top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 27 September 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (4)


Jesus was die voete van sy dissipels (3)


Perfekte Voorbeeld


Matt. 26:18b-19 – “Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.”


Vergelyk ook Joh. 13:10-17 – “En Jesus sê vir (sy dissipels): ‘En julle is nou skoon, maar nie almal nie.’ Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: ‘Julle is nie almal skoon nie.’ Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: ‘Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ‘n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”


Daar is reeds aangedui dat die voetwassing van Jesus ’n dubbele betekenis het: Dit is ’n voorbeeld van nederige diens en dit simboliseer ook die afwassing van sonde waardeur ons gelowiges in Christus, deel het aan die heerlikheid van Hom. Nadat Jesus die voete van almal gewas het, trek Hy weer Sy bokleed aan en neem Sy plek aan tafel in. Hy tree dan as die perfekte gasheer op en volg met ’n gesprek waarin Hy die eerste betekenis voorhou wat as een van die eienskappe van ‘n ware dissipel van Hom, word.


Jesus het vir élke ware dissipel van Hom ‘n voorbeeld van nederigheid voorgestel, ‘n voorbeeld wat trouens kenmerkend vir ons behoort te wees sodat ons bereid sal wees om mekaar se voete te was. Die bedoeling is egter nie dat ons letterlik mekaar se voete moet was nie, maar soos Jesus Sy volgelinge in nederigheid gedien het, behoort ons ook mekaar, in nederigheid dien.


Ons is almal saam aan die Gasheer, Jesus Christus se tafel. Ons bewandel dieselfde sondige paaie, volg dieselfde afdraaipaaie. Nie één van ons se voete is skoon nie. Verder wys Jesus vir my en jou, ons is mekaar se voetwassers! Daar is nie ’n ander betrekking beskikbaar in die kerk nie. Ons moet ook bereid wees om onsself te verneder en soos Jesus die mondering van ’n slaaf aan te trek. Dit gaan nie net om diens nie, maar nederigheid daarmee saam. Jesus sê dan ook vir ons om Sy voorbeeld te volg en met dieselfde gesindheid mekaar se voete te was, (en nie mekaar se koppe te was nie!)


ʼn Dienskneg van God is nie bevooroordeeld nie, hy of sy dien mense ongekwalifiseerd en onbaatsugtig: “Julle weet dit nou; gelukkig (salig) is julle as julle dit ook doen.” Indien ons dit nie doen nie, sondig ons: “As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde” (Jak. 4:17). Dit is net moontlik wanneer ons toelaat dat Jesus ons voete ook was. Vir Hom was dit nie ‘n probleem om te dien nie en daardie diensbetoon het Hy aan ons nagelaat: “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” Vergeet van eiebelang; vergeet van eiegeregtigheid; wees nederig: “Ons moenie net aan ons eiebelange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil. 2:4).


Judas het vir ongeveer 3 jaar die meelewing, gemeenskap en innige liefdesvoorbeeld van Jesus ondervind en selfs tot op die einde, tydens sy voetwassing, die geleentheid gehad om te verander, maar het nooit werklik tot bekering gekom nie! “Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense” (Rom. 16:18). Jesus roep vir my en jou op tot konkrete en praktiese dade van diens en nederigheid teenoor mekaar (Joh. 13:17). Geen mens is ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar slegs vir wat hy gegee het. Wat gee ons vir Jesus? Was ons ander se voete, al is dit Judas s’n? “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees” (Matt. 20:26-27).


“Sy reaksie nadat hy ‘n skildery in ‘n winkelvenster gesien het, het sy lewe verander: ‘God ... God washing feet? If God is like that. Then that God shall be my God” (Henry Hodges, professor in Filosofie – Oxford Universiteit).


Gebed: Here, ek plaas nie net my onreine voete in U skottel nie, maar my hele liggaam. Laat my toe om elke keer wanneer ek nie bereid is om te help dat ander rondom my se voete “skoon” bly nie, terug te keer na die “Bovertrek” sodat ek U dop kan hou soos U van een dissipel na ‘n ander beweeg, terwyl die water spat en die handdoek al hoe vuiler word. Dwing my op my knieë en skenk my die krag, sodat ek diensbaar kan wees, diensbaar om deur U genade, in U raamwerk in te pas. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page