top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 9 November 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (35)


Jesus bid vir sy dissipels (5)


Bewaar ons van die bose


Joh. 17:15-19 – “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”


Elkeen wat deur God aan Christus gegee is, het ’n opdrag om Christus in die wêreld te volbring. Daar kan wel omstandighede kom wanneer ons as dienaars van God, bid dat ons uit die wêreld weggeneem moet word, soos Moses (Num. 11:15), Elia (1 Kon. 19:4) en Jona (4:3,8), maar dit is nie ’n bede wat God verhoor nie. God het ’n taak vir ons gelowiges, Sy dienaars, in hierdie wêreld. Daarom moet ons nie soos Johannes die Doper die woestyn van afgesonderdheid intrek nie, maar saam met Jesus onder die mense beweeg, daar waar ons woon en werk. Wat van belang is, is dat die “Vader hulle (ons) bewaar van die Bose” teen wie se mag, alle gelowiges beskerm moet word.

Ons as Jesus se volgelinge, het ’n sending in die sondige, verskeurde en verdorwe wêreld waar die owerste van die wêreld sal probeer om ons in sy mag te kry. In ons eie krag sal ek en jy nie van die Bose kan vrykom nie. Alleen God kan ons bewaar, en daarvoor bid Jesus. Dit is noodsaaklik dat ons bewaar bly, anders kan die werk wat Jesus begin het, nie voortgesit word nie. Hy wil immers ons mense in Sy diens gebruik.


Dat die gelowiges “nie tot die wêreld behoort nie”, beteken dat daar radikale verandering van verhoudinge plaasvind. ‘n Verandering wat deur die geloof in Christus ingetree het. In die natuurlike staat van sonde was ook die dissipels eers “van die wêreld”,maar nou is hulle vernuwe om soos Christus te wees en staan hulle in dieselfde verhouding tot die sondige wêreld as Hy, die sondelose. Hulle natuur is verander sodat hulle nou “aan Christus behoort” en Sy lewe openbaar. Dit beteken dat hulle van die sonde en die wêreld afgesonder moet wees en in denke, spreke en dade, volkome aan God toegewy moet wees. Die ware toewyding aan God word bereik deur ons lewe te rig volgens die Woord van God. Daarin werk die Heilige Gees mee omdat Hy juis gekom het om die gelowiges in die waarheid te lei op die weg van toewyding en heiliging (Joh. 16:13).


Die verkondiging van “U woord wat die waarheid is” moet voortgaan, bid Jesus. Daartoe ontvang elke dissipel van Jesus Christus deur al die eeue, hierdie opdrag. Soos Jesus vir Sy werk toegerus is, wil Hy dat die Vader ook vir ons moet toerus, en soos Hy sy sending tot uitvoering gebring het, moet ons ook ons opdrag volvoer. Omdat Jesus Hom as versoeningsoffer aangebied en toegewy het, en ons in Hom glo, het ons ook toegewy geword, van sonde bevry en volkome toegewy aan die diens van die Vader. Die soenverdienste van Christus bring vir my en jou ’n nuwe lewensgehalte (“geheilig”) en ’n nuwe lewensroeping (“toegewydes”).


Jesus bid vir Sy dissipels, Sy volgelinge, vir ons gelowiges. Om ‘n volgeling te wees impliseer om Hom te volg wat lei – “Die Goeie Herder roep Sy skape op hulle name en lei hulle uit ... Hy loop voor hulle uit, en die skape volg Hom, omdat hulle Sy stem ken” (Joh. 10:3-4). Is dit nie wonderlik nie? Hy lei ons na die lewe toe: “Ter wille van ons het Jesus Hom aan God toegewy, sodat ons ook deur die waarheid aan God toegewy kan wees.” Jesus vra ons Vader dat ek en jy toegewyd op die pad van die waarheid moet bly en God wil dit graag dóén: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg, Ek wil jou raad gee en My oog oor jou hou” (Ps. 32:8). Ons moet net gehoorsaam wees en moenie alleen ons paadjie hemel toe probeer bou nie. Ons gaan misluk. Ek en jy moet net vashou aan Christus – Hy alleen bied aan ons ‘n permanente kans by God! Uit dankbaarheid kan ons soos Dawid dan antwoord: “U leer my om te lewe!” (Ps. 16:11). Ek en jy moet altyd bly by die Here. Dit is die veiligste en heel beste plek in die ganse heelal om te wees.


“Gelukkig is dié wat weet dat dissipelskap eenvoudig beteken dat jy uit genade lewe, en dat genade eenvoudig dissipelskap beteken” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my uitgekies het as “volgeling tot spesiale diens”. Dankie Jesus dat ek daardie geweldige voordeel het dat U reeds ons Vader gevra het om my van die Bose te bewaar. Nou kan ek met vrymoedigheid, deur U Gees wat U aan my gegee het, in ‘n vyandige wêreld ingaan want ek weet ek tree nie op in eie krag nie, maar uit U krag. Ag, en wanneer ek afdwaal, ruk my terug sodat ek aan U bly vashou. Onderrig my in die pad wat ek moet volg, gee my raad en hou asseblief U oog oor my Vader. Ek loof en dank U daarvoor, U leer my om te lewe tot U eer! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page