top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 16 November 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (40)


Jesus in Getsemane (3)


Maak tyd vir God


Matt. 26:43-46 – “Toe Jesus terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie. Hy het hulle weer alleen laat bly en ‘n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: ‘Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”


Drie keer soek Jesus hulp by Sy dissipels in die hoop dat hulle saam met Hom sal waak. Hulle was tog veronderstel om saam met Hom in sy lyde te deel (vgl. 10:16-25). Maar Hy vind hulle telkens, onbetrokke, vas aan die slaap. Die feit dat hulle slaap terwyl hulle die enigstes was wat Hom kon bystaan, was vir Hom 'n verdere antwoord dat Hy sy lydensweg alleen moet aanvaar. Hy gee Hom volkome oor aan die wil van die Vader en gaan vrywillig die lydensweg tegemoet om so Gods wil te doen.


Ten volle bewus van wat op Hom wag, en volkome gereed om Sy lyding te aanvaar, maak Jesus die dissipels wakker en kondig aan dat Sy verraaier naby is. Uiteindelik kom daar ‘n rustigheid oor Hom en is Hy versterk. Oortuigend van Sy taak gaan Hy sy vyande tegemoet. As vrug van Sy bittere gebedstryd was Hy nou toegerus om Sy roeping as Middelaar uit te voer soos God dit vooruitbepaal het. Hierin is Jesus vir ons ‘n voorbeeld van hoe om ons lewensangs te hanteer. Maar meer as dit wil hierdie gebeure ons verseker dat Hy ons angs op Hom geneem het en dat Hy ons vashou in ons angs, selfs wanneer ons nie altyd aan Hom kan vashou nie. “Staan op, kom ons loop” – sal ons Jesus hierin volg al hou die pad van navolging lyding in?


Soos die dissipels kry ek en jy geleenthede om die Here te dien. Daar is tye wanneer Jesus ons sal vra om Hom by te staan waar Hy in ons vriende, familie, kollegas en selfs ons gesin aan die werk is. As ons te besig is (om “nog te slaap en te rus”), sal ons die seën daarvan om in sy Goddelike werk te deel, misloop. Al het God ons nie eintlik nodig nie en Hy legioene engele kan gebruik om Sy werk op aarde voort te sit, is dit ons verlies as ons dit waarvoor God ons gekies het om vir Hom te doen, misloop.


Die dissipels het aan die slaap geraak terwyl hulle moes wakker bly. Indien ons dink dat hierdie “swakheid” ‘n uitsondering is, maak ons ‘n fout. Die oomblik wanneer ek en jy besef dat ons nie ‘n uitstekende geleentheid benut het nie, kan ons dalk wanhopig raak en soos “failures” voel. Jesus kom egter liefdevol na ons toe en vra: “Slaap en rus julle nog?” Daardie geleentheid is vir ewig verby en ons kan niks meer daaraan verander nie. Maar dan sê Hy: “Staan op, kom ons loop”, kom ons beweeg voort na die volgende geleentheid. Met ander woorde, laat die verlede met rus, maar laat dit met rus in Jesus se liefdevolle omarming en betree die toekoms onoorwinlik saam met Hom.


Wat is die volgende geleentheid wat ons moet betree? Ons moet God volkome vertrou, spreekwoordelik minder “slaap en rus” en meer tyd saam met Hom deurbring. Dis vir my altyd verbasend dat ons, en ek sluit myself hierby in, soveel tyd aan dinge kan spandeer wat ons plesier verskaf – sport op TV, ‘n mooi fliek, kuier saam met familie en vriende – maar ons ruim nie genoeg tyd saam met God in nie; dié grote God wat eintlik ‘n reg op my en jou as gelowiges het en in liefde begeer dat ons genoeg tyd saam met Hom sal deurbring sodat Hy Homself en Sy genade kragtig aan ons kan openbaar. ‘n Leraar maak onlangs ‘n aanmerking dat hulle oor enigiets kan preek, net nie oor ‘n uur nie – “Kon julle nie eens een uur saam met My waak nie?” vra Jesus. Daar is selfs mense wat kla dat hierdie dagstukkies wat ons skryf en uitstuur, te lank is, mense het nie tyd om dit te lees nie en raak verveeld. Ai tog, mag God nooit verveeld raak met ons nie!!


Ek lees onlangs ons mense ly aan “inligtingsontlading!” Feitlik almal het selfone, en dit regeer ons lewe. Ons is gevangenes daarvan, daarom word dit ‘sel-fone’ genoem. Mense gesels nie meer met mekaar nie – in restuarante is elkeen besig op ‘n selfoon; terwyl die trollie in die supermark of winkel gestoot word; selfs terwyl hulle motor bestuur. Jy moet Facebook hê om te weet wat met jou familie en vriende aangaan. Ag, en so kan ons die lysie vol maak van elektroniese kommunikasie wat elke dag se ure insluk. Ek en jy mag nooit sê ons het nie tyd vir God nie. Mag die Heilige Gees ons leer dat die belangrikste, geseëndste en voordeligste tyd van die hele dag, die tyd is wat ons saam met God deurbring.


“Voor jy vandag sê: Ek het regtig nie tyd om met God te spandeer nie; vra jouself: Is dit regtig die tyd wat my ontbreek, of die wil?” (Anoniem)


Gebed: Dankie Here dat U nooit te besig is om na my te luister nie. Dankie dat U ook nie net ‘n bepaalde tyd het om aan my af te staan nie, maar juis soveel tyd as moontlik met my wil spandeer. Heilige Gees, skryf hierdie hemelse waarheid elke dag in my hart: “Tyd saam met God, deur sy Woord en deur gebed, is meer onmisbaar vir my siel as die kos wat ek eet of die suurstof wat ek inasem vir die liggaam is. God het die eerste reg op my tyd.” Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page