top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 9 September 2021

Koos Espach


Jesus antisipeer sy dood (1)


Jesus se dood word beplan (1)


Die tragiese ironie


Matt. 26:1-5 – “Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: ‘Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.’ In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: ‘Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”


Jesus het Sy laaste toespraak aan Sy dissipels afgesluit op die Olyfberg. Matteus neem ons hiervandaan op Jesus se laaste spore en vertel die verhaal van Sy lydingsweg waarin die teenstand teen Hom ‘n hoogtepunt bereik. Terwyl Jesus Hom vir die Paasfees voorberei, was die priesterhoofde en familiehoofde van die volk ook besig met hulle eie beplanning. By hulle was dit egter moordbeplanning – hulle is besig om in Kajafas se huis planne te beraam om van Jesus ontslae te raak. Kajafas, die hoëpriester, wat veronderstel is om vir mense by God in te tree en volgens die godsdienstige gebruike, tydens die paasfees rein te wees, maar nou, dit wat hulle beplan, die teendeel vertel en ten hemele skreeu. Hulle beplan om God dood te maak!


Johannes se weergawe van die paar dae voor die paasfees, sluit Lasarus, Jesus se vriend, se opwekking uit die dood, in (Joh. 11:33-44). Met die opwekking van Lasarus bereik Jesus se aardse omswerwinge nóg ’n hoogtepunt, maar dit is ook ’n beslissingspunt. Sommige van die mense wat gekom het om Lasarus se susters te troos, het gesién wat Jesus gedoen het, en het tot geloof in Hom gekom. ‘n Ander groepie se harte bly verhard en hulle kon nie wág om hulle stories aan Jesus se vyande, die Fariseërs, te gaan oordra nie.


Die Here se stem sny vandag nog na twee kante toe – sommige mense bly onaangeraak, terwyl ander se geloofsoë siende raak; die dooie Lasarus kon Jesus se stem hoor en reageer, terwyl baie lewende mense vandag nog Jesus se stem hoor, maar nie reageer nie! Die storiedraers het ook gesien dat ‘n man wat al vier dae dood en begrawe was, uit die dood opgestaan en uit die graf gekom het, maar dit het nie tot hulle lewensverandering gelei nie. Daar is vandag steeds sulke mense - hulle draf om stories aan te dra en dan is dit nie altyd die waarheid nie. Wat dit nog méér tragies maak is dat die storie-ontvangers, dan negatief reageer op die stories.


Die Joodse Raad byvoorbeeld, het dadelik ‘n sitting belê, net op grond van die stories wat aangedra is en sodoende, “saam planne beraam om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak.” Die konflik wat sedert die begin van Jesus se bediening tussen Hom en die Joodse leiers aan die opbou was, bereik nou ‘n hoogtepunt wanneer die masjinerie in werking gestel word om Hom om die lewe te bring.


Die kern van die bespreking van die Raad, (Joh. 11:45-48), handel oor “hierdie man” se wondertekens – water verander in wyn; genesing van lammes en blindes; voeding van duisende; dooies word lewendig …! Hy praat ook anders: “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie” (Matt. 7:28-29). Dis verregaande, as hy so aangaan, gaan “al die mense in hom glo en kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.” Hulle is dus méér bekommerd oor Jesus wat besig is om hulle te beroof van hulle magsposisie! Hulle diepgewortelde invloed in die samelewing is besig om te kwyn! Daar is geen empatie of liefde meer oor vir die volk nie, die kerkleiers is derhalwe meer bekommerd oor hulle geykte godsdiens en tradisies wat skade ly.


Jesus daarenteen, gee om vir mense, Hy is nederigheid in aksie! Sy passie is om verdwaaldes, honger en eensame mense, sukkelende siekes, uitgeworpenes, verwerptes, op te soek. Jesus se lydenspad stop by die voordeur van dié met stukkende lewens en Hy wag om ingenooi te word! Hy praat eenvoudige taal sodat almal Hom kan verstaan – “Volg My”, is die kern daarvan. Die probleem is egter dat daar só baie mense met verskoning-taal bo-oor Jesus se lewende woorde skryf. Jesus forseer nie Sy wil op ons af nie maar nooi my en jou uit om opnuut die regte keuses te maak. Onthou: Elkeen sal die gevolge van hulle keuses met die eindoordeel, sélf moet dra.


“Dit is ‘n illusie om te dink dat daar ‘n perfekte regte tyd sal kom om die regte keuse te maak tussen die verderf of hemel!” (George Patton).


Gebed: Here, ek verstaan die val-en-opstaan pad van die geestelike groei roete. Dankie dat U juis gekom het vir ‘n sonde-sukkelaar soos ek, en my telkens maar weer optel wanneer ek geval het. Dankie dat U nie volmaakte mense uitsoek nie, maar juis by my begin het net soos ek is. Ek is op ‘n Goddelike wyse geskep om ‘n Goddelike konneksie te hê en daarom is dit voorwaar die beste om naby U te loop, en wanneer my geloofsoë en ore begin dof raak, bring my asseblief nog nader na U toe. Ek bid vir elkeen wat nog dwalend is en met verskoning-taal bo-oor U lewende woorde skryf. Help hulle Here, dat hulle na U sal hunker, luister en vir U sal leef! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page