top of page

Gedagte vir Vandag

23 Okt 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

OM JESUS TE VOLG (1)

(Mark. 8:34-9:1; Luk. 9:23-27)

DIE PRYS OM LID VAN DIE “JESUS-KLUB” TE WEES!

Matt. 16:24-26 – “Toe sê Jesus vir sy dissipels: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe?”

Ons het gister gesien dit verg inspanning om reg te begryp presies wat God se wil vir Jesus was teenoor Sy dissipels se wil. Soos Petrus, het ons ook ons eie menslike voorstellings en menings oor hoe Christus moet wees en hoe Hy moet optree. En indien Jesus anders optree om byvoorbeeld die weg van lyding en magteloosheid te kies, sê ons soos Petrus: “Nee, dit is ons menslike begeerte om jou lewe te behou, ja, selfs die hele wêreld met die oog op sekuriteit bymekaar te wil maak.” Hiermee gaan saam die vrees vir enigiets wat ons lewe bedreig en die vrees om jouself te moet prysgee, “want ons dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat ons wil hê” (v. 23b).

Daarteenoor staan die bereidheid om Jesus te volg, jou kruis op te neem en jou lewe ter wille van Jesus prys te gee en afstand te doen van dit wat normaalweg die sekerhede van jou bestaan is. Dít is wat dissipelskap en navolging van Jesus beteken. Daar was net één pad wat Jesus móés loop: dié wat deur verwerping en vernedering geloop het en by ‘n kruis op ‘n heuwel en in ‘n geleende graf gaan draai het – ter wille van my en jou redding! Jesus het Sy rug op Petrus gedraai en hom as satan, die struikelblok, agter Hom geplaas, want daar moes niks voor Jesus, in Sy pad van liefde en genade, na die kruis staan nie. Maar daar moes nog iets agter Jesus kom: My diepere ek – “As ek agter Jesus aan wil kom, moet ek myself verloën, my kruis opneem en Hom volg.”

Enigeen wat Jesus wil volg moet homself verloën, d.w.s. moet homself tweede plaas, om geen erkenning te verleen aan alles wat die sélf, die eie-ek omring nie. Jy kan nie Jesus volg as jy voor Hom wil loop nie, jy moet agter Hom wees. Dit impliseer werklik die bereidheid om jou ganse bestaan en sekuriteit ter wille van Jesus op die spel te plaas en met dieselfde gesindheid en aanvaarding as Jesus, lyding op jou pad te verwag. Alle ander pogings om jouself te red is tevergeefs: “Wat sal dit ons help as ons die hele wêreld as wins verkry maar ons lewe verloor, of wat sal ons gee in ruil vir ons lewe?” Kruisdra beteken vir die mens nie versoening vir sondes of vergoeding vir iets anders nie, maar dit beteken dat jy die verantwoordelikheid het om jou menslike begeertes te kruisig ter wille van God se saak.

Om agter Jesus “aan te kom”, beteken om by Hom aan te sluit, om voortaan spreekwoordelik in die “Klub van Christus” te wees. Dit is nogal ‘n eksklusiewe “klub” om aan te behoort en het die mees bepalende toelatingsvereistes waaraan ek en jy te doen gaan kry, sou ons dit aanvaar! Aanvaar ons die toelatingsvereistes, is ons saam met Jesus op pad na ons ewige bestemming, ‘n bestemming wat nie met mensehande gebou is nie. Beskou ons dit as belaglik, te hoog, miskien eendag, te veeleisend, is die enigste ander pad die pad na ewige verdoemenis. Daar is ongelukkig nie ‘n middeweg nie! Die toelatingsvereistes om lid van die eksklusiewe “Klub van Christus” te word is: “Neem jou kruis op en volg vir Jesus.”

Die “Kruisdra-Reëls” behels die volgende:

· Ledegeld is reeds betaal aan die Verlossingskruis. Jy kan niks byvoeg, verdien of koop om dit beter te maak nie.

· Niks kan saamgedra word nie. Jy het albei arms, bene en rug nodig om met jou kruis voort te beweeg. Álle ander dinge wat jy as belangrik beskou het, kan jy maar los.

· Jy moet bereid wees om beledig, vervolg en valslik beskuldig te word, en steeds besef, omdraai is onmoontlik.

· Jy moet onderneem om volhardend jouself aan die wil en gesag van God te onderwerp, al lyk die vooruitsigte pynlik en hartseer.

· Lidmaatskap is permanent, nie kamma-kamma of so-nou-en-dan nie.

· Jy moet bereid om dienaar in Jesus se diens te wees, dit beteken om afstand te doen van jou reg om te kies hoe dit sal plaasvind en wie om te bedien.

· Jy moet bereid wees om Jesus te volg op Sy manier, nie soos wat dit vir jou gemaklik of gerieflik is nie.

· Onthou: Geen kruis, geen kroon!

Ja, om Jesus te volg gaan ons beslis iets kos, maar die wins is deur en deur die moeite werd. Baie mense leef asof hulle nooit sal sterf nie. Ek en jy moet só leef dat ons gereed is om te sterf. Die dood is ongelukkig onvermydelik en daarom moet ons daarvoor gereedmaak om enige oomblik te sterf. Die einde van iemand wat vir alles voorsiening gemaak het vir sy oudag, polisse uitgeneem, testament opgestel, die beste mediese fonds kies, kan tragies wees. Dis nie verkeerd om voorsiening te maak vir jou oudag nie, maar moenie vergeet om ook klaar te maak om God te ontmoet nie. Die dood is ‘n móét: “Ons moet eenmaal sterf en daarna die oordeel” (Heb. 9:27). Net hulle wat deur Christus met God versoen is, se naam sal in die Boek van die Lewe geskryf wees en die ewige lewe ontvang, die ander gaan brand (Op. 20:11-15). Daarom moet ons só leef dat ons kan sterf – “wie sy lewe ter wille van Jesus verloor, sal dit terugkry.”

“Ek het in die loop van my lewe vir alles voorsorg getref, net nie vir die dood nie, en nou moet ek volkome onvoorbereid sterf” (Ongelowige Kardinaal Cesare Borgia op sy sterfbed).

Gebed: Hemel Vader, net U weet wanneer Jesus weer gaan kom. Help my om geduldig te wag op U volmaakte tydsberekening. Heilige Gees, laat my só leef dat ek altyd gereed sal wees om Jesus met toejuiging en blydskap te ontvang. “Oorwinnaars sal ons alles erf en drink uit die fontein van lewenswater, heerlik, rein. En God sal oor ons skyn” (Liedboek 602:5). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page