top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 6 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (11)


Die instelling van die nagmaal (3)


Die Brood van die lewe verseker die ewige lewe


Joh. 6:53-59 – “Maar Jesus sê vir hulle: ‘Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.”


Om ‘n gas by hierdie spesiale ete te wees waar Jesus die Gasheer is, is om die ete van alle etes te beleef. Ek en jy hoef nie ‘n noemenswaardige titel, ‘n sekere posisie, geld of enige prestasies te hê om ook ‘n gas by Jesus se ete te wees nie – vernaamheid beïndruk Hom net mooi niks nie. Hy nooi mense wat nederig is graag na sy maaltyd toe, mense wat verstaan wat die brood en wyn beteken. Prof. Stephan Joubert stel dit pertinent dat “Jesus hier ‘n nuwe verbond inlui. Dit is presies hier waar die Nuwe Testament begin want Jesus se eie bloed vervang die plaasvervangende bloed van offerdiere wat hemel en aarde moes verbind. Dit is waaraan die wyn ons moet herinner: Jesus se eenmalige offer en Sy bloed wat moes vloei aan die kruis om versoening te bewerkstellig en ons in vrede met God kan leef.”


Johannes bevestig dit ook in sy evangelie wanneer hy verwys na Jesus: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee” (Joh. 6:47-48). Hy beklemtoon hierdie waarheid met ‘n versekering en wanneer Jesus iemand verseker, is dit honderd persent versekering. Daar is geen ander weg na die ewige lewe nie, dit kan net verkry word deur Hom. “Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kan na die Vader toe behalwe deur Hom nie“ (Joh. 14:6). Jesus is die Brood wat lewe gee. Hy oorwin die dood en skenk die ewige lewe. Maar dit doen Hy alleen aan dié wat bereid is om deur die geloof van hierdie brood te eet en bloed te drink.


Verstaan ons regtig wat dit beteken om volgeling van Jesus te wees, om in die innigste lewensgemeenskap met Hom te leef? Waarom loop ek en jy agter Jesus aan, waarom eet ons van hierdie lewegewende brood en drink ons Sy bloed? Jesus sê vir ons in Johannes 6 dat om Hom te volg, nie noodwendig beteken om 'n vol maag en veiligheid teen al die aanslae van die lewe te hê nie, maar eerder dat dit beteken om werklik te lewe. En om werklik te lewe, sê Jesus, vereis 'n baie nabye verhouding met Hom, iets soos 'n eenwording met Hom en die saak waarvoor Hy gestaan het. ”Dit verseker Ek julle: My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”


Wat beteken dit prakties wanneer ons Jesus se liggaam eet en Sy bloed drink? Wat 'n mens eet en drink word immers verteer en tot in die uithoeke van die liggaam versprei om deel te word van jou hele sisteem. Net so, sê Jesus, moet dit wees wanneer ons Sy liggaam geëet en sy bloed gedrink het: Christus, en die gesindheid wat in Hom is, moet óók my en jou hele sisteem só deurtrek. Só deurtrek dat ons Sy hande en voete in hierdie wêreld kan wees; ons hande wat brood uitdeel aan die hongeriges; ons dwars begin draai teen eiegeregtigheid en eiebelang; vrede soek met ons naaste; met Christusharte leef; om sagmoedig, nederig, barmhartig op te tree. Met ander woorde, wanneer ons Jesus se liggaam eet en Sy bloed drink, moet die liefde van 1 Korintiërs 13, ons curriculum vitae, my en jou getuigskrif word.


Dit is steeds God se wil dat ons die ewige lewe sal hê en Jesus skep die moontlikheid om die ewige lewe te verkry, vir alle mense. “Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” Dit is die keuse waarvoor Jesus elke mens plaas. Wat is ons keuse? Gaan ek jy van die hemelse brood eet en só die ewige lewe kry of is ons geestelike voedsel gemorskos, gevriesde kos, babakos of kitskos? Watter soort brood is ek en jy? Standaard, rog, skimmel, volgraan, taai korsie?


“God forseer nie Sy wil op ons af nie, Hy waarsku ons egter dat ons die gevolge van ons keuses sál dra”

(Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Jesus, Brood van ewige lewe, dankie dat U al ons geestelike behoeftes vir altyd bevredig. Dit is die behoefte van my hart om voortdurend by U oneindige reserwebronne krag te put, nie net om die behoeftes van my liggaam te bevredig nie, maar omdat ek ‘n ewigdurende behoefte aan die Brood van die lewe het, want dáár vind ek die lewe van oorvloed en ewigheid. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page