top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 20 September 2021

Koos Espach


Jesus word in Betanië gesalf (5)


Om te waag of nie


Matt. 26:13 – “Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.”


In dieselfde gemeenskap waar daar met haat moordplanne gesmee word, openbaar Maria haar liefde op uitsonderlike wyse teenoor Jesus deur met ontroerende teerheid, ‘n kosbare fles reukolie oor Hom uit te giet. Met haar daad het sy profeties vorentoe gewys na die "geur" (die vrug en vreugde), van Jesus se begrafnis. Die betekenis van Sy versoeningsdaad aan die kruis sal vir eeue hierna nog soos 'n "welriekende geur" oor volke en nasies hang wanneer hulle besef wat Hy werklik aan die kruis bereik het. Haar liefdesbetoning is deur en deur 'n huldeblyk en die verhaal van haar weldaad aan Jesus behoort steeds tot een van die kosbaarste juwele van die evangelie.


Hierdie gebeurtenis is by uitstek ‘n aangrypende voorbeeld van onbaatsugtige liefde. Om Jesus te vereer het hierdie naamlose vrou (volgens Matteus), kosbare reukolie wat ‘n simbool was van haar swaarverdiende besittings, aan Hom geoffer. Terwyl ander Jesus se dood beplan, het Maria, (volgens Johannes), haar buitensporige liefde oor Jesus uitgestort en haar toewyding en respek as vrou, aan Hom betoon. Sy het besef dat Jesus die Messias-Koning is wat gesalf moet word soos dit ‘n koning betaam, maar ag haarself nie werd om Sy hoof aan te raak nie soos altyd met ‘n koning gedoen is nie, maar uit nederigheid eerder Sy voete. Met haar daad van toewyding verklaar sy onwetend Hom tot Koning, en balsem sy Hom eintlik as die Koning wat Sy lewe vir Sy vriende kom aflê het, wat sal ly en sterf en begrawe sal word (Mark. 14:8).


Vir ons mans wat die heel tyd in beheer van sake wil wees en soms maar power is met die neem van emosionele besluite, lyk hierdie daad van Maria, net soos vir die dissipels, na verkwisting. Ons gesonde verstand analiseer hierdie daad baie moeilik. Maar, daar is ‘n hele wêreld se verskil tussen die ekonomie van gesonde verstand en dié van die liefde. Die slim mense reken ‘n geskenk word alleen ‘n geskenk wanneer die offerande van die liefde daaragter lê. Kortom, ons moenie dat ons liefde vir geld tussen ons en God kom staan nie. Inteendeel, ons kan dan iets by Maria leer – ons liefdesverhouding met Jesus behoort kosbaar en duur te wees!


‘n Dokter vertel onlangs dat hy en talle ander mediese praktisyns en personeel, deesdae ontsettende lang ure in die intensiewesorgeenheid deurbring waar hulle poog om Covid pasiënte aan die lewe te hou. Hy spreek dan ook die wens uit dat diegene wat die inenting weier, net ‘n paar uur saam met hulle te kom ervaar hoe mense sterf en hulle geliefdes ly. Om die nuus aan geliefdes oor te dra van nóg ‘n sterfgeval, is uiters hel! Die skeiding van ras en klas verdwyn. Pasiënte is eers ‘n pa of ma en dan wit of swart. Die vullisverwyderaar se geliefdes het hom net so lief as wat die universiteitsprofessor syne liefhet. In die ‘ICU’ verander die wêreld. Hoogmoed verdwyn en almal weet die lewe gaan daaroor om iemand lief te hê. As almal maar net kan leer om só lief te hê, as ons kon besef dat elke dag van ons lewe ‘n dag in die wagkamer van die ‘ICU’ is.


Jesus wys ons hier dat die geur van Maria se verhewe offerande vir ewig sal voortduur. Rondom Jesus was daar soveel bitterheid en verraad, en net soos in die dokter se ‘ICU’ vertelling, soveel tragedie, dat ons nie anders kan as om te besef dat in hierdie duister en liefdelose wêreld, meer sulke skynende ligte broodnodig is nie. Ek en jy moet meer begin met ons harte dink en ons gawes in God se diens aanwend. Ons kan maar so nou en dan dinge vir Hom en ons naaste doen wat ander as onsinnig (soos Covid inenting), of verkwisting (soos Maria se hoogste liefdesoffer), beskou. Ons kan dit selfs waag om vandag die Here se teenwoordigheid anders te beleef as net met ons koppe, selfs ons emosies, geld en energie verkwis tot uitbreiding van Sy koninkryk. Die Here sal dit nie vergeet nie. Ons sal beslis Sy teenwoordigheid opnuut ervaar.


“Liefde maak vir die Christen nie net vindingryk in die aanbied van hulp nie, dit maak in die eerste plek vindingryk in die bewus word van nood. Dit laat ons die ellende van die medemens raaksien en ons dinge laat doen wat vir ander onsinnig of na verkwisting lyk, en bring ons onvoorwaardelik in beweging” (Anoniem).


Gebed: God van eindelose genade, ek dank U vir U onpeilbare liefde. Saam met die psalmis wil ek jubel: “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit” (Ps. 139:5). Ag Here, dan sien en ervaar ons ook mense wie nie so gelukkig is nie, wie se aardse tentwoning elke dag meer gehawend lyk veral met die Covid-pandemie se verwoesting van geliefdes se lewens. Maar dankie dat U die Onveranderlike is, die God wat ons totale lewe onder U beheer het. Here, gee dat U liefde mense sal verander en hulle emosies, geld en energie in beweging sal bring ter uitbreiding van U koninkryk. Ek dank U daarvoor in Jesus se Naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page