top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 24 September 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (3)


Jesus was die voete van sy dissipels (2)


Silwerskoon


Matt. 26:18b-19 – “Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ 19Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.”


Vergelyk ook Joh. 13:6-10 – “Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: ‘Here, gaan Ú mý voete was?’ En Jesus antwoord hom: ‘Wat Ek doen, begryp jy nie noú nie, maar later sal jy dit verstaan.’ Maar Petrus sê vir Hom: ‘U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!’ Daarop sê Jesus vir hom: ‘As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.’ Simon Petrus sê toe vir Hom: ‘Here, dan nie net my voete nie maar ook my hande en my gesig.’ En Jesus sê vir Hom: ‘Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie.”


Heeltemal verslae en stil van verbasing, kyk die dissipels toe terwyl Jesus een na die ander se voete was. Heel moontlik was hulle beskaamd – hulle wou aanvanklik nie aan die spel van die vernedering van hulle Meester deelneem nie, eerder twis oor wie die belangrikste is. Miskien moet hulle aanbied om verder voete te was. Vir Petrus word dit egter te veel en hy maak heftig beswaar toe hy aan die beurt kom. Daarin tree hy stellig op as mondstuk vir die ander en erken hy Jesus se hoogheid deur Hom aan te spreek as “Here”. Dit het net nie vir hom reg gevoel dat Jesus hierdie ondankbare slawewerk van voetewas, moet doen nie. Hy was immers God se Seun en voetewas is iets wat selfs ‘n Joodse slaaf kon weier. Dit het net nie gepas by Hom dat Hy hulle almal se dienskneg word nie.


Die voortvarende en impulsiewe Petrus weier eers want hy begryp nie dat dit nie net oor die daad van nederige diens gaan nie, maar oor die wassery self. Na Jesus se verduideliking dat hy later sou verstaan en oortuiging dat dit die enigste manier is waarop hy deel aan Jesus kon kry, wil hy sommer oorboord gaan en heeltemal gewas word.


Petrus verstaan wéér verkeerd, dit gaan nie om die was van sy liggaam nie, maar oor die bereidheid om deur Jesus se offer aan die kruis gereinig te word van al jou sonde: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Skrikwekkend! Jesus keer die waardesisteme van hierdie wêreld om – God se mag en liefde lê in opoffering, die opoffering om Sy seun aan die kruis te laat vasspyker – wie dit nie wil aanvaar nie, sal ook nie verstaan dat God sondaars, deur die vernedering van die kruis kan red nie. Daarvan is hierdie voetewas van Jesus ‘n teken vir my en jou! Dit gaan om ons erkenning van ons sonde en dat ek en jy alleen deur Jesus se vernederende liefdesdiens tot die uiterste toe, daarvan verlos kan word.


Met beeldspraak antwoord Jesus vir Petrus: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie.” Hierdie waarheid word deur Jesus toegepas op die reiniging van sonde. Wie eenmaal deur Christus gereinig is, bly skoon. As jy gered is, is jou sonde heeltemal weggewas en vergewe – jy hoef nie aanhoudend gered te word nie, Jesus kan nie weer gekruisig word nie. Tog kom ons daagliks met die sonde in aanraking – ons voete word nog vuil – en het ons daagliks reiniging nodig en daarom is dit nodig om daagliks ons sonde te bely. Jesus moet gereeld ons voete was (Matt. 6:12; 1 Joh. 1:9). Ons is eens en vir altyd geregverdig, maar moet daagliks groei in heiligmaking en om vergifnis te ontvang, is dan ‘n geloof-aksie. Die bloed aan die kruis, “was” nie net ons voete nie, maar reinig ons van alle sondeskuld. Glo dit! Leef dit!


“Hy het die voete van Sy dissipels gewas; Hy het gegésel en bebloed aan ‘n kruishout gehang en dié vergewe wat Hom daaraan vasgespyker het; Hy het vir hulle gebid omdat hulle nie geweet het wat hulle doen nie” (David Gregg).


Gebed: Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit U volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde” (Miga 7:18). Dankie Heer dat U aan my weer en weer genade betoon, dat U nie moeg word om my voete te was nie. Dankie dat U maar elke keer my sondes tot niet maak. Dankie vir U bloed wat my vergifnis moontlik gemaak het en dat ek vir altyd gereinig is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page