top of page

Gedagte vir Vandag

21 Okt 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

JESUS KONDIG DIE EERSTE KEER SY DOOD EN OPSTANDING AAN (1).

(Mark. 8:31-33; Luk. 9:22)

DIE MAN VAN SMARTE IS DIE MÓÉT VAN DIE KRUIS!

Matt. 16:21 – ‘Van toe af het Jesus dit vir Sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.”

Petrus het pas die aangrypende “rotsbelydenis” uitgespreek en belangriker, op grond van ‘n Goddelike openbaring verstaan hy iets van Jesus se Goddelike natuur en erken hy Jesus as “die Christus, die Seun van die lewende God”, die Messias wat moes kom. Maar vir Petrus en die ander dissipels, het Jesus se Messiasskap iets anders beteken as vir Jesus self. Hulle het steeds gedink aan ‘n politieke Messias wat die Jode gaan verlos van die Romeinse druk en Israel weer ‘n magtige volk gaan maak. Jesus móés hulle daarom belet om bekend te maak dat Hy die Messias is. Indien hulle hul eie idees van Jesus se Messiasskap aan mense sou oordra, kon dit dalk ‘n tragiese rebellie tot gevolg gehad het.

Daarom was dit noodsaaklik dat Jesus die misverstand wat sy Messiasskap sou veroorsaak, uit die weg ruim en “van toe af vir Sy dissipels duidelik begin stel het dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly.” Deur die Joodse Raad, die Sanhedrin, waarop die hoofde van die priesterfamilies, die skrifgeleerdes en die oudstes van die volk sitting het, sou Hy tot die dood veroordeel word, “doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.” Die leiers van die Jode, wat eintlik die aankondigers van die koms van die Messias moes wees, sal Hom “verwerp” (Mark. 8:31). Jesus móét ly omdat dit in ooreenstemming met God se wil en die Ou-Testamentiese profesieë is.

Hoewel Jesus die wyse waarop Hy tereggestel sou word, nou nog nie noem nie, is die mededeling vir die dissipels ontnugterend en verpletterend, want Sy tydgenote, het hieroor ’n ander verwagting gehad. Die goeie nuus van die Evangelie is die móét van die kruis. Jesaja het oor hierdie Messias eeue tevore profeteer toe hy gesê het: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het” (Jes. 53:3). Jesus se weg was die móét gaan na Jerusalem, die móét ly onder die Sanhedrin, dat Hy doodgemaak móét word en op die derde dag weer móét opstaan. Wat ‘n verstommende profesie! Wie sou kon dink dat God die wêreld sou red deur ‘n nederige, lydende Dienskneg eerder as deur ‘n vereerde koning?

God werk dikwels op maniere wat ons nie verstaan of verwag nie. Jesus se tydgenote, die Ou Testamentiese mense, het gesukkel om die idee te verstaan van die Messias wat vir ons sondes moet sterf, daarom het hulle nie in Hom geglo nie, en hierdie Man van smarte, verag en verstoot. Hulle rituele van offerandes het die gedagte van ‘n lam wat geslag moet word, gesuggereer. Dit was egter een ding om ‘n lam te slag, en iets heeltemal anders om te dink dat “die Christus, die Seun van die lewende God” daardie Lam is!

Jesus Christus, die Messias se krag lê juis in Sy nederigheid, Sy lyding en Sy genade. Vandag nog ignoreer steeds miljoene Hom en Sy groot gawe van genade en vergifnis. Baie mense wil nie glo dat God juis met Jesus se lyding, die gordyn oopgetrek het sodat die mense vooruit kon sien dat die Messias “móét ly, móét doodgemaak word, en die derde dag uit die dood móét opgewek word”, sodat Hy vergifnis vir alle mense moontlik kon maak.

Ek en jy het die voorreg om terug te kan kyk op die Messias wat gekom het om vir ons sondes te sterf en ons het die geleentheid om ons lewe aan Hom oor te gee. Dit is ‘n feit dat die lewe kort is. Fisiese en verstandelike krag neem af namate ons ouer word. Om te wag vir “eendag” om Jesus te soek, mag dalk te laat wees want die fisiese en verstandelike krag mag dalk nie meer daar wees nie. Op God se kalender is daar ongelukkig nie ‘n “Eendag” nie, maar wel ‘n Maandag tot Sondag, ‘n “Vandag”“Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie” (Heb. 3:14-15). Moenie uitstel nie! Soek Hom “vandag” terwyl Hy nog te vinde is. Wat maak jy met hierdie kans? Wat doen jy met die Man van smarte se vergifnis?

“Die lewe is ‘n komedie vir hulle wat redeneer; ‘n tragedie vir hulle wat voel; ‘n triomf vir hulle wat glo” (Francis Bacon).

Gebed: Christus Jesus, terwyl daar nog ‘n “vandag” is wil ek bid vir almal wat U nie soek nie. Dat hulle sal ophou om oor U te stry; sal ophou om die kennis wat hulle van U in hulle harte het, te onderdruk; om met hulle oë te sien en ore te hoor van dit wat U met die skepping doen en reeds vir sondaars gedoen het; sal ophou om met hulle denke van U af weg te hardloop; sal ophou met argumente teen U en sal ophou om te leef asof U nie bestaan nie. Here ek bid dat hulle op hulle knieë sal neerval en U erken en U sal loof as die Seun wat opgestaan het, die Een “wat die sleutels van die dood en doderyk het” (Op. 1:18b), die Messias wat weer gaan kom. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page