top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 7 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (12)


Jesus gaan na sy Vader toe (1)


Ons deel in Jesus se glorie


Joh. 14:1-4 – “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”


Omdat die evangeliste net die kern van gebeurtenisse opskryf, en nie alles wat gebeur het nie, is dit miskien nodig om hier Johannes se weergawe van Jesus se lydensverhaal ook by te voeg. Johannes sluit aan by die drie Sinoptiese Evangelies van Matteus, Markus en Lukas wat “saam kyk” (sinopties = saamkyk) na Jesus. Hulle het dus ‘n gemeenskaplike boodskap oor Jesus terwyl Johannes, “anders” kyk na dieselfde Jesus maar inderwaarheid hulle evangelies aanvul. Dit word aangeneem dat die volgende gesprekke, volgens Johannes, tydens die paasmaaltyd plaasgevind het.


Daar was dinge aan die gebeur wat die dissipels diep ontstel het en hulle harte, innerlik in beroering gebring het. Tydens die Paasmaaltyd het verskeie skokke hulle ontstel. Eers was daar die voetwassing wat hulle nie begryp het nie; toe verklaar Jesus dat Hy van hulle af weggaan, maar deur een van hulle verraai sou word; met groot erns het Hy bekend gemaak dat hulle almal Hom sou verlaat en Petrus Hom daardie selfde nag sou verloën.


Hierdie dinge het by die dissipels onsekerheid omtrent hulle eie trou aan Jesus gewek en onduidelikheid oor die onmiddellike toekoms, gebring. Buitendien, hulle het alles verlaat en Hom vir ongeveer drie jaar gevolg, maar wat sal nou van hulle word as Hy weggaan en sê dat hulle nie kan kom waar Hy heen gaan nie? (Joh. 13:33). In hierdie omstandighede is ’n woord van Jesus nodig om hulle gerus te stel en toe te rus vir die nog groter ontsteltenisse wat vir hulle in die volgende drie dae wag.


Baie Christene kan getuig van soortgelyke situasies wat die dissipels op daardie Paasfeesaand beleef het – die een oomblik is alles reg en die volgende oomblik is alles verkeerd. Jesus wys egter vir ons hoe om te midde van teleurstellende omstandighede en deurmekaar gemoedere, steeds staande te bly en oorwinnend uit die stryd te tree met die leuse “Glo in God; glo ook in My”


Jesus vestig die oog van Sy dissipels op “die huis van my Vader”, waarheen hulle op pad is. Jesus meld dat daar baie woonplek is en Hy plek vir hulle gaan voorberei. Die feit dat Hy gaan “om vir [ons] plek gereed te maak”, bevestig ook dat niemand in die hemel plek sal kry as Jesus, die Middelaar, nie vir hom of haar intree nie. Die voorbereiding van plek in die hemel is ook nie Jesus se laaste daad nie. Hy sal weer terugkom om Sy volgelinge na die plek wat vir hulle gereed gemaak is, te neem sodat hulle kan wees waar Hy is. Daarom kan ons aanneem dat die dood van elke gelowige, vir hom of haar die vervulling is van die belofte van Jesus. Wanneer die Christen-gelowige se lewe op aarde eindig, is dit die tyd dat Jesus na hom of haar terugkom en wegneem na die hemel om altyd te kan wees waar Hy is. Dit is die heerlike vooruitsig vir elke kind van God.


Dit is normaal vir ‘n Christen om nie gespaar te word van die teleurstellings van die lewe nie. Dit is ook normaal om onder al die druk te wil knak, beangs te voel soos die dissipels, beangs oor gebeure by die huis, land en wêreld; verward is; finansiële spanning beleef; onuithoudbare omstandighede by die werk of skool, en die lys word daagliks langer! Maar nou kom Jesus en vertroos ons met die woorde: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” Dit is ‘n enorme troosryke gedagte om te weet dat God ook ons Vader is. Jesus stel ons gerus en moedig ons aan om nie ontsteld te wees nie. As ek en jy deel is van Jesus se span, is ons inderdaad deel van God se huisgesin en het ons deel aan “die huis van Sy Vader waar daar baie woonplek is”.


Vanuit hierdie oortuiging ontspring daar ‘n verwagting dat alles moontlik is. Die moontlikheid is egter onderhewig aan geloof: “Glo in God; glo ook in My”! En dit is wat Jesus ook hier vir ons wil sê! Hy verseker ons Christen-gelowiges van ons ewige “woonplek”! Tydens Sy lydensweg loop Jesus voor en dra Hy ons na die plek van rus wat Hy vir ons bestem het omdat Hy meer en beter weet as ons. Vir God is die dood nooit 'n tragedie nie, Hy neem ons na Sy huis wanneer ons sterf, Hy doen wat enige pa wat sy sous werd is, sou doen – Hy voorsien aan ons 'n beter plek om te rus, 'n plek wat Hy vir ons voorberei het. Daarom sê Jesus ons moet nie ontsteld wees nie, want die dood is nie ons einde nie, dit is eintlik deur God se genade, die begin!


“Onthou dat geloof nie net vertroue op Christus se beloftes beteken nie, maar ook verbondenheid aan Sy eise” (William Barclay).


Gebed: Dankie Here dat ek kan glo waarop ek vertrou, staatmaak en hoop, want my vertroue is in afhanklikheid tot U. Dankie dat U uit U oorvloedige rykdom sal voorsien. Dit verseker ware en blywende lewensvreugde. Selfs terwyl ons daagliks gekonfronteer word met die dood, kan ek as Christen saam met Paulus prewel: “ ... om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil. 1:21). Daarom bid ek vir elkeen wat steeds spanning en angs ervaar oor die ewige toekoms wanneer hulle aardse lewe tot ‘n einde kom, dat hulle sal rus vind in “die huis van ons Vader waar daar baie woonplek is”. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page