top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 25 November 2021

Koos Espach


Jesus voor die Joodse Raad (2)


Praat en leef die waarheid


Matt. 26:59-60 – “Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie.”


Die tempelwag neem Jesus na die hoëpriester Kajafas, die instansie van waar die bevel tot arres uitgegaan het. Dit was nie die gewone vergaderplek van die Joodse Raad nie. Normaalweg vergader die Sanhedrin in ’n lokaal in die tempel, maar nou kom hulle sonder vooraf kennisgewing, in die nag byeen in Kajafas se huis. ’n Hele aantal Farisese bepalings word oortree, maar weens Jesus se populariteit is die priesterlike aristokrasie haastig om die saak af te handel. Die doel om Jesus dood te maak was immers lankal al in die sinagoge geneem (Matt. 12:14). Of dit dus ‘n amptelike vergadering was, bly ‘n ope vraag?


Die Joodse Raad se hantering van Jesus in die vroeë oggendure van daardie verdoemende Vrydag, was volgens hulle eie opgestelde en voorskriftelike prosedures, glad nie tegnies korrek nie. Alle etiese beginsels, prosedures en regverdigheid is oorboord gegooi. (Ons sal dit vandag verklaar as ‘n “bosverhoor.”) Dit was egter duidelik dat Jesus nie daar as ‘n vry man sou uitstap nie. Hy móés skuldig bevind word, maak nie saak wat nie!


Die plan was om ’n klag teen Jesus te probeer vind sodat hulle Hom aan die Romeinse goewerneur, Pilatus, kon oorhandig met die versoek dat Hy gedood moet word. Onder die Romeinse heerskappy het die Joodse Raad nie meer die reg gehad om die doodstraf toe te pas nie, selfs nie om ’n saak, waar dit om die doodvonnis gaan, te verhoor nie. Wat dus hier plaasvind, is geen verhoor in die ware sin van die woord nie, maar ’n ondervraging met die doel om ’n klag op te stel. Die aanklag moes daarby so gestel word dat dit die goewerneur sou oortuig van die skuld van die aangeklaagde.


So maklik gaan dit in hierdie geval nie. Uit die staanspoor blyk dit dat indien hulle by die waarheid wil bly, geen beskuldiging gevind sal kan word nie. Vals getuienis is daardie nag toegelaat wat heeltemal in stryd was met die Joodse wette soos beskryf in Deuteronomium 19:16-21. “Baie mense het vals getuienisse teen Hom afgelê, maar die getuienisse het nie ooreengestem nie” (Mark. 14:55) – die getuies het nie uit een mond gepraat nie!


Ons wil vandag amper uitskreeu en vra wat het van reg en geregtigheid geword? Tydens hierdie onregverdige, lamlendige “verhoor” van Jesus, is geen bewyse gevind dat Hy Hom skuldig gemaak het aan enige misdryf nie. Jesus was veroordeel voor Hy verhoor was. Hy het geen kans of hoop gehad op geregtigheid nie.


Vals beskuldigings is een van die maklikste maniere om iemand se naam deur die modder te sleep. En wanneer dit gebeur het, is dit baie moeilik om die skade wat dit aangerig het, later weer ongedaan te maak. In hierdie geval het dit uiteindelik tot Jesus se “skuldigbevinding” en kruisiging gelei. Hierdie sogenaamde getuies, het deur hulle verkeerde optrede en leuens, gehelp om die Seun van God se doodsvonnis te vel. (Ek wonder hoe groot hulle ontnugtering gaan wees wanneer hulle op die oordeelsdag voor Jesus gaan staan en besef dat hulle leuens hulle ingehaal het.)


Ons moet seker maak dat ons nie vals gerugte oor ander mense versprei nie. As kinders van God erken ons dat Hy oor ons hele lewensbestaan, heerskappy voer. Ons dien mos net die Een groot Waarheid, die Waarheid van die Woord. Wanneer ons nie die waarheid praat nie, speel ons in die hand van die bose. “Omdat ek ‘n Christen is, kan jy my te alle tye op my woord neem”, is woorde wat as onkreukbare wyse van ons, op alle terreine, gebruik moet word. Oral waar ons vrae moet beantwoord of informasie moet verskaf en dit met ons handtekening bevestig word, oral waar ons ons bevind – by familie, in die huwelik, die owerheid, die kerk, wanneer ons kwaad word, moed verloor – ORAL – moet ek en jy ons waardigheid as God se kinders behou. Dan vertel ons voorbeeld, dinge wat God se Naam sal grootmaak en tot Sy verheerliking lei.


Hoe ken mense vir my en vir jou? Is ons woorde betroubaar? Kan ander op ons woorde peil trek? Praat en leef ons die waarheid? Beelddraers van God kan positief op al die vrae antwoord. Ons moet gedurig ‘n wag voor ons mond plaas. Mense wat nog onder die heerskappy van die sondige natuur leef, praat soos die vader van die leuen – vals en onbetroubaar!


“Moenie dat ons God se standaard van die waarheid aftrek na ons vlak van prestasie nie” (Martin Luther).


Gebed: Here, laat U waarheid my lei en onderrig my daarin (Ps. 25:5a). Maak my gees en gedagtes nuut sodat ek alle valsheid kan aflê en ons onder mekaar die waarheid praat (Ef. 4:23, 25). Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê (Ps. 141:3). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page