top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 19 November 2021

Koos Espach


Jesus word gevange geneem (3)


Dank God vir Sy meesterplan


Matt. 26:51-54 – “Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. Toe sê Jesus vir hom: ‘Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”


Vergelyk ook Joh. 18:10-11 – “Simon Petrus het ‘n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: ‘Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”


Die Goddelike raadsplan kry nou momentum in die optrede van die volksgepeupel. Enige burger kon op kort kennisgewing deur die Sanhedrin opgeroep word tot polisiehulpdiens. 'n Groot klomp mense met swaarde en stokke gewapen, en met 'n selfvoldane Judas Iskariot vooraan, lewer die dissipel Jesus as't ware aan hulle uit met ‘n soen. Direk ná hierdie soen breek daar chaos uit in Getsemane. Matteus meld nie wie die dissipel was wat sy swaard uitgetrek het nie, maar Johannes skryf dat dit “Simon Petrus” was.


Soos in die verlede is dit dan die emosionele Petrus wat vorentoe kom om sy Meester te beskerm. Miskien het sy eie bravade van vroeër (Matt. 26:35), nog vlak in sy gedagtes gelê. Petrus, die man van die daad, wil geweld met geweld beantwoord en gebruik sy kort “swaard”, wat waarskynlik ‘n slagmes was wat by die paasfees gebruik is vir slagdoeleindes van die offerdier, en kap Malgus, “die slaaf van die hoëpriester” se oor af. (Hierdie gebeurtenis openbaar dat die hoëpriester persoonlik ook betrokke was in die reëlings vir die gevangeneming.) Petrus, dieselfde man wat oor ‘n kort rukkie later, nie standpunt kon inneem nie en voor ‘n diensmeisie ontken dat hy Jesus ken, is nou bereid om man alleen, ‘n hele afdeling soldate te trotseer om Jesus te beskerm!


Jesus is van die begin af volkome meester van die situasie, en tree op so ’n wyse op dat dit duidelik word dat Hy Homself oorgee en nie tot oorgawe gedwing word nie. Hy belet die gebruik van geweld in hierdie situasie. Hy gee Hom vrywillig oor, en die gebruik van ’n swaard sou dus die uitvoering van die heilsplan volgens die wil van God verydel. Dit mag nie gebeur nie, want Jesus is bereid om die lydensbeker te drink wat Hy uit die hand van die Vader ontvang, die Vader wat sy Seun innig liefhet, maar wat ook die wêreld liefhet en daarom aan die Seun die beker toereik (Joh. 3:16). Hy het immers meer as twaalf legioene engele tot Sy beskikking. ’n Legioen was 6 000 mense sterk, d.w.s. 72 000 engele! Maar, Jesus kies om die pad van die Skrif te volg, die pad van die Lydende Messias, die Een wat deur die kruisdood vergifnis vir die hele wêreld sal bring.


Jesus staar die wrede onreg van ‘n vyandige wêreld op hierdie oomblik in die gesig, maar “genees die oor” van die dienskneg van die hoëpriester (Luk. 22:51). Tog weet Hy dat God Hom sal krag gee tydens die donkerste oomblikke wanneer dit vir die mens, as onmoontlik lyk. Jesus het Sy vertroosting in die Skrif gevind: “Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” Die Skrif het ons Verlosser in perspektief gehou, soveel so dat Hy onwrikbaar was in die wete dat alles wat Hy ervaar, volgens sy Vader se plan was. Hy kon met volle vertroue aangaan omdat die Skrif Hom verseker het dat God steeds in beheer is.


Die Woord van God sal my en jou op dieselfde manier lei. Daar sal tye wees wanneer gebeure rondom ons, ons verwar. Mense wie ons vertrou, sal ons teleurstel. Ons moet egter nooit toelaat dat die ontrouheid van ander bepaal wat ons doen nie. In tye wanneer ons toewyding aan die Here die grootste toetse moet deurstaan, moet ek en jy fokus op die Skrif, die Skrif wat lei en troos. As ek en jy daagliks ons verdiep in die Woord van God, sal ons nie van stryk af raak wanneer krisisse ons in ‘n donker hoek wil vaskeer nie. Fokus op Hom wat ons lewe nuutgemaak het deur Jesus aarde toe te stuur om ons met Hom te versoen en ‘n nuwe toekoms verseker het. Dank God vir Sy meesterplan!


“Die Woord van God is soos ‘n bril wat die dowwigheid voor ons oë wegneem en ons ‘n helder blik op God se wil gee” (Johannes Calvyn).


Gebed: Dankie vir U Woord Here, dié Woord wat lewendig en kragtig is, dié Woord waardeur U elke dag met my kommunikeer. “U voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag, U bepalings is betroubaar, dit maak die eenvoudige verstandig; U opdragte is duidelik, dit gee insig vir die lewe ... (Ps. 19). Gee dat my woorde vir ander mense meer sal leer van U liefde vir hulle – en U Woord vir hulle sal oopmaak. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page