top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 10 September 2021

Koos Espach


Jesus se dood word beplan (2)


Lig in ‘n donker wêreld


Matt. 26:3-5 – “In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: ‘Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”


Kajafas dui die koers aan tydens die vergadering van die Joodse Raad. Hy gee die oplossing vir die “Jesus-probleem.” As hierdie man uit die weg geruim is, sal die volk nie gevaar loop om deur die Romeine uitgewis te word nie en Jerusalem sal weer na normaal toe kan terugkeer. En daardeur sou die leiersposisies binne die volk vir die raadslede behoue bly en Kajafas se amp as hoëpriester verseker wees. Ironies is dit nie die ongelowige wêreld nie, nie die leiers van ander godsdienste nie, of selfs satan nie, maar hierdie besluit word geneem deur ‘n spesiale vergadering van die Joodse Raad - die Algemene Sinode van die kerk van daardie tyd – Jesus moet sterf!


Matteus en Markus vertel van die “slinkse plan” waarmee die Joodse Raad besig is om Jesus gevange te neem. Op ‘n geslepe en bedrieglike manier besluit hulle egter dat dit nie “op die fees kan gebeur nie sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.” Dit maak nie sin nie, want hulle doen juis dit – Jesus word gevange geneem terwyl die fees aan die gang is! Maar die Raad besluit om Jesus nie gevange te neem terwyl die massas in die dag feesvier nie want dan raak die mense dalk betrokke. Baie van hulle het net ‘n paar dae gelede Jesus immers met ‘n groot gejuig in Jerusalem verwelkom. Daarom doen hulle dit daardie selfde nag, terwyl dit donker is en die strate stil is.


Hulle “slinkse plan” se sluheid stop ook nie daar nie. Jesus se gevangeneming, verhoor, skuldigbevinding en veroordeling moet alles daardie selfde nag afgehandel word. En voor die skare hulle oë kan uitvee en hulle feesvieringe voortsit, hang Jesus teen 9 uur die volgende môre aan die kruis, alles afgehandel. Hulle “slinkse plan” sluit natuurlik in dat alles téén die Joodse wet is – die Raad moes deur die dag vergader op ‘n bepaalde plek in die tempel, spesifiek vir vergaderings. Alles gebeur egter in die nag waar die slinkse Raad die Lig van die wêreld (Joh. 9:5) wil verwyder. So amper asof hulle dit met die druk van ‘n knoppie wil doen om die Lig te delete of unfriend.


Wat is die implikasie hiervan? Die wêreld is feitlik in totale donkerte gehul wanneer dit by die waarheid van die evangelie, wat die meeste saak maak, kom. Niemand kan ooit volkome tot die lig beweeg sonder Jesus nie. Die tendens van ‘n menigte mense is deesdae egter om die spot te dryf met ons Christene. Hulle maak grappe oor die kerk wat vrek swak is. Hulle lag orals in hul mou vir mense wat sê daar is ’n Skepper God wat Sy Seun gestuur het om te kom sterf vir sondaars se vrag sonde. Ek gril daarvoor. Ek bid selfs daarvoor. Ek vra God om in te gryp, want Hy kan mos. Ja, ek weet dis ‘n mens se eie besluit en dat God vir die mens ’n vrye wil gegee het om te kies watter kant toe hulle na hulle verblyf op aarde gaan.

En toe lees ek dié stukkie raak: “Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het , is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring ... dit is waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur” (Heb. 6:4-8). Lig moet gesien kan word en Jesus het ons as geloofsgemeenskap “aangesteek” om vir ander lig te gee – “Julle is die lig vir die wêreld ... Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt. 5:14 en 16).


Dit is egter sinneloos as ander nie daardie lig met ons wat volgens Jesus “lig is”, wil deel nie! Ons moet net nie tou opgooi nie. Die invloed van my en jou “lig” moet verder strek as ons huis en ons gemeente, daar waar dit nie só werk in die gewone samelewing nie. Almal behoort te sien en te ervaar dat ons die Here dien en God daardeur verheerlik. “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” (Fil. 2:15-16). En dit kan nie wag vir eendag wanneer ons oud is nie, dit mag dalk te laat wees. Laat ons seker maak dat God ook nie ons delete of die unfriend-knoppie druk nie.


“As ons gewillig is dat Christus ons die lig vir die wêreld maak, hoef ons dit nie te verkondig nie, dit sal self wys. Vuurtorings gebruik nie kanonne om die aandag op hulle te vestig nie, hulle skyn net” (Dwight L. Moody).


Gebed: Ewige God, Vader van alle lewe, wees asseblief my Gids sodat my lig so skyn dat ander kan sien ek is ‘n mens van die Lig. Laat my woorde en dade U behaag. Laat my lewe soos ‘n mens van die lig wees en moenie dat ek meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. Ek kies om my nie te skaam vir die evangelie van Jesus nie, en ek “wil gebruik maak van elke geleentheid om “lig te wees”, want ons leef in ‘n goddelose tyd” (Ef. 5:16). Mag ek nooit aan die ontvangkant wees van U unfriend-knoppie se druk nie. In Jesus se Naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page