top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 14 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (17)


Sing tot eer van God ‘n loflied


Matt. 26:29-30 – “Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink. Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.”


Met hierdie slotwoorde in die Bovertrek, getuig Jesus van Sy kruisiging en aanstaande dood, maar ook van Sy vooruitsig op die oorwinning en die spoedige verkeer in die koninkryk met al die heerlikheid daarvan. Hier op aarde sal “Jesus van die vrug van die wingerd nie meer drink nie.” Die veronderstelling is dat die dissipels dit wel sal doen, maar Hy sal dit eers weer doen wanneer alles nuut geword het, dit is ná die voleinding. Met dié verklaring open Hy nuwe vergesigte en rig Hy die oog op die volheid en volkomenheid van die koninkryk van God waarna Hy verwys het met Sy openingspreek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby (tot by julle) gekom” (Matt. 4:17).


Om die verrigtinge van die Paasmaaltyd (nagmaal) af te sluit, sing hulle die gebruiklike triomflied uit die lofpsalms (Ps. 113–118), wat tydens die Paasmaal gewoonlik gesing word. Dan verlaat hulle die Bovertrek en gaan hulle uit in die rigting van die Olyfberg. Dit is amper verregaande om te dink dat Jesus in Sy donkerste uur, nog saam met Sy dissipels gesing het. Hulle is immers op pad na die Olyfberg waar Getsemane en Golgota oor ‘n paar uur op Hom wag. Ja, dit is hoe ek en jy as mens redeneer. Ons sou teen hierdie tyd ons lied verloor het en daarmee saam ons lewensgeluk en dood bekommerd gewees het oor wat vir ons voorlê. Maar Jesus stel wéér vir ons ‘n voorbeeld. Maak nie saak hoe donker dit om ons blyk te wees nie, ons kan steeds lofliedere sing tot eer van God – Hy is Almagtig, Hy bly in beheer!


Jesus kon sing omdat Sy hart in harmonie met God was; omdat Hy geglo het in die finale oorwinning van Sy saak; voor Sy kruisiging kon die mense nog dink Hy is maar net nog ‘n mens, maar ná Sy opstanding het almal wat in Hom glo, besef Hy is God! Daarom kon Hy “lofsange sing”, en nie lydensliedere nie. In Hom en deur Hom het God se koninkryk tot by ons gekom al was ons nie self daar toe Jesus tussen die mense rondgeloop het nie. Jesus is op pad na Getsemane en daarna, na die kruis waar God se grootste oorwinning sou plaasvind. Hy het ten spyte daarvan, Sy dissipels in ‘n lied gelei, ‘n loflied wat nie sy oorsaak in die omstandighede van die oomblik het nie, maar in die aard en betroubaarheid van God.


Jesus se lofsange getuig van Sy gehoorsaamheid aan die wil van God, al was dit vir Hom op daardie tydstip, as mens, baie moeilik. Hy het Hom steeds volkome oorgegee aan sy Vader se wense soos wat Hy dan ook later in Getsemane gebid het: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matt. 26:29). Sy pad het al hoe meer opdraande begin raak namate die kruis nader gekom het. Omdat Hy in sy Goddelikheid geweet het wat vir Hom voorlê, het Hy na die maaltyd saam met Sy dissipels, ook geweet waar om op die regte plek, krag te gaan soek – op Sy knieë in Getsemane, aan die voete van sy Vader.


Jesus leer hier vir my en jou dat ons moet lofsange sing wanneer ons moeilike tye beleef. (Dit was my “krag” met elke opdraande van al die ultramarathonne wat ek voltooi het, veral die vyf groot opdraandes van Comrades. Ek en Renette doen dit deesdae steeds terwyl ons stap vir oefening.) Ons gelowiges moenie ons lofliedere in donker tye verloor nie. Dit leer ons om te sing soos kinders van God deur al die eeue – omdat Christus ons geleer het om te sing. Meeste van die Christen-martelare het lofliedere gesing terwyl die vlamme van die brandstapels besig was om hulle te verswelg. Ons behoort ons te verbly as God ons sou vra om met die werk van Sy koninkryk aan te gaan omdat ons mos weet die oorwinning is reeds gewaarborg. Ons kan nou reeds oefen sodat ons eendag saam lofliedere kan sing in die hemel, tot eer van God.


“Lof aan God is seker die enigste van ons aktiwiteite hier op aarde wat onveranderd in die hemel voortgesit kan word” (C.S. Lewis).


Gebed: Here, ek wil U loof, want U is goed. Wanneer ek in nood is, kan ek met vrymoedigheid na U roep. U is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen? Om by U te skuil, is beter as om op mense te vertrou. U grootheid wil ek besing want U is my krag en my beskerming – aan U liefde is daar geen einde nie (Ps. 118). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page