top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 5 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (22)


Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms (3)


Net die regverdiges sal beloon word


Matt. 24:40-42 – “Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.”


Dit is opmerklik dat Jesus ook hiér verwys na die lewe wat sy gewone daaglikse gang gaan voor Sy wederkoms. Daar is niks wat waarsku dat iets groot gaan gebeur nie. Wanneer die wederkoms egter plaasvind, word nie net die gewone lewe opgehef nie, maar kom daar ook skeiding tussen die mees intieme lewensbande. Die onverwagsheid van die wederkoms sal 'n duidelike lyn deurtrek tussen mense wat op die oog af dieselfde lyk en dieselfde loon behoort te ontvang.


Wanneer ons hierdie voorbeeld van Jesus in ons moderne eeu probeer toepas, kan ons dit miskien vergelyk met werkers wat eenders lyk: “Twee mense op die land” met eenderse kleur oorpakke en beide op eenderse trekkers; “twee vroue in eenderse oorjasse by die meule besig om koring te maal”; twee predikante met eenderse togas en eenderse liturgieë; twee onderwysers met eenderse kleredrag wat eenderse vakke aanbied; twee eenderse …! Dit is nie afstamming, prestasies of die uiterlike wat die rigting bepaal waar hulle gaan eindig nie, sê Jesus Christus, maar die mens se hartsgesindheid.


Wanneer Jesus weer kom, maak dit nie saak hoe jy lyk wat jou lot gaan bepaal nie. Tussen al die eenderse huisvrouens, onderwysers, eenderse staatsamptenare, pottebakkers, eenderse myners, skoliere, eenderse almal …, sal Jesus dié wie se harte Hy ken, dié wat die ander wang gedraai het, dié wat die ekstra kilometer saam gestap het, hulle wat in liefde in Sy lig gebly dien het, kom haal en saam met Hom neem.


Een van ons predikante het eendag gesê dat hy nooit sal aftree nie. Die Here moet hom maar kom haal terwyl hy preek. Wel, hy is heeltemal in die kol. Jesus sê “ons moet waaksaam bly omdat ons nie weet watter dag Hy kom nie.” Jesus se wens is dat ek en jy volspoed sal besig bly in Sy aardse wingerd én natuurlik goeie vrugte dra, totdat Hy weer kom. Oor daardie dag, “die dag van die Here,” het Petrus ook ‘n baie belangrike ding gesê: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met ons, omdat Hy nie wil hê dat iemand moet verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Pet. 3:9).


Jesus wil hê dat almal Sy wederkoms as ‘n vreugde ervaar, daarom is die langer tydverloop van Sy koms nie die “uitstel van ‘n belofte nie,” maar eerder ‘n genadige terughou daarvan. Daarom moet hierdie genadetyd vir ons wat reeds na Sy wederkoms uitsien, waaksame werktyd wees, vrugbare en dienende tyd om te getuig van Sy verlossende liefde. Ek en jy moet hierdie genadetyd gebruik om God se koninkryk uit te brei, naamlik om mense tot bekering aan te spoor. Daar moenie tyd wees om verveeld rond te sit nie. ‘n Dissipel van Jesus tree nie af of uit nie.


Waar bevind ek en jy ons as ons aan die einde van ons lewensbestaan in “die treknet op die strand uitgesleep word?” Is ons deel van “die goeie vis wat in mandjies bymekaar gemaak word, of deel van die onbruikbares wat weggegooi gaan word?” (Matt. 13:47-50). Die voorwaarde om deel van “die goeie vis” van God se koninkryk te wees, het niks te make met die regte geboortesertifikaat, of van volk of nasie nie – “Christus is alles en in almal wat met die ou sondige lewe breek” (Kol. 3:11). Dit gaan oor ‘n veranderde lewenstyl wat gekenmerk word deur berou van sonde en geloof in Jesus Christus. Dis nie genoeg om net eerbaar voort te leef nie. Wie die wederkomsverwagting afsterf, sterf so maklik die verhouding af met die Bruidegom wat Sy bruid gaan kom haal.


“Miskien kom Jesus môre terug. As dit gebeur, sal ons met graagte ophou om vir ‘n beter toekoms hier op aarde te werk. Maar nie een dag vroeër nie” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Ek loof en dank U Here, dat ek deur Jesus Christus aan U koninkryk kan behoort. Inspireer my met begeerte deur u Gees, om my wortels diep af te laat gaan in die vrugbare grond van die blywende ewigheidswaardes wat U vir ons bied. Help my om my deel by te dra om U koninkryk met liefde, uit te brei totdat my tyd op aarde opraak. Ek wil nie net eerbaar voortleef tot dan nie of tot U wederkoms nie, want anderkant die wederkoms lê daar nog baie jare voor en meer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page