Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 7 September 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (40)


Die profetiese rede: die laaste oordeel (5)


Sal ons Hom herken?


Matt. 25:41-44 en 46 – “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ‘n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”


Jesus gee nou hier in die laaste verse van die gelykenis vir ons ‘n verrassende blik op die gebeure van die eindoordeel, as wat die meeste van ons dink. Hierin motiveer die Koning sy besluit as antwoord op die vraag van die geseëndes en die vervloektes: “Here, wanneer het ons ...? (v. 37 en 44). Nie een van die groepe weet waarvan die Koning praat nie. Die antwoord kom as ’n verrassing vir albei. Hulle het dit nie verwag nie. Hulle was onkant gevang. Hulle ontdek dat Jesus na hulle gekom het in die gestalte van die siekes, die naaktes, die wat honger en dors is, die vreemdeling, die daklose en die gevangene en diegene wat alleen is.

Wanneer Jesus die eindoordeel self gaan waarneem, sal Hy op daardie dag ‘n duidelike onderskeid maak tussen mense wat ewig by Hom gaan wees (skape) en diegene wie se eindbestemming die ewige verderf is (bokke). Die verrassing wat Jesus aan ons voorhou, is dat Hy op daardie dag nie net gaan kyk na alles wat ons geglo het nie, maar na wat ons elke dag met ons geloof gedoen het! Het ons geloof gemaak dat ons verby ons eie wêreldjie kyk en omgee vir mense in nood, armes, siekes ens.? Het ons barmhartigheid ons hande en voete in beweging gebring? Of was ons deel van die passiewe kerkbank-warmsitters wat as toeskouers maar die naastediens aan ander gelowiges oorgelaat het?


Wat hier van belang is, is dat die liefdesgebod konkreet word. Om die arme en noodlydende te dien, beteken eintlik om die Seun van die mens te dien, en beloon sal word. Die tergende vraag is: Sal ons Hom vandag herken as Hy na ons toe kom? Hy kom dikwels na ons toe op ongewone tye en ongewone plekke waar ons Hom nie verwag nie. Sal ons Hom herken as Hy vir ons kos vra vandag, of water, of kleding en blyplek soek, of bloot verlang na die nabyheid van iemand wat opreg omgee? Ons sal gereed wees vir die onverwagse koms van die Koning as ons nou reeds sy verskynings en gestaltes in die hede herken en aan Hom barmhartigheid betoon.


Martin van Tours was ’n Romeinse soldaat en Christen. Een koue wintersdag terwyl hy die stad binnegaan, het ’n boemelaar by hom gebedel vir aalmoese. Martin het nie geld gehad nie. Die boemelaar het gebewe en was blou van die koue. Martin het gegee wat hy het. Hy het sy verslete soldatejas uitgetrek en dit in die helfte deurgesny en een deel aan die boemelaar gegee. Daardie nag het Martin ’n droom gehad. In die droom het hy die hemel gesien met al die engele en Jesus tussen hulle. Jesus het ’n halwe soldatejas gedra wat verslete was. Een van die engele vra Hom toe: "Meester, waarom dra U ’n ou verslete soldatejas? Wie het dit aan U gegee?" En Jesus het sag geantwoord: "My dienskneg Martin het dit aan My gegee." Sal ons Hom vandag herken as Hy na ons toe kom?


Hopelik laat hierdie gelykenis ons met nuwe oë en erns kyk na die eenvoudige dade van liefde aan ons medemens in nood. Jesus is nie weg nie. Hy is steeds op besoek aan ons. Elke daad van naasteliefde is ‘n liefdesdaad aan Jesus self. So sê Hy. Ons moet maar net rondom ons kyk om Hom raak te sien. Ons Christene se “core business” is die uitdeel van lewende brood en gewone brood, lewende water en gewone water. Ons moet Jesus se voetsoldate wees wat die medisyne wat Hy aanbied, na die slagveld van die lewe neem – daar waar “hongeriges, die armes, die vreemdeling, die hooploses, siekes, eensames en stukkendes hulle bevind.” Sal ons Hom vandag herken as Hy na ons toe kom? Kan dit wees dat Hy na ons toe gekom het, maar dat ons Hom nie herken het nie? Indien wel, sal dit nie nodig wees om te vra: “Here, wanneer het ons U honger of dors of ‘n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?”


“God se liefde kry sigbare hande wanneer sy kinders soos sy kinders lewe: deur weeskinders te beskerm, vreemdelinge te huisves en armes in hulle nood te help” (Daniël Louw).


Gebed: Here, dankie vir U goedheid en barmhartigheid teenoor my. U het nog nooit U seëninge van my weerhou nie. Gee dat ek met die hulp van U Gees wat in my woon, ook nie seëninge sal weerhou wat ek aan ander kan gee nie. Skenk my die insig dat ek U sal herken wanneer U na my toe kom en sal besef wat ander nodig het, en help my om in daardie behoeftes te voorsien. Gebruik my as U voetsoldaat wat die medisyne wat U aanbied, na die slagveld van die lewe te neem – daar waar “hongeriges, die armes, die vreemdeling, die hooploses, siekes, eensames en stukkendes hulle bevind.” Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon