top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 30 Julie 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (18)


Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom (3)


Sola Scriptura – die Skrif alleen


Matt. 24:35 – “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”


Vergelyk ook Heb. 4:12a – “Die woord van God is lewend en kragtig.”


Die Woord van God lewe. Dit is nie ’n klomp woorde wat agtermekaar op ’n boekrol geverf is nie. Dis nie dood nie, want dan sou die mense nog voor 100 nC die hele boek ontrafel het en sou ons vandag nie eens daarvan geweet het nie. Die Bybel is werklik ’n besonderse boek. Ja, bloot die feit dat dit die toets van tyd deurstaan het; bloot die feit dat die mens dit nog nie heeltemal kon verklaar het nie; bloot die feit dat daar soveel verskillende sienings is; bloot die feit dat mense verskillende boodskappe ontvang, wys dat dit die woorde van God is. Dit wys dat die Heilige Gees daarby betrokke was en nog steeds is. Dit is ’n bewys dat die Woord van God vir seker nog nie “vergaan het nie en dat dit lewend en kragtig is en so bly!

Wanneer ons besig is met die Woord van God, besef ons nie altyd wat ons vashou nie. Die Woord van God is presies dit: die woorde van God. Dit is God wat hier aan die woord is. God gee vir ons, soos die Engelsman sê: “A piece of His mind.” Dit wat God dink, dit wat God wil hê ons moet weet van Hom en van onsself, kom gee Hy vir ons in Sy Woord. Dit is hoekom dit lewendig is, want die woord van God is lewend en kragtig en Jesus het dit bevestig dat Sy woorde nooit sal vergaan nie.”

Vir die Woord van God om kragtig te wees, veronderstel dat daar lewe moet wees, want ’n dooie kan nie iets doen nie. Lewe is nodig om iets te doen. En as die Woord van God iets doen, word dit met krag gedoen. God se Woorde gaan oor ewigheidskwessies.

Mense word beweeg. Wanneer die mens in God se Woord doenig is, beweeg dit mense. Mense verander. Mense stap anders by die Woord van God uit as wat hulle daar ingestap het. Dit is wat ’n lewende Woord doen. Ek dink nie daar is genoeg woorde in ons woordeskat om God se krag ten volle te omskryf nie. Ek meen: Hoeveel krag neem dit om die see en die aarde te skei? Hoeveel krag het dit geneem om die aarde toe te plant en steeds te versorg? Hoeveel krag het dit geneem om die diere een vir een te ontwerp en te skep? En die mens. Hoeveel krag was daar nie betrokke om alles te laat werk nie? En dan, hoeveel krag het God gebruik om Jesus uit die dood te wek? Te veel vir my om te verstaan, want God is eenvoudig te groot om in my verstand te pas.

Jesus het self ’n paar kragspele gedoen terwyl Hy hier op aarde was. Hoeveel krag moes dit neem om iemand gesond te maak, en selfs uit die dood uit op te wek? Hoeveel krag het Hy gebruik om duiwels uit mense te dryf, storms stil te maak? Hoeveel het dit van Hom gevat om derduisende mense op een slag kos te gee, en dit sommer weer doen op ‘n ander geleentheid? En dan, hoeveel krag het ’n mens nodig om die duiwel te oorwin? Dit is alles heeltemal te veel om te verstaan.

En dit stop nie hier nie. Alles wat deel is van die Goddelike familie, het merkwaardige krag. Kyk maar net wat kry die Heilige Gees reg. Die Heilige Gees gee oombliklik vir mense ’n hele woordeboek van ’n nuwe taal en mense praat en verstaan ’n taal wat hulle nog nie eens van gehoor het nie. Dis kragtig. Dit is bomenslike krag. Hy gee ons krag om te groei; hy daag ons uit tot heiligmaking; gee oorwinning oor tyd; is alomteenwoordig; gee ons insig en tree vir ons by die Vader in met versugtinge. Deur die werking van die Heilige Gees word mense omgedop en stap hulle presies in die teenoorgestelde rigting, weg van die kwaad, in God se arms in.

“Die woord van God is lewend en kragtig en sal nooit vergaan nie.” En as die Woord van God geen krag op my en jou uitoefen nie? Dan vermoed ek moet ons effe na binne kyk. Die probleem lê nie by die Bybel nie, maar by ons. As ons nie God deur Sy Woord hoor praat nie, is dit nie Sy stem wat stil is nie, maar ons ore wat doof geword het.

Ek en jy moet seker maak dat die wêreld se geraas nie die stem van God, waar Hy deur Sy Woord praat, oordonder nie. God maak Homself vir ons bekend deur Sy Woord. Daar leer ons Hom en ook Sy wil vir ons lewe ken. In God se Woord is daar meer as genoeg krag sodat ons kan hoor, dit leer en gaan toepas. Hoe kan ons dan nie anders as om elke dag ’n afspraak te maak om die lewende Woord van God te bestudeer nie? Hier is baie krag vir elkeen van ons. Krag wat ons nodig het om reg deur die lewe te stap. Weet dit. Glo dit. Vertel dit vir ander ook. Dit is die waarheid. Ons moet dan so leef dat Jesus Christus enige tyd in ons lewe kan opdaag en niks onheiligs daar sal vind nie. Beweeg God se Woord jou? Ervaar jy God se krag deur Sy Woord?


“Die Woord van God léwe! Dit praat met my in elke nuwe lewensituasie. Dit het hande, want dit gryp my vas. Dit het voete, want dit haal my in wanneer ek probeer wegkom van wat dit sê” (Martin Luther). Gebed: God van die Woord. Ek moet bely dat ek nie genoeg tyd in U Woord deurbring nie. Ek vermoed ’n mens kan dit in my lewenspad sien. Vader, ek doen dinge wat nie lekker in die lig pas nie. Vergewe my daarvoor en help my om planne te maak om dit nie weer te doen nie. Dankie dat U deur U Woord met my praat. Dankie Here, dat U Woord vandag nog kragtig aan die werk is. Help my om meer tyd daarmee deur te bring, sodat ek meer krag daarin kan ervaar en U beter leer ken. Laat U Woord orals in my lewe skyn en vir my wys waar ek nie binne U wil, loop nie. In Jesus se Naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page