top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 4 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (9)


Die instelling van die nagmaal (1)


Jesus en die dissipels deel in die triomf oor die dood


Matt. 26:26-29 – “En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: ‘Neem, eet; dit is my liggaam.’ Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”


Vergelyk ook 1 Kor. 11:23-25 – “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is My liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.’ Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”


Jesus weet Hy bevind Hom aan die vooraand van Sy dood en daarom het Hy verlang om hierdie laaste keer die pasga saam met die dissipels te vier. Daarmee sou Hy die geleentheid hê om hulle voor te berei vir die tyd dat Hy in die vlees van hulle geskei sou wees. Wanneer die ete sy gang neem, openbaar Jesus sy innige verbondenheid aan Sy dissipels met ryke beloftes en tree Hy op as die “huisvader”. Hy sorg dat alles geskied volgens die vasgestelde voorskrifte. Hy handel koninklik as die Beskikker oor alles, en ook met Goddelike voorkennis as die Seun van God.


Op ’n bepaalde tydstip het Hy die brood geneem, ’n seën- en dankgebed gedoen en dit op ’n besondere wyse gebreek en aan die dissipels gegee. Die gebreekte brood simboliseer Sy liggaam wat ter wille van alle gelowiges, aan die kruis gebreek gaan word. Daarby verklaar Hy dat, net soos die brood gebreek en deur hulle genuttig word, sy liggaam beskikbaar gestel sal word tot heil van sy volgelinge: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie” (Joh. 6:35a).


Nadat almal van die brood geëet het, neem Hy die beker van danksegging, spreek die danksegging uit, en gee dit aan hulle dat almal daaruit kan drink. Deur in tafelgemeenskap te deel, en van dieselfde brood en beker te gebruik, word die dissipels saamgesnoer tot ’n hegte eenheid, ’n ‘nuwe volk van God wat met die Here en met mekaar in die nouste verbondenheid verkeer.’ Hierdie volk is nie meer ’n bepaalde nasie nie, maar almal wat in Hom glo, die nuwe ‘Israel,’ wat uitgelei word uit die slawediens van die sonde na die vryheid van die kindskap van God. Die eenheid het sy grond in die feit dat die Here ’n nuwe testament tot stand gebring het deur sy eie bloed, waarvan die wyn die teken is: “Wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh. 6:35b).


Tans, in die dag van vervulling, word die nagmaal as ’n nuwe instelling gegee, om te herinner aan ’n nuwe verbondsluiting en die verlossing van baie mense – Jesus gee Sy eie liggaam en bloed vir die behoud van elkeen wat in Hom glo. Die nagmaal is die ete van alle etes want dis een van die grootste geskenke wat Jesus aan ons as Sy kerk gegee het. Wanneer ons deel in die nagmaal, deel ons dit met die heel belangrikste Persoon in die heelal, die Koning van alle konings en Heerser van alle heersers, Jesus Christus.


Jesus is self die gasheer by die nagmaal. Hy deel spesiaal vir jou en my wat so bevoorreg is om saam met Hom te eet, die brood en wyn uit. Wanneer ons dit eet en drink, sê Hy sélf vir ons dat dit tekens is van Sy liggaam wat ter wille van my en jou gebreek is, en Sy bloed wat ter wille van ons sondes gevloei het. En die kersie op die koek is dat Hy só verheug is dat ons nie meer op pad na die verdoemenis toe is nie, dat Hy hierdie nagmaalsmaaltyd kort-kort aanbied. Hy wil gereeld saam met ons eet net om ons oor en oor te verseker dat ons volledig nuut gemaak is, en Sy bloed ons skoon gewas het van ál ons oortredings. Ek en jy moet ons net elke keer goed voorberei vir ons ete saam met Jesus, dit is deur en deur die moeite werd!


“Jy kan die Waarheid in ‘n graf sit, maar Hy sal nie daar bly nie. Jy kan Hom aan ‘n kruis vasspyker, in doodsdoeke toedraai en agter ‘n reuse klip toemaak, maar Hy sal opstaan en lewe. Niemand kan die Enigste Waarheid doodkry nie” (Clarence W Hall).


Gebed: Almagtige Vader, ek loof en dank U dat U aan my U kostelike skat, die ware hemelse brood en die spys van die ewige lewe, Jesus Christus, deur U heilige evangelie en sakrament gegee het. Dankie Jesus dat ek U gelowig mag aanneem en deelagtig kan word in elke nagmaalsmaaltyd, die ete van alle etes waar U self die brood en wyn vir my gee, as toe-eiening van God se genade. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page