top of page

Gedagte vir Vandag

2 Nov 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

DIE VERHEERLIKING OP DIE BERG (4)

(Mark. 9:2-8; Luk. 9:28-36)

ONS HEMELSE METGESEL!

Matt. 17:6-8 – “Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: ‘Staan op en moenie bang wees nie.’ Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.”

God se stem uit die wolk laat die drie dissipels met vrees op die grond neerval. Dit was vir hulle te veel vir een dag. Jesus se verheerliking, Moses en Elia se verskyning en nou nog die hoogtepunt van God wat Sélf met hulle praat! In die teenwoordigheid van God se heerlikheid en by die aanhoor van Sy stem, moes hulle besef, Jesus is méér as Moses en Elia. Hy is die Seun van God, God self. Hy is die vervulling van die wet en die profete. Hy is God se finale antwoord op ons verlossing.

Onverwags verdwyn die wolk en Jesus kom na hulle toe en sê: “Staan op en moenie bang wees nie.” Alleen Jesus, in Sy gewone gestalte, is te sien. Die drie dissipels het egter geen onduidelikheid gehad oor Jesus se identiteit en Sy Goddelike oorsprong nie. Hierdie Jesus wat as Middelaar tussen ons en God staan, uiteindelik aan ‘n kruis tussen ons en God hang, en ons na al die eeue steeds die vertroosting en bemoediging gee dat ek en jy nie bang hoef te wees vir God nie, Hy is immers by ons! Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy is “God met ons, Immanuel.” Ons het nou nie meer ‘n “manual” nodig nie, ons het Immanuel!

Johannes en Petrus het nooit vergeet wat daardie dag op die berg gebeur het nie. In sy Evangelie skryf Johannes: "Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid" (Joh. 1:14b). Petrus het ook daarvan geskryf, "Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en Sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in in al Sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang, toe die Allerhoogste Majesteit gesê het, 'Dit is My geliefde Seun oor Wie Ek My verheug.' Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was" (2 Pet. 1:16-18).

Dit sal my en jou nooit beskore wees om soos Petrus, Johannes en Jakobus daardie “bergtop-ervaring” te deel nie. Maar ons leef nou, en ons het veel meer as wat die dissipels gehad het. Ons het nie net die wet en die profete wat in die Ou Testament beskryf is nie, ons het ook die Evangelies en die briewe van die Nuwe Testament. Ons hét, in die Bybel, die bonatuurlike openbarings van God en Sy woorde vanuit die hemel. Ek en jy kan iets daarvan in ons gees ervaar wanneer ons die Bybel bestudeer, daarvan lees en toelaat dat die Heilige Gees dit vir ons lewend maak!

Jesus, die lewende Christus, ken die droefheid, pyn, hartseer en angs van hierdie verskeurde wêreld waarin ons vandag leef. Ons Verlosser was immers self mens wat onder ons kom woon het (Joh. 1:14), en weet daarom hoe uiters nodig ons vertroosting het, veral wanneer ons bang is vir die toekoms, én in ons uur van skeiding van dierbares. Dit is egter wanneer Hy ons “aanraak en sê: ‘Staan op en moenie bang wees nie.” Hy verwag van ons om “ons oë op te hef en Hom alleen te sien.” Hy vertroos die gebroke hart; Hy versterk ons bang en verslae gees; Hy maak die siedende storm van twyfel en ongeloof stil en lei ons tot oorwinning in elke lewensituasie. Hy lei ons om ons hartstogte te beheer en gee ons krag in tye van versoeking.

Ons moet ophou soek na God in die bonatuurlike, en eerder fokus daarop om te voel hoedat Jesus ons aanraak, Sy hand op ons skouer sit en sê: “Staan op en moenie bang wees nie. Stap saam met My die pad van die lewe.” Al is dit moeilik om te verstaan, moet ons die gerusstellende waarheid aanvaar dat die lewende Christus nie wil hê ons moet op die grond bly lê nie, maar opstaan en na Hom kyk en Sy belofte te glo: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb. 13:5b). Draai na Christus toe en maak jou hart oop vir sy Gees se leiding. En wanneer jy weer neerval, val in vreugde voor Hom en noem Hom Here, jou Here!


“God is altyd met ons; waarom sal ons nie altyd met God wees nie?” (William Ullathorne).

Gebed: Dankie Here Jesus, dat U deur die Heilige Gees in my, altyd my troue Metgesel is. Dankie Vader dat ek U nie hoef te soek in die bonatuurlike nie, U hand is op my skouer! “As dié raaisel my nie kwel nie, en my hart nie eens ontstel nie – dan kan ek, van U bewus, ook in eie lot berus. Net in gemeenskap, Here, digby U vind ek die vrede. Net U self, net U alleen, het ek nodig as my steun” (Liedboek 572:2). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page