top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 10 Januarie 2022

Koos Espach


Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word (4)


Swyg ter wille van my en jou


Joh. 19:7-9– “Die Jode sê toe vir hom: ‘Ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.’ Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: ‘Waar kom jy vandaan?’ Jesus het hom egter nie geantwoord nie.”


Dit het reeds geblyk dat Pilatus, ten spyte van sy veragting vir die Jode, tog vir hulle bang was omdat hulle al deur klagte by die keiser, die ontslag van hulle regeerder verkry het. Uit ondervinding met die Jode het hy geweet dat hulle geloof in een God en hulle ywer vir die eer van daardie een God, goed in berekening gebring moes word deur hom. In hierdie mening sou Pilatus gesterk kon gewees het deur Jesus se koninklike houding ten spyte van die smaad en pyn wat Hom wederregtelik aangedoen is. Pilatus wou moontlik probeer vasstel of Jesus wel miskien ’n godheid in menslike gestalte is daarom die vraag “waar Hy vandaan kom?” Jesus het egter reeds verklaar dat Hy “na die wêreld toe gekom het” om van die waarheid te getuig, maar Pilatus het onverskillig gestaan teenoor die waarheid wat Jesus verkondig. Daarom praat Jesus nie verder met hom nie.


Dit krenk Pilatus dat Jesus nie met hóm wil praat nie. Hy is immers die goewerneur en beskik oor die gesag wat deur ’n “mens” soos Jesus, geëerbiedig moet word. Die beslissing om Jesus los te laat of om te laat kruisig, berus by hom en nie by iemand anders nie. In die laaste woorde ná die géseling wat Jesus tot Pilatus rig, wys Hy op die herkoms en aard van die gesag en mag waaroor Pilatus, die verteenwoordiger van die staatsgesag, beskik. Daardie gesag is nie iets wat ’n ampsdraer uit eie vermoë of status besit nie. Dit word aan hom “van Bo” gegee. God is die Beskikker oor alle dinge en Hy verleen gesag aan owerhede sodat hulle die onreg en sonde in bedwang kan hou en daarom moet Pilatus hom nie aanmatigend verhef nie, maar bewus wees van die verantwoordelikheid wat aan hom gegee is, en sy ampspligte volgens wat reg is, uitvoer.


Pilatus was dus gebonde aan die karakter van sy amp en behoort sy gesag daarvolgens te gebruik. As hy enigsins op ’n regverdige wyse die reg toepas, doen hy sy plig. Tog dra hy skuld ten opsigte van die verhoor van Jesus. Die rol wat Pilatus dus speel – gesien vanuit die reg en die regverdigheid wat moes heers – was gevul met korrupsie en onreg. Hy tree net ter wille van sy eie belange op. Vir hom is Jesus net nóg ʼn Jood wat in onguns by sy volksgenote is. En as die veroordeling van Jesus die Jode tot bedaring gaan bring en sy goewerneurskap sal bestendig, dan sal hy maar toegee aan die priesterhoofde en Jode se wense.


Jesus was in Sy aardse lewe nie geïntimideer deur mense se aanspraak op gesag nie. Hy het geweet wat gesag beteken en dat dit nie aan die mens gegee word sonder die outoriteit van God nie. “Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” (Rom. 13:1b). Gelukkig vir ons as Christen-gelowiges, is selfs Jesus se swye ‘n “wonderwoord.” Met ‘n enkele magswoord kon Hy die natuur beheer (Matt. 8:26b); selfs die dood ooppraat (Joh. 11:43); maar nou hier voor Pilatus, raak Hy stil, want ons gelowige sondaars was in Sy gedagtes.

Wanneer Jesus Christus as Middelaar en Verlosser voor die regterstoel van Pilatus staan, staan Hy nie daar om Homself te verteenwoordig nie. Hy staan daar in die plek van al die mense wat sy “Vader aan Hom gegee het, vir wie Hy nooit sal verwerp nie” (Joh. 6:37). Hy staan daar in die plek van elkeen wat “met sy mond bely dat Jesus die Here is, en met sy hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, wat gered sal word” (Rom. 10:9). Jesus swyg voor Pilatus want Hy weet Hy staan daar in die plek van my en jou, sodat ons nou vry van die oordeel van God is en nooit die oordeel van God hoef te vrees nie.


“Dit is goed om soms stil te bly. As jy dán wil praat, praat met God vóór jy met ander praat, daar is geen beter tyd wanneer jy God ontmoet voordat jy mense ontmoet” (William Dobbie).


Gebed: Alomteenwoordige Gees, help my om Jesus se swye te verstaan. Laat dit ook kenmerkend wees van my lewe want dit is in stilte dat ek verstandelik en liggaamlik kan groei en in guns by God toeneem (Luk. 2:52). Dit is slegs in stilte waar ek ware intimiteit met God kan ondervind. Dankie vir U genade. Dankie vir elke oomblik se stiltetyd wat ek in U teenwoordigheid kan wees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page