top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 20 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (21)


Petrus sal Jesus verloën (2)


Ék sal nie, Here!


Matt. 26:33-35 – “Daarop het Petrus vir Hom gesê: ‘Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.’ Toe sê Jesus vir hom: ‘Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.’ Petrus sê vir Hom: ‘Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie.’ Al die ander dissipels het ook so gesê.”


Jesus is steeds besig om die dissipels voor te berei op die geweldige emosionele impak wat die volgende paar dae op hulle sou hê. Sy harde woorde dat “hulle almal Hom vannag nog in die steek sal laat”, het hulle heel waarskynlik diep getref. Die impulsiewe Petrus is dadelik “up in arms” en verklaar dat van al die dissipels, juis “hy nie Jesus sal verloën nie.” Die res van die dissipels beaam dit in ‘n koor. Opvallend dat nie een van hulle reageer op Jesus se aankondiging oor Sy opstanding nie (v. 32). Vir hulle was die opstanding moontlik nog ‘n onwerklikheid.


In die skadu van die kruis begryp Petrus in sy onkunde nie die situasie nie, tog verklaar hy sy bereidheid om sy lewe vir Jesus af te lê. Petrus klink soos iemand wat doodseker is van sy saak. Ook hier wil Petrus die heilsorde omkeer, hy wil vir Jesus “sy lewe aflê” (Joh. 13:37) terwyl Jesus op pad was om vir Petrus, en vir ons, Sy lewe af te lê. Plegtig verklaar Jesus dat Petrus Hom drie keer sou verloën nog voor die haan daardie nag kraai – Jesus maak uit liefde ‘n stelling. Hy slinger nie ‘n verwyt na Petrus nie.


Vir Petrus moes dit skokkende woorde gewees het, en moontlik het hy dit as vernederend ondervind. Maar alhoewel Petrus die een was wat sou struikel, het Jesus tog vir hom gebid dat hy nie sy geloof sou verloor nie en hy ook die een sal wees wat sy mededissipels sou versterk wanneer hy tot inkeer gekom het (Luk. 22:32).


Jesus het Petrus in al sy swakhede geken – sy impulsiwiteit, sy onbestendigheid, sy gewoonte om met sy hart te praat voor hy beplan het wat hy wil sê. Hy het Petrus geken soos hy was, selfs hoe sterk sy lojaliteit en swak sy bereidheid van sy voornemens is. Jesus het egter geweet dat Petrus se liefde vir Hom opreg is, hoe skeef en krom sy optrede ook al was, en dat hy ook eendag, die martelaarspad vir Christus, sou kon loop.


Hoeveel keer het ek en jy nie ons al voorgeneem om net soos Petrus, vol bravade, belowe dat ons voluit vir die Here gaan lewe net om kort daarna op ons gesig in die sonde neer te slaan nie? Hoeveel keer het ons nie al plegtig belowe dat ons nooit weer ... (voltooi jou eie voornemens.) En hoeveel keer moes jy, net soos ek, ons woorde in skaamte sluk nie? Gelukkig draai Hy nooit sy rug op ons nie. Jesus het altyd tyd vir ons, selfs nadat ons in sonde neergeslaan het. Hy kom keer op keer terug om ons wonde te verbind en ons lam knieë op te tel.

Jesus verwag nie van ons om op Petrus te verbeter nie. Hy sien nie net wat ons is nie, maar wat hy van ons kan maak. Hy ken ons harte – ten spyte van ons groot geloofsuitsprake, het ons die meeste van die tyd voete van klei. Daar is egter geen perke aan Sy liefde vir ons nie. Hy trek nooit ‘n streep en sê: Tot hiertoe het ek jou lief en niks verder nie. Sy liefde is eindeloos, grensloos, onveranderlik – “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Ef. 3:18). Wyd en ver en hoog en diep is gelyk aan allesomvattend en allesdeurdringend – dít is die liefde van Jesus, vir jou en vir my!


Ek dink julle sal met my saamstem dat ons dankbaar kan wees dat ons ‘n lewende Here dien wat vol genade en ontferming is. Natuurlik keur Hy nie ons sonde goed nie, maar Hy is keer op keer bereid om ons nog ‘n kans te gee. Uit onsself sal ons dit nooit regkry nie. Soos Petrus sal ons Hom nie net drie keer nie, maar dikwels verloën en teleurstel. As ons egter besef dat dit nie ons is wat probeer nie en die Heilige Gees toelaat om deur ons te werk, is dit moontlik om te verander. Dan verander ons teleurstellings en onbeholpenheid van vergoedings-liefde: “as jy my liefhet, sal ek jou liefhê” in Bybelse-liefde, Goddelike agapé-liefde, ten spyte van-liefde: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het (ten spyte daarvan) dat ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Kom ons plaas ons Jesus-teleurstellings agter ons en leef voort vanuit God se genade.


“Wat ook al die rede vir jou teleurstelling mag wees, verander die woord 'teleurstelling' na 'bestelling' – God se bestelling. In elke terugslag lê die saad van ‘n dieper en ryker lewe in Christus verborge”

(Solly Ozrovech).


Gebed: Here, ek het U al só baie keer verloën, maar dankie dat U bereid was om my telkemale te kom optel elke keer wanneer ek gestruikel het. Dankie dat U my telkens herinner het aan my afhanklikheid van U. Dankie dat U ten spyte daarvan dat ek U teleurgestel het, “my nooit prysgee nie, my nie laat vaar nie, my nie vernietig nie, en my telkemale verseker dat U liefde vir my sterk brand” (Hos. 11:8-9). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page