top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 8 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (13)


Jesus gaan na sy Vader toe (2)


Kies die regte GPS


Joh. 14:4-6 – “En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan. Tomas sê toe vir Hom: ‘Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?’ Jesus het vir hom gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”


Met kinderlike eerlikheid vra Tomas toeligting omtrent die regte adres waarheen Jesus gaan, want die dissipels is steeds onseker oor al die gebeure en verstaan nog nie heeltemal die lydensweg wat Jesus moet volg nie. “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie.” Ons het nog nooit nodig gehad om U te vra waarheen ons gaan nie; ons het nog nooit ‘n padkaart nodig gehad nie, U was ons pad, U is ons pad. Ons het altyd net naby U gebly en U gevolg! Waarheen nou?


Tomas se redenasie en onsekerheid ontlok een van Jesus se bekendste uitsprake: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Jesus is op Sy lydenspad onderweg na Sy Vader toe om “woonplek vir ons gereed te maak”. Met nadruk beklemtoon Jesus dat “niemand na die Vader toe gaan behalwe deur Hom nie.” Om hierdie waarheid onuitwisbaar op die gemoed van elke mens in te skerp, spreek Jesus in bondige terme die sentrale waarheid van die heilsopenbaring uit: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”


Maar die gebeurtenisse wat kort ná die uitspreek van hierdie woorde sou volg, sou die geloof van die dissipels tot die uiterste beproef. Hy wat gesê het: “Ek is die weg”, sou magteloos aan die kruis hang; “Ek is die waarheid”, maar die leuens van mense sou skynbaar die oorwinning behaal; “Ek is die lewe”, en voor die son daardie dag onder is, sou Sy lyk in die graf neergelê word. Wat hulle egter nog nie ten volle begryp het nie, was dat die dag van die opstanding en die triomf drie dae later sou volg, en dan sou onteenseglik bevestig word: “Jesus ís die weg en die waarheid en die lewe!”


Elkeen van ons is in ons geestelike lewe, iewers heen onderweg. Elke mens móét een of ander tyd die finale tree gee in die ewigheid in, daar is geen uitdraai pad nie. In ons lewe is daar baie roetes wat ons neem. Party mense bevind hulle op die hoofpad van sukses, ander weer op ‘n hobbelrige oop nasionale pad met lyding en swaarkry as rigtingwysers. Sommiges bevind hulle op kruispaaie met verskillende rigtings, en weet nie waarheen nie, die meeste eindig in ‘n doodloopstraat. Baie mense verkies die “breë pad” want dit is ‘n maklike pad met baie afdraandes, afdraandes tot binne die hel, want Jesus is nêrens op daardie pad te vinde nie!


Daar is net twee keuses gedurende ons aardse lewe wat ons finale bestemming gaan beïnvloed: Die “nou poort en smal pad” of die “wye poort en breë pad,” (Matt. 7:13-14). Daar is ongelukkig geen middeweg of moderne alternatief nie! Jesus sê: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (Matt. 10:28). God se genadepad is die pad wat Jesus kom herstel het en wat deur ons in geloof erken moet word en beantwoord moet word. Jesus is ons “GPS”, want God Praat So! Hy is die enigste weg wat ons by die waarheid en die lewe sal uitbring. Ek en jy moet seker maak ons gebruik die regte GPS!


“Goeie nuus is om die beste Gids op die beste pad tot jou beskikking te hê” (Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Dankie Here vir ‘n keuse om dissipel van U te kan wees. Help my om met oorgawe U te kies. Ek is so geneig om my hart en lewe te vul met vlak, stoflike wêreldsdinge in my soektog na geluk en gemak. Ek wil só graag aanvaar en waardeer word deur die “mense” dat ek vergeet dat ewige geluk net gevind kan word in U genade, op U pad. Here, wees asseblief my gids, my GPS, elke dag, sodat ek op die regte weg kan bly. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page