top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 7 Januarie 2022

Koos Espach


Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word (3)


Dit is die mens!


Joh. 19:4-7 – “Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: ‘Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie. Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: ‘Dit is die mens!’ Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: ‘Kruisig hom! Kruisig hom!’ ‘Vat júlle hom en kruisig hom,’ sê Pilatus vir hulle, ‘want ék vind geen skuld in hom nie.’ Die Jode sê toe vir hom: ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”


Al is Pilatus oortuig van Jesus se onskuld en verklaar hy as regter dat Jesus onskuldig is, laat hy Hom nie vry nie, en stel hy Hom nou in die hande van die Jode. Hulle moet die besluit oor Jesus neem. Hy bring Jesus te voorskyn, nog getooi soos ’n spotkoning en Sy liggaam verbrysel deur die genadelose géseling. Aan Sy voorkoms is daar geen teken van iemand wat daarop aanspraak maak dat hy werklik ’n aardse koning is nie. Neerhalend verwys Pilatus na Jesus met dié woorde: “Dit is die mens!”


Hier staan Jesus werklik as “die mens”. Hy het die plek geneem van die sondaar, van my en jou, en dra die straf vir ons sonde: “Tog het Hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra” (Jes. 53:4). Watter ironie dat Pilatus die skreeuende skare oproep om Jesus, die mens te aanskou, sonder om een oomblik te begryp dat dit die definisie van menswees is wat voor sy oë staan! Vals beskuldig, deur die gesig geklap, gespoeg, geblinddoek en met die vuis geslaan, herhaaldelik met stokke oor die kop geslaan wat die dorings van die “doringkroon”, dieper in Sy vlees indruk en deur géseling vermink! Sy hande is vasgebind sodat Hy nie eers die bloed oor Sy oë kan uitvee nie.


Pilatus het gehoop om by die Jode meegevoel vir Jesus te wek deur Hom in daardie gemartelde en bespotte toestand voor hulle te laat verskyn, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking. Die haat vlam op in al sy felheid. Die owerpriesters en hulle geregsdienaars hef die kreet aan: “Kruisig hom! Kruisig hom!” en die volk sluit hulle daarby aan. Nou slaan Pilatus ’n ander weg in. Hy wil Jesus aan die Jode uitlewer en hulle die toestemming gee om Hom te kruisig, want self sien hy nie daarvoor kans nie omdat hy nog eens bevestig dat Jesus onskuldig is.

Dit sou strydig wees met die Romeinse regspraak om ’n onskuldige te kruisig. Deur so iets te doen, sou Pilatus sy amp by die keiser in gevaar stel. Maar wat hy aan die Jode sê, is vir hulle ’n onmoontlikheid. Hulle manier van teregstelling was deur steniging. In Jesus se geval wou hulle sien dat Hy gekruisig word. Hulle, die destydse vroom kerkmense, se wet bepaal Jesus moet dood “omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het”, en dergelike uitsprake is in die oë van die Jode godslasterlik (Lev. 24:16). Omdat Jesus daarop aanspraak gemaak het dat Hy die Seun van God is, eis die Jode Sy dood. Omdat Hy dit werklik is, sterf Hy plaasvervangend vir die sonde van die mensheid om Sy eiendom te red uit die bande van die dood.


Korrupsie in die regstelsel maak enige mens warm onder die kraag. Wanneer die regstelsel in duie stort, stort die hele samelewing in duie. Dit blyk dieselfde te wees met Jesus se verhoor. Die spreekwoordelike magtige Romeinse goewerneur hardloop heen en weer tussen Jesus en die gepeupel en blyk magteloos te wees sonder enige oplossing. Jesus se “verhoor” tot dusver is ‘n voorbeeld van magsmisbruik, regsverydeling en onbekwaamheid. “Die Jode het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy dood.” Hulle het Hom klaar skuldig bevind en gevonnis en vonnisoplegging moet so gou as moontlik tot uitvoering gebring word.


Was al daardie lyding werklik nodig? Vir die redding van één sondaar moes Jesus die volle prys betaal, hierdie verskriklike lyding deurmaak. Sonde in die oë van God is één leuen, één vloekwoord, één keer se onvergewingsgesindheid, één keer se ontkenning van Jesus se Naam, één keer se liefdeloosheid, één ...! Die lys van sonde is eindeloos, dit verwoes, dit verinneweer, dit verneder! Jesus Christus moes die prys betaal vir elkeen daarvan en elkeen van ons, beroemdes of geringes. Daardeur het Hy vir ons die deur oopgemaak om die keuse te maak of ons in die Man van Nasaret wat Homself as “die Seun van God” voorgedoen het, gaan glo, of aan dit wat die wêreld met sy menigte valse leraars verkondig?


“Sonde is die duurste ding in die heelal. As dit onvergeef bly, kos dit jou die ewigheid. Word dit vergewe, het dit Christus se lewe gekos om dit te bewerkstellig” (Charles G. Finney).


Gebed: Here, as U my sondes in aanmerking sou neem, sou ek nie meer bestaan nie. Maar by U is daar vergifnis, daarom wil ek U dien (Ps. 130:3-4). Dankie dat U vir my gely het en sodoende vergifnis vir my moontlik gemaak het. U weet hoeveel oordeelsfoute ek al gemaak het, hoeveel flaters ek op my kerfstok het, hoeveel onoordeelkundige dinge ek al kwyt geraak het en mense daardeur ontsettend seer gemaak het. Dankie dat U ten volle daarvoor betaal het! U wonderlike Naam ter eer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page