Gedagte vir Vandag

Maandag, 2 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (19)


Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom (4)


Hou met alles vas aan God


Matt. 24:35 – “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”


Vergelyk ook Heb. 4:12b en 14 – “Die woord van God is skerper as enige swaard met twee snykante … Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.”


Die Woord van God is egter ook so kragtig dat dit jou hart oopvlek met ’n tweekant-swaard. Die Griekse woord vir mes of swaard beteken letterlik ’n tweemond-swaard, want dit vreet alles voor hom op (Barnes). Dit verorber alles, soos ‘n leeu ’n bok se vleis van die been afskeur. So is die Woord van God ’n mes wat tot binne die mens inglip om dit wat daar binne is, oop te vlek. Die Woord van God kry dit reg om die motiewe van die mens, die ware rede waarom ons dinge doen en nie doen nie, aan die lig te bring, selfs ons grootste vrese.


Meeste van ons het iéts waarvoor ons bang is. My vrou ly bv. aan hoogtevrees. Ek sal nooit die dag vergeet wat ons uit die hysbak uitklim by die boonste uitkykpunt van die Eiffeltoring in Parys, Frankryk, en sy haar oë toeknyp en vreesbevange my arm blou druk soos sy klou. Die meeste is bang vir hulle oudag; baie het Suid-Afrika verlaat omdat hulle die toekoms hier vrees. Ons mag maar daardie bang-wees-ding, ons eie maak. Dit is menslik dat ons soms bang is, al is ons Christene.


Tydens die hooggety van Covid-19, is daar ‘n blits opname aan veral jongmense geloods om uit te vind wat hulle die meeste bekommer. Die top kwellinge was die volgende: Ek is bang my familie raak siek; ek is bang iemand naby my gaan dood; ek is bang vir die toekoms; ek is bang om siek te word; gaan ek skool kan klaarmaak? Gaan ek slaag met ál die dreigemente teen skole wat nie wil sluit tydens die pandemie nie; ouers wat nie werk het nie; ek is bang vir die nuwe normaal. En tog, as ons hierdie lysie van ergste vrese oor vyf jaar verder, weer sou naslaan, sal ons ontdek dat bitter min, indien enige vrese gerealiseer het.


Ons moet stadig hierdeur lees, want dit vertel ’n baie groot storie. ’n Storie van bang vir wat môre gaan gebeur. Daar is soveel onsekerheid by die jeug. Niemand weet hoe die nuwe normaal gaan lyk nie. Dit is ook nie net die jongmense se wêreld wat so lyk nie, ons grootmense se wêreld lyk ook so. Die meeste is bang. Die meeste is onseker. Niemand kan sommer sê hoe môre gaan werk nie. Ons mense is nie lekker hiervoor gebou nie. Ons wil weet hoe môre lyk. Ons wil beplan. Ons wil nie onverhoeds betrap word nie. Alles is so deurmekaar. Waaraan kan ons vashou? Waarvoor is ons nóg bang? Wat vrees ons steeds? Wat nóg maak ons onseker? Ek en jy kan nou minder bang wees. Ons kan met albei hande vashou aan God want te midde van ons vrees, word ons deur God se liefde omsluit!

Vir jare was dit ’n baie goeie opsie om jou spaargeldjies in eiendomme te sit. Dit het maand vir maand ’n baie goeie opbrengs op jou belegging gebring. Jy kon elke aand lekker sag gaan slaap, want jou geldjies se groei was gewaarborg. En toe slaan Covid-19 die wêreld en die mense word in hulle huise vasgegrendel. Ewe skielik moet baie van die huis af werk. Wonder bo wonder pas die meeste so goed aan, dat dit die nuwe normaal word. En die eienaars van besighede kanselleer huurooreenkomste by die duisende. Vir die grondbaronne is dit ’n groot slag. Die beleggings wat hulle in die geboue gesit het, is ewe skielik aan die wankel. Wat eens 'n goeie idee was, is nou ’n vrot belegging. Soos die jongmense, is hulle ook nou angsbevange en onseker of hulle volgende maand finansieel staande gaan bly.


Daar is nie eintlik iets in hierdie wêreld waarop ons kan vertrou nie. Ons kan slegs op God vertrou. Ons bely dat ons God vertrou en daaraan moet ons met albei hande styf vashou. Ons moet vashou aan die wete dat Sy Seun vir ons aan die kruis gesterf het. “Hy het reeds deur die hemele gegaan, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.” Daarom kan ons met sekerheid sê dat ons eendag wanneer ons die onbetroubare wêreld verlaat, die hemel kan instap. Met alles in ons moet ons vashou aan die wete dat God altyd daar sal wees vir ons. Ook hier waar ons nog in die wêreld lewe en onseker is, kan ons vir seker weet dat God daar is en ons al die pad sal beskerm. Die Here sê 366 keer in die Bybel: “Moenie bang wees nie.” Minstens een keer elke dag vir ‘n hele jaar, is ons angs getemper, omdat ek en jy wéét dat God by ons is: “God is my redder; ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder” (Jes. 12:2).


“Omdat geen mens uitgesluit is om tot God te roep nie, staan die hekke van verlossing oop vir almal. Daar is niks wat ons kan verhinder om in te gaan nie, behalwe ons eie ongeloof” (Johannes Calvyn).


Gebed: Hemel Vader, vandag wil ek al my vrese voor U voete kom neerlê. U weet reeds van elkeen van hulle. Vergewe my dat ek nog vir soveel dinge bang is, al weet ek so goed dat dit eintlik onnodig is, want U is by my. Vader, dit gaan nie goed in die wêreld nie. Daar is soveel onsekerhede en dit maak ’n mens bang. U is al waaraan ek kan vashou. Ewige God, my skuilplek teen die storms, my Rots om in te skuil. Ja, my geloof in U is my anker! Ek loof U Naam omdat ek U eiendom mag wees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon