top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 29 November 2021

Koos Espach


Jesus voor die Joodse Raad (4)


Die hoogste denkbare prys is betaal


Matt. 26:65-68 – “Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: ‘Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. Wat dink julle?’ Hulle het geantwoord: ‘Hy verdien die dood!’ Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap en gesê: ‘Jy is mos ‘n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”


Joh. 18:22-24 – “Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, Hom geklap en gesê: ‘Antwoord jy die hoëpriester so?’ Jesus sê toe vir hom: ‘As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”


Om klere te skeur is ’n teken van rou, maar wanneer God gelaster word, is dit verpligtend. Soos ’n toneelspeler tree die hoëpriester op. Om sy ontsteltenis by die aanhoor van godslastering te kenne te gee, skeur hy sy klere. Jesus het voorgegee dat Hy aan God gelyk is. Dit is godslastering en moet met die dood gestraf word deur steniging (Lev. 24:16). Tegnies is Jesus hier nie skuldig aan Godslastering nie, Hy gebruik nie God se Naam hier of noem Homself God nie. Sy aanspraak om Seun van die mens en Seun van God te wees, kan aanstoot gee, maar dit moet dan eers as onwaar bewys word. Tog vel hulle die vonnis van doodstraf, omdat Jesus hier in hulle oë op ’n lasterlike manier daarop aanspraak maak om aan God gelyk te wees.

Dat hulle Jesus daarna spoeg en klap, en as profeet en Christus bespot, is onwettige optrede tydens ’n verhoor. Openbare geseling was wel geoorloof. Die Joodse Raad het egter destyds nie die bevoegdheid gehad om die vonnis uit te spreek of te laat voltrek nie. Dit is van groot betekenis dat die skuldigbevinding nie gegrond is op enige aanklag wat valslik of in waarheid teen Jesus aangevoer is nie, maar op wat Hy werklik is, naamlik die Seun van God.


Nadat almal saamgestem het dat Jesus die dood skuldig was, begin die ruwe mishandeling. Hulle magteloosheid vind ’n uiting in die gebruik van geweld en bespotting. Volgens Markus en Matteus het die lede van die Joodse Raad self meegedoen aan die bespotting. As uiting van veragting spuug hulle op Jesus en slaan hulle Hom in die gesig. Aangesien “Hy as ’n profeet opgetree het, word Hy geblinddoek en geslaan, en dan versoek om te profeteer wie dit gedoen het” (Mark. 14:65). Jesus bly egter standvastig want Hy weet dat Hy die wil en plan van God uitvoer. Jesus se voorbeeld onder die uiterste provokasie is ‘n aanmoediging vir elke gelowige wat in dergelike omstandighede kan beland. Ons kan dus ons geloofsoortuiging uitleef en wéét: “Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6).

Jesus se boodskap is vir die mensewêreld bedoel om te hoor. Dankie tog dat Jesus bereid was om dié moeilike pad vir ons sondige mense te stap. Ons was in so ’n benarde posisie. As ‘n mens egter nie die boodskap van Jesus wil hoor nie, sal dit vir ons geslote bly en reageer ek en jy soos die wag wat Jesus geklap het. Niks wat Jesus sê is verkeerd of vals nie, dit hang af hoe ons daarna luister of nie wil luister nie.


Jesus is die begin- en eindpunt van ons geloof. Al wat ons moet doen, is om ons oë op Jesus gevestig te hou. Hierdie boodskap word nou op baie verskillende maniere, keer op keer vir ons oorgedra. Êrens moet ons dit deel maak van ons lewe. God het eens en vir altyd klaargespeel met ons sonde-probleem. Wanneer ek en jy voor Jesus buig en nie van Hom ‘n bespotting maak nie, word ons deel van God se nuwe verhaal. Ons sondige lewensverhaal is oorgeskryf deur Jesus. Ons foute is daar by die kruis uitgevee. Dit het tyd geword dat ons as verlostes leef. Kom ons maak die handrem los en plaas ons pakkie sonde van gister en al die dae voor gister, by die kruis neer en gaan vertel die wêreld van Jesus wat heeltemal klaargespeel het met ál ons sondelaste. Daar is nie meer ‘n enkele sondeverslag van ons in die hemel nie. Dis vernietig. Glo dit!


“Ons mag vry wees om te kies, maar ons is nie vry om die gevolge van ons keuses te kies nie” (Selwyn Hughes).


Gebed: Ons Vader, U is so groot! U weet wat ons goed kan doen en wat nie. Wel, ek weet dat U die beste gedoen het om Jesus na die aarde te stuur vir my pakkie sonde. Dankie daarvoor. Jesus, dankie vir die verandering wat U gebring het. Dankie dat U elke dag by ons Vader sit en my saak namens my daar stel. Dankie dat ek kan weet dat my plek in die hemel voorberei is. Help my om ’n lewe as ’n verloste daar buite te gaan leef en ’n verskil in ander mense se lewens te gaan maak. Aan U kom al die eer toe! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page