berg (Matt. 17:9). Jesus se swye voorbeeld wil ons leer dat ons “Bergtop-ervarings” met Hom, nie tot hoogmoed en selfverheffing moet lei nie, maar om ons te versterk. Iemand het eendag gesê: “Jesus died for you in public so don’t live for Him in private.” Wat ons egter moet onthou is dat dit nie oor ons gaan nie, maar oor Hom wat ons stuur. Dit is maklik om die mens te verheerlik en meer aan die mens toe te skryf as wat nodig is – “Al sou ek wou roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie” (2 Kor. 12:6).


Jesus het geswyg oor Judas, Sy verraaier (Matt. 26:21-23); Jesus wag vir God se tyd om te praat; Jesus swyg te midde van vals beskuldigings en verskriklike verontregting tydens Sy belaglike verhoor, want Sy stilswye is uit God gebore. Vir duisende jare het Hy gewag – eers toe God se tyd daar was, het Jesus gepraat. Selfs toe het Hy net gesê wat nodig is en net dit wat Hy by God gehoor het: “Hy sal niks uit sy eie doen nie maar net verkondig wat die Vader Hom geleer het” (Joh. 8:28b).


Wag ons vir God om te praat voor ons dinge sê wat dalk kan seer maak en volg ons Jesus se voorbeeld? Jesus het gesê die Heilige Gees sal ons leer – wanneer die tyd daar is sal die Gees vir ons sê wat om te doen. Veral in ons donker tye, moet ons stilbly en wag totdat God met ons praat. Wag en luister, vertrou op die Here, op die regte tyd sal Hy met ons praat. Wanneer Jesus swyg, verstaan ons nie altyd nie, maar wanneer Hy praat, is dit ‘n wonderwoord wat ons verbaas en swygend voor Sy alomteenwoordigende en allesdeurdringende liefde laat staan. Kom ons leer by Hom. Ek en jy moet praat wanneer ons iets het wat die moeite werd is om te sê. “Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd” (Spr.25:11).


“Swye is die groot kuns van gesprekvoering. Die mens wat weet wanneer om sy mond te hou, is geen dwaas nie” (William Hazlitt).


Gebed: Here, gee vir my ore om te hoor wanneer U aanhou om met my te praat. Skenk vir my ‘n hart om te vertrou en hande om vir U te werk. Neem weg die versoeking om my eie planne te maak en U planne eers later te volg. Werk in my lewe deur U Gees sodat ek U voorbeeld van stilswye, waar en wanneer dit nodig is, kan toepas. Ek wil graag die voorbeeld van stilswye wat U aan ons nagelaat het, kenmerkend van my lewe maak. Ek kan dit alleenlik uit U genade en krag doen. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page