top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 26 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (25)


Die werk van die Heilige Gees (2)


Die Voorspraak en die gemeente


Joh. 16:12-15 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”


Vergelyk ook Kol. 3:11 – “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.”


Die Heilige Gees se werk is ‘n voortsetting en verheerliking van die werk van Christus. Naas die werk van die Gees ten opsigte van die wêreld soos ons gister geskryf het, het Hy ook ’n besondere werk ten opsigte van die gemeente van Christus. Die Gees sal ons lei tot dieper insig in die betekenis van die prediking van Jesus. Jesus “kon nie alles aan die dissipels bekend maak nie omdat hulle dit nie alles sou begryp nie.” (Dit is onmoontlik om ‘n kind in graad 1, ‘n matriekleerling se sillabus te laat verstaan.) Die openbaarmaking van God se heilsplan strek tot in ewigheid en die openbaarmaking daarvan geskied stelselmatig soos mens ouer word en vorder in jou “leerskool.”


Die Voorspraak sal dus daar wees om dieper insig te gee in die betekenis van Jesus se woorde en werk. Die “Gees van die waarheid” sal voortbou op “Jesus wat die weg, waarheid en lewe is (Joh. 14:6)” en sal ons gelowiges nie op dwaalweë lei nie, maar tot insig bring van die “hele waarheid” en tot ryker en voller insig lei – insig skenk om gebeurtenisse in die geskiedenis van kerk en wêreld te begryp in die lig van die prediking van Christus. By die werk van Christus en van die Gees, is die Vader ten nouste betrokke. Daar is geen verdeeldheid in die drie-Eenheid nie. Die Vader is die Bron van alle dinge, en Hy het alles aan die Seun meegedeel, en die Seun dra weer alles oor aan die Gees. “Alles”, omvat die volle heilsopenbaring. “Álles” wat aan my en jou openbaar word, kom van God!


Een van die merkbare maniere waarop die Gees teenwoordig is in ‘n gemeente, is om eenheid tussen die gelowiges in die gemeente te bewerkstellig: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Ef. 4:3). Omdat ons almal kinders van God is, behoort ons gedurig die onlosmaaklike band van liefde te handhaaf, en met “Christusharte” nie daardie liefdesband verbreek nie. Jesus Christus het alle skeidsmure tussen “Jood en nie-Jood” kom afbreek. Ons gelowiges is dus in een liggaam met God versoen deur Jesus aan die kruis. “Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” (Ef. 2:18).


Baie mense laat niemand toe om aan hulle voor te skryf nie. Soms is dit ‘n prysenswaardige eienskap maar dit kan ook ontaard in ‘n koppige onafhanklikheid. Dit is dan nodig om te soek na die waarheid, en dan moet koppigheid plek maak vir gewilligheid om na die influistering van die Heilige Gees te luister. Geestelike waarheid kan ons nie met ons menslike verstand ontdek nie, dit is ‘n gawe van God – dit is net deur Sy Heilige Gees dat God sy waarheid aan ons openbaar. Sonder ‘n innige verhouding met Christus sal die gemeente en die wêreld tevergeefs na Hom soek in ons lewe. Maar as ek en jy Christus in Sy liefde en genade ken, sal ons begeer dat ander Hom ook sal ken en in ‘n verhouding met Hom staan. Kom ons bid dat die Gees vir my en jou die moed gee om in alle omstandighede met woord en daad van Christus te getuig.

“Christenskap is nie ‘’n idee in die lug’ nie, maar ‘n ‘voete op die aarde’-verheerliking van Christus wat die Gees van die Waarheid bekend maak aan almal wat soekend is na die enigste Waarheid” (Frederick Brink).

Gebed: Dankie Gees van Christus, dat U ons as gemeentes saam bind en van ons ‘n eenheid maak. Dankie Almagtige dat U alle grense wegneem om gelowiges saam te voeg om te bid vir ons land en sy mense. Help ons nou om Christene te gaan wees in 'n wêreld wat nie "Christen-vriendelik" is nie en nie die essensie van Christenwees verstaan nie. Skenk ons 'n dieper verhouding met God en groter krag in ons geestelike lewe om in alle omstandighede met woord en daad vir Christus te getuig. Dankie dat ons kan vashou aan U onvergelyklike beloftes, beloftes wat krag het en waar is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page