top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 24 November 2021

Koos Espach


Jesus voor die Joodse Raad (1)


Ons kan nie geheime dissipels van Jesus wees nie


Matt. 26:57-58 – “Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. Petrus het op ‘n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.”


Vergelyk ook Joh. 18:15-18 – “Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring.”


Jesus se vriende, Sy getroue dissipels, het Hom verlaat. Nie een het oorgebly nie, net “Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan.” Daar was geen uitnodiging nie ... geen wonderwerk nie ... geen oogkontak nie ... geen groepsdruk nie ... niks nie! Net hierdie geboeide Man wat soos ’n skaap ter slagting gelei word! En hierdie prentjie gryp ons by die hart ... ons wil, néé, ons móét Hom volg, al is ons bang om te erken ons ken Hom, of naamloos wil bly. Iets dring my en jou om hierdie Man van Nasaret te volg! Baie naamlose gevare het al voornemende dissipels van Jesus bang gemaak en verdryf, naamlose gevare wat satan gebruik om in hierdie bose en korrupte wêreld ons uit die Here Jesus se hande te wil gryp, sodat ons bang en moedeloos sal word en ophou om Jesus te volg!


Ou impulsiewe Petrus, hy het op die water van ‘n onstuimige see na Jesus toe geloop, maar op die droë grond van Jerusalem se stofpaaie, het hy “op ‘n afstand agter Hom aan gegaan ...” Dit moet ons laat nadink oor hoeveel keer ons ook impulsiewe navolgers van Jesus was, net om by die eerste groot bedreiging te skaam is om te erken ons ken Jesus of selfs soos die ander dissipels, rieme neer te lê. Petrus weet dat hy hom nou op gevaarlike terrein bevind. Sy eie lewe is ook nie veel werd nie. Malgus was waarskynlik ‘n rowwe kalant met ‘n paar ewe rowwe maters. Voorlopig is dit miskien beter om ‘n lae profiel te hou en “te kyk hoe dit afloop.”


Ons is nie werklik naamloos soos die “ander dissipel wat agter Jesus aangegaan” het nie! Ons mag dalk so dink, maar God weet wie ons is! Ons moet onthou dat Jesus aan die kruis op die ou end nakend vir óns gehang het – ons skaamte het Sy skaamte geword; ons angs, Sy angs; ons skuld, Sy pyn en vernedering! Jesus het Homself nie aan ‘n kruis laat oplig tot vertoon van die wêreld, vir almal om te sien, herkenbaar, by die Naam genoem in drie verskillende tale as die Koning, sodat ons as dissipels salig anoniem kan bly nie!


God wil nie hê dat ons anoniem moet bly of ontken dat ons Jesus ken nie! Hy wil hê ons moet Hom volg, ongeag van wat ook al die naamlose gevare vir ons inhou. Hy wil hê dat ons sy Naam op ons lippe sal neem en nie meer skaamteloos Hom ontken nie. Hy wil hê dat ons bekend sal wees as Sy volgelinge ... ’n volgeling met ’n naam. Ons Christengelowiges is deel van diegene wat saam met Jesus op die triomftog loop en erken dat ons Hom ken – “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is” (Matt. 10:32-33). Ja, om Jesus op Sy kruisweg te volg, gaan vir my en jou beslis iets kos, maar die wins is deur en deur die moeite werd!

“A tremendous thing about Jesus is that beneath all our failures he sees the real man. He understands. He loves us in spite of what we do, not for what we are, but what we have it in us to be. The forgiving love of Jesus is so great that he sees our real personality, not in our faithfulness, but in our loyalty, not in our defeat by sin, but in our teaching after goodness, even when we are defeated” (William Barclay).


Gebed: Vader van ons Here Jesus Christus, dankie dat U my Vader ook is. Skenk aan my die wysheid om U werklik te ken. Verhelder my geestesoë sodat ek kan weet watter hoop U roeping inhou en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir my as gelowige bestem het. Ek wil U Naam op my lippe neem en nie skaamteloos U ontken nie. Ek wil bekend wees as U volgeling ... ’n volgeling met ’n naam. Ek wil as Christengelowige deel wees van diegene wat saam met Jesus op die triomftog loop en erken dat ek Hom ken. Help my Gees van God, want alleen kan ek dit nie doen nie. Mag U Naam geëer en geheilig word en mag U wil geskied, hier op aarde sowel as in die hemel. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page