top of page

Gedagte vir Vandag

27 Okt 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

OM JESUS TE VOLG (3)

(Mark. 8:34-9:1; Luk. 9:23-27)

SEKERHEID IN ‘N ONSEKER WÊRELD!

Matt. 16:27-28 – “Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Vergelyk ook Titus 1:1-2 – “Ek (Paulus) het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe.”

Dit lyk asof die omstandighede in die wêreld en veral hier in ons eie Suid-Afrika waarin ons vandag leef, die slegste is wat dit nog ooit was. Alles wat ons sien en hoor, ontstel ons en die oorgrote meerderheid mense kyk na die toekoms met huiwering en onsekerheid, onsekerhede wat mense opkeil, selfs figuurlik opvreet. Onsekerhede laat ’n mens erg wonder oor die dag van môre, veral as ’n mens nog kinders het en wonder oor hulle toekoms, raak ’n mens bang. Wanneer ‘n kindjie gebore word het ouers en grootouers allerlei drome vir daardie kindjie. Onsekerhede en veral doodgaan, is egter nie deel daarvan nie.

Ek is seker as ons elkeen nou ’n lysie moet maak van dinge waaroor ons nie presies seker is nie, gaan dit ’n lang lysie wees. Op die meeste van ons se lysie sal die land waarin ons woon en die regeerders, baie na aan bo wees, of heel bo. Die wat grond het, gaan wonder of hulle nog grond gaan hê. Wel, die kragsituasie bly heeltyd onseker. En die wat dink hulle werk is veilig, moet dalk nie so seker wees nie.

Sommige mense sal moontlik nou sê dat ek swartgallig is, maar luister net na mense om jou se gesprekke. Groot onsekerheid staar hulle in die oë en hulle weet nie herwaarts of derwaarts nie. In baie mense se lewens kom maak onsekerheid sy lêplek en dit maak ’n mens moeg. En boonop klink die helder stemme van die doemprofete in ons ore en hulle verkondig dag en nag die hooploosheid van ons situasie. Al hoe meer mense verval in wanhoop en gee moed op.

Die geskiedenis openbaar egter dat hierdie toestand waarin ons vandag leef, geensins nuut is nie. Deur die eeue heen het die wêreld en sy mense reeds rampspoed ervaar, maar in elke geval het God oor Sy mense gewaak en Sy skepping bewaar, soveel so dat die psalmis selfs in sy teëspoed kon sê: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie” (Ps. 136:1) en soos ‘n refrein beklemtoon: “aan sy liefde is daar geen einde nie.” Daarom kan, en moet ons nooit die feit uit die oog verloor dat wat ook al met ons en met mense rondom ons gebeur, Jesus onderneem het om by ons te wees tot aan die voleinding van die wêreld (Matt. 28:20). Paulus kom bevestig ook daardie sekerheid in ons vergelykende teksvers.

As ons in Jesus glo, dan is die kaartjie na die hemel bespreek. Al kom ons sonder die kaartjie by die hemel se hekke aan, hoef ons steeds nie bekommerd te wees nie, want die Bybel leer ons dat ons wat in Jesus glo, se name in die boek van die lewe geskryf word. Tussen die hoop onsekerhede moet ons vashou aan hierdie groot belofte van God. Op ’n manier raak die klomp onsekerhede nogal minder, want as ons weet dat God vir die lewe hierna gesorg het, sal Hy mos ook sorg vir môre en oormôre en die dae daarna.

Kom ons verjaag die onsekerhede. Kom ons glo dat God op ’n manier steeds vir ons sal deurkom. Kom ons hou vas aan Sy beloftes en gaan leef ’n lewe vol vreugde en vrede, al is die prentjie vir ander dalk so effe donker. Wat ook al in jou lewe gebeur, weet dat die lewende Christus nog steeds in beheer is. Laat sy Gees hierdie boodskap op ons harte en lewe ingraveer en hou daaraan vas soos ‘n drenkeling aan sy reddingsgordel. Dan sal ek en jy gereed wees wanneer Jesus weer “saam met sy engele kom en Hy beklee sal wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en elkeen volgens sy dade sal vergeld.”


Laat toe dat die Heilige Gees jou toerus om geduldig op Jesus se wederkoms te wag, ontslae te raak van die onsekerhede rondom jou, want ons kan glo en vashou aan God se beloftes: “Ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” (2 Pet. 3:13).

“Die enigste lig op die toekoms is geloof in die plan van God met hierdie wêreld” (Anoniem).

Gebed: Ons Vader in die hemel, ek het vandag se insig deur u Gees só nodig gehad, want die lewe daar buite lyk nie lekker nie. Maar dankie Here, U is vir my ‘n “toevlug van geslag tot geslag” (Ps. 90:1b), en daarom is die grootste bron van troos en bemoediging vir my, dat ek ‘n ewige tuiste het waarna ek heen gaan aan die einde van my vermoeiende aardse reis. Intussen vra ek U, Gees van God, help my om gereed te wees sodat, wanneer Jesus Christus weer kom, ek gereed sal wees om Hom tegemoet te gaan. Maak my vry van vrees en onsekerhede, laat ek in U rus en vrede vind. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page