top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 5 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (10)


Die instelling van die nagmaal (2)


Vier fees maar doen dit reg


Matt. 26:26-28 – “En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: ‘Neem, eet; dit is my liggaam.’ Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.”


Vir ons as kinders van die Here, vorm Jesus hier vier genadewoorde – “neem, breek, gee en eet” – wat uiters belangrik is vir elkeen van ons. Jesus het my en jou sondes op Hom “geneem” om dit na die kruis te dra en sê daardeur: “Kom ‘neem’ by My sodat julle kan lewe en van dié lewe, vir ander kan ‘gee’; My liggaam is aan die kruis ‘gebreek’ sodat julle heelgemaak kan word; God het julle só lief dat Hy My aan julle ‘gegee’ het sodat julle ook liefde kan gee en nie terughou nie; ‘eet’ van My geestelike voedsel sodat julle nie geestelik sterf nie: versterk julle geloof met die Woord van God, volhard in gebed en stel julle oop vir die werk van die Heilige Gees.”


Dit is 'n nuwe Pasga, want Jesus en Sy dissipels eet en drink met 'n nuwe betekenis, nie meer die vleeslike lam van die Ou-Testamentiese Pasga nie. Hulle eet en drink om in die verbond met Hom (deur geloof in Hom), deel te hé aan al die weldade van Sy kruisiging. Dit dui verder ook op geloofsvertroue in die toekoms saam met Hom. Die nagmaal as gemeenskapsmaal sal tot en met Jesus se wederkoms, terugwys na Sy eenmalige en volledige sterwe ter versoening van ons sondes aan die kruis.


Die pasga kry vanself nou ’n nuwe gestalte soos dit in die nagmaal voortleef, en dit word herhaal tot gedagtenis aan die Lam wat geslag is vir die behoud van álle gelowiges in Christus Jesus! So is die nagmaal nie net maar 'n ete waar ons 'n stukkie brood en 'n slukkie wyn kry nie. Die nagmaal is ‘n ete waardeur ek en jy ons verbintenis toon. Ons verbind ons geestelik aan die liggaam van Christus; ons kry deel aan Christus deur die geloof, deur die werking van die Heilige Gees; dit versterk ons geestelike eenheid met God in Christus.


Met nagmaal erken ons dat ons glo dat Jesus Christus juis na die aarde toe gekom het om ons van ons sondeskuld te kom verlos. Elke keer wanneer ons deelneem aan die nagmaal erken ons daarmee dat ons met ons hele hart en siel glo dat ons sondes vergewe is deur Jesus Christus se kruisiging. Ons moet hierdie waarheid áltyd aan die mense van die wêreld verkondig, nie nét tydens nagmaaltye, dat hulle ook vrygespreek sal word indien hulle in Jesus Christus sou glo.


Die nagmaal behoort met ‘n gesindheid van selfondersoek gevier te word – ek en jy moet onsself ondersoek of ons werklik hierdie dinge glo? Ons moet onsself afvra of daar sonde tussen ons en God staan wat nog nie voor Hom bely is nie? Ons moet ons hart voor die Here oopmaak sodat ons sonder valsheid voor Hom staan: “Maar elkeen moet homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself” (1 Kor. 11:28-29). Indien ons dus waak oor die waardige gebruik van die nagmaal, kan ons dan voorberei op die ewige geluksaligheid wat ons in die hiernamaals sal smaak: “Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is” (Op. 19:9).


Ek en jy is die eregaste by die nagmaal en ons vier fees saam met ons opgestane Here! Dit is belangriker om die nagmaal reg te verlaat as om reg daar aan te kom. As ons nie besef het dat ons die opgestane Here by hierdie maaltyd ontmoet het nie, het ons dit verkeerd gevier. Daarom is dit belangrik dat ons die nagmaal verlaat met die besliste wete dat ons saam met Jesus geëet het. Wat ‘n voorreg om saam met die belangrikste Persoon in die heelal te kan eet. Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer. Ek sien elke keer uit na hierdie maaltyd saam met ons opgestane Jesus Christus, ons Here. En jy?


“’n Mens het twee monde: Die mond van jou maag en die mond van jou siel – jou geloof! As jy met die mond van jou maag die brood eet en die wyn drink, neem jy deur jou geloof Jesus se liggaam in jou hart in”

(Johannes Calvyn).


Gebed: Dankie Jesus dat U bereid was om U liggaam vir my sondes te breek; bereid was om U bloed te stort sodat God my kan vergewe. Dankie dat U my elke keer wanneer ek nagmaal gebruik, herinner dat ek ‘n sondaar is, maar Goddank, dat ek vergewe is. Dankie Vader, dat mense nie die Weg, die Waarheid en die Lewe, kon doodkry nie, daarom hoef ek nie die vyand te vrees nie. Dankie goedertierende Vader dat U aan my U kostelike skat, die ware hemelse brood en die spys van die ewige lewe, deur U heilige sakrament gegee het sodat ek deelagtig kon word in Sy verlossing. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page