top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 12 November 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (38)


Jesus in Getsemane (1)


Die grootste keuse van alle keuses ooit


Matt. 26:36-39 – “Daarna kom Jesus met Sy dissipels by ‘n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: ‘Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.’ Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.’ Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: ‘My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”


Dit was ‘n reël by die Jode dat die paasmaal nie voor middernag beëindig word nie. Ons kan dus aanneem dat dit reeds ná middernag was toe Jesus en die oorblywende elf dissipels by die Tuin van Getsemane (beteken ‘oliepars’ en dui die plek aan as ’n tuin waar olywe gekweek en bewerk is), aangekom het. By die ingang van Getsemane, het die verskrikking van Sy lyding, Jesus getref. Die tyd het aangebreek dat Hy oorgelewer moes word in die hande van sondaars.


Hy laat agt van Sy dissipels moontlik naby die ingang agter. Jesus weet dat Hy vir die oorblywende gedeelte van daardie nag die eensaamheid van die dood moet deurworstel, daarom neem Hy net vir Petrus, Jakobus en Johannes saam en gaan hulle dieper die tuin in. Hulle drie was ook getuies van Sy mag oor die dood van Jaïrus se dogtertjie (Mark. 5:37) en van die openbaring van Sy goddelike heerlikheid op die berg van verheerliking (Matt. 17:1-8). Jesus neem hulle saam om Hom by te staan in die diepte en omvang van Sy lyding.


In die stikdonkerte en tussen die olyfbome in Getsemane, bereik Jesus die spreekwoordelike vurk in die pad van Sy aardse bediening. Omdat Hy geweet het wat vir Hom voorlê, soek Hy “doodsbenoud” en knielend met Sy gesig teen die grond, hulp by sy Vader. Desperaat val Hy voor God neer met die moeilikste keuse ooit wat vir Hom oorbly: Hy kon voortgaan met Sy lydenspad wat van hier af ontsettend moeiliker gaan raak, of omdraai en teruggaan na Sy hemelse woonplek waar Hy vandaan kom. Wat ‘n keuse: die heerlikheid van God se hemelse troonsaal, of die grusame dood van die kruis. Dit is menslik ondenkbaar om oop oë hierdie verskriklike lyding en dood tegemoet te stap.


Jesus moes ‘n finale keuse maak en skielik was Sy keuse ontsettend beperk: Gehoorsaamheid aan Sy Vader of ongehoorsaamheid ... die dood of die lewe. As Hy nou sou kop uittrek, kon Hy sy eie lewe spaar maar biljoene sondaars sou vir altyd tot die ewige dood gedoem wees. Deeglik bewus van sy Vader se doel om Hom aarde toe te stuur, voeg Hy gelukkig vir my en jou, ‘n tweede gedeelte by Sy gebed: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”


Goddank, Jesus het vir ons, presies die regte keuse gemaak! Getsemane is ja-sê-tyd, daar is nie omdraaikans nie! Jesus het op Sy knieë voor God in gebed neergeval, want aan sy Vader se voete sou Hy die regte antwoord vind. Daar in Sy beangste oomblik was God se wil Sy enigste pad wat Hy moes loop, om sodoende vir ons die weg te baan. Sy liggaam moes gebreek word en Sy bloed moes vloei. Dit is die pad wat Jesus daardie eensame nag moes loop, want ek en jy was in Sy gedagtes. Dit is alleenlik dáár, aan die voete van ons hemelse Vader, waar ek en jy wat só verstrik geraak het in ons sondes, dat ons die regte antwoorde op ons worsteling en lyding kan kry. Dit is alleenlik dáár, aan die voete van ons liefdevolle Vader, waar ek en jy sal ontdek wat die regte pad is wat ons moet loop.

“Jesus het met Sy Getsemane-gebed, die deur vir ons gelowiges, na God toe oop gebid, nie oop gebéúr of oop geforséér nie” (Anoniem).


Gebed: Dankie Jesus, dat U daardie aand in Getsemene aan my gedink het. Dankie dat U my onthou het hier waar ek wegkruip in my sonde-hoekie. Al het ek niks om God aan te bied nie en is my vingerafdrukke op al wat ‘n sonde is, wéét ek dat ek nou deel van God se gesin is en kan ek Hom direk ken. Dankie dat U vir my die deur na God toe oopgemaak het sodat ek in die teenwoordigheid van ons Vader kan leef en bestaan. Help my Vader, om my los te maak van die dinge waarin ek vervulling soek en my eie belange ondergeskik aan U te stel. Maak my hart oop om ook soos Jesus te bid: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page