top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 17 September 2021

Koos Espach


Jesus word in Betanië gesalf (4)


Duur salf vir die kruispad


Matt. 26:11-13 – “Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis.”


Vergelyk ook Joh. 12:7 – “Toe sê Jesus: ‘Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir My begrafnis. Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”


Judas protesteer oor ‘n jaar se salaris in die vorm van nardusolie wat op die voete van Jesus “vermors” is, maar binne enkele dae sou Hy Jesus verkoop vir slegs ‘n paar rand. Maria daarenteen, betoon haar barmhartigheid teenoor Jesus en dan blyk dit dat Jesus op daardie oomblik nie veel omgee vir die armes nie. Met respek, wát dan van die armes? Is Jesus ongevoelig oor die nood van mense omdat Hy duur nardusolie op Homself spandeer wil hê? Nee, inteendeel, Jesus het Maria se daad goedgekeur omdat Hy die aard van ware liefde goed verstaan het. Maria se oorvloedige liefde het verpligting oorheers, terwyl Judas se omgee vir armes sielloos, selfgerig en met bymotiewe gevul is want sy hart kleef aan ‘n alternatiewe god van geld en besittings.


Jesus wys nie op die oneerlikheid van Judas se aanmerking oor die armes nie, en erken dat daar vir hulle gesorg moet word. Maar vir elke ding is daar ’n goeie geleentheid en tyd. Jesus het geweet dat Hy binnekort sou sterf en nie eens ‘n ordentlike begrafnis sou kry nie. Haar daad was eintlik “’n voorbereiding vir sy begrafnis”, want Sy liggaam sou na Sy dood dalk nie gesalf word, soos die gebruik was by Joodse begrafnisse nie. Die geleentheid om in eie persoon aan Jesus goed te doen, moet gebruik word voor dit te laat is. Weldra sou Hy nie meer by die dissipels wees nie. Daarteenoor “sal die armes altyd daar wees” en die volgelinge van Jesus, Sy kerk, sal steeds die geleentheid hê om aan hulle goed te doen.


Jesus het juis tussen die armes beweeg, die verworpenes van die samelewing en die krankes: “Judas, Ek was gedurig in hulle nood aanwesig, maar, ‘laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Heb. 10:24). “Die armes het julle tog altyd by julle” Judas, as jy regtig 'n hart vir hulle het, kan jy hulle nog lewenslank dien. Ontdek eers Mý waarde, dan reik jy uit na die armes. Die probleem is: jy het nié 'n hart vir naastediens nie, omdat jy nie 'n hart vir Mý het nie. Judas, jy het net 'n hart vir jouself en vir geld en dis 'n doodloopstraat. Jou voorkeur vir geld is 'n voorkeur vir die dood. Maar Maria het Mý waarde ontdek, daarom kan sy die armes gaan dien.”


“Maar vir My het julle nie altyd by julle nie, Judas. Jammer om ‘n vergelyking te tref tussen julle want Ek het julle ewe lief. Maria het besef dat Ek ewigheidswaarde het terwyl jy toelaat dat jou liefde vir geld tussen God en jou kom staan het. Ek is die rede vir die lewe, Ek is die rede waarom dit sinvol is om te leef, ‘Ek is die Opstanding en die Lewe’ (Joh. 11:25). Indien jy dit nie besef het nie, het jou geestelike blindheid en mammon se “stem” toegelaat dat jy gaan sterf sonder om My ooit weer te sien!” Praat Jesus hier net met Judas of dalk met my en jou ook?


Selfsug en selfgesentreerdheid is van die hoofoorsake wat menslike verhoudings ontwrig. ‘n Gebrek aan omgee en konsiderasie vir ander, bring altyd spanning mee. God het gedurig Israel gebied om met liefde uit te reik na dié wat swaarkry en Hy het self reg laat geskied aan die verdruktes en armes (Ps. 146:6-9). Jesus se boodskap is dieselfde, selfs meer radikaal: Alles wat ons vir dié wat swaarkry, die geringes doen, doen ons vir Hom (Matt. 25:43-46). Natuurlik kan ons nie alle ellende in die wêreld oplos nie want armoede is ‘n ingewikkelde probleem wat op baie terreine aangepak moet word. Wat ons wel kán doen, al is dit hóé gering, is om die nood van diégene om en naby ons te help verlig. Ons kan nie net ons rug op hulle draai nie. Liefde, bereken nie die koste nie.


“Geen opoffering kan te groot wees om te maak vir Hom wat sy lewe vir my gegee het nie” (C.T. Studd).


Gebed: Here, vervul my elke dag met die innige begeerte om my medemens lief te hê soos wat U my liefhet. Help my om nie toe te laat dat negatiewe omstandighede my lewe en die lewe van mense om en naby my, affekteer nie. Skenk my die krag om hulle juis met positiewe energie te inspireer. Ek bid dat elke mens nie net aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (Fil.2:4), want wanneer U ons diepste emosies en nood raaksien en aanspreek, kan ons nooit weer dieselfde wees nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page