top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 28 Julie 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (16)


Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom (1)


Die uurglas is besig om leeg te loop


Matt. 24:32-34 – “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.”


Nogeens kom Jesus terug op die vraag van Sy dissipels na ’n teken van Sy wederkoms (24:3), en Hy leer hulle om dieselfde opmerksaamheid waarmee hulle die natuur dophou, ook toe te pas op die tekens van die naderende koms van die “Seun van die mens.” Net soos daar in die vyeboom tekens te bespeur is van die naderende somer en “sy takke begin sag word en hy blare kry,” so sal daar in die wintertyd van die groot verdrukking (24:4-31), sekere tekens wees wat goed herkenbaar sal wees en wat sal heenwys op die somertyd van Sy wederkoms.


Wat beteken dit? Die botsels is die teken dat die somer naby is, maar ook die aankondiging dat die somer móét kom. Net so moet ons gelowiges ook let op die tekens wat Jesus in sy profetiese rede genoem het (en wat ons reeds na verwys het die vorige dae). “Wanneer ons al hierdie dinge hoor en sien gebeur, moet ons weet dat Sy koninkryk naby is,” en ook dat die koninkryk móét kom. Met ander woorde, Jesus wil vir my en jou sê ons moet ons oë begin oopmaak en kyk of die “vyebome rondom ons nie bot nie.” Ons moet dus die tekens rondom ons in die wêreld gebruik as aanduidings om vir ons te sê: die uurglas is besig om leeg te loop.


Jesus beklemtoon dat Sy wederkoms “naby is, voor die deur.” Hiermee wil Jesus ons vermaan dat ons nooit mag leef in die gerustheid dat die wederkoms nog ver is nie. Elke dag moet ons leef asof die wederkoms vandag nog kan plaasvind. Na 2 000 jaar kan mens maklik begin om te leef asof daar nog baie tyd is om ons op die wederkoms voor te berei. Jesus se eendag is dalk vandag! Ons as gelowiges moet altyd leef in die blye verwagting dat dit naby is.


Die uitspraak van Jesus oor “alles wat sal gebeur nog in die leeftyd van hierdie geslag”, word op verskillende maniere verklaar. Dit kan betrekking hê op die tydgenote van Jesus, maar dan is dit vreemd dat hulle lank reeds heengegaan het, en die voleinding het nog nie gekom nie. Daarom meen sommige dat “hierdie geslag” ’n verwysing is na die Joodse volk. Die woorde van Jesus is dus nie juis ’n verwysing na die spoedige wederkoms nie, maar eerder na die bewaring van die Jode. Aan hulle is die belofte gegee dat ten spyte van hulle verharding, God hulle sal bewaar tot aan die voleinding. Hier help spekulasie nie veel nie, wat ons wel kan bevestig, Jesus gee ons die “versekering dat dit alles sal gebeur.”


Die wederkoms se dag en datum is nie in ons hande nie. Ons kan nie besluit of bereken wanneer dit gaan gebeur nie. Met die draai van die eeu was daar hordes “profete” wat “feitelik” verduidelik het dat ons “hierdie geslag” is waarna Jesus verwys. Spense en kaste is gepak met blikkieskos en baie het gereed gemaak vir die laaste dag om aan te breek. Nou ja, dit kan dalk waar wees want baie van die tekens wat Jesus hier noem, het reeds gebeur en is steeds aan’t gebeur. Moet ons nou ons werke bedank, spaargeldjies onttrek en die wederkoms iewers loop inwag? Ek wonder wat het die manne met al die ekstra petrol en diesel gemaak wat hulle destyds gekoop het? Miskien het hulle dalk êrens vir die wederkoms gaan wag. Dit is presies wat die Christene in Tessalonika gedoen het, hulle het sommer ophou werk! (2 Tess. 2:1-12).


‘n Ander fout wat ek en jy as gelowiges nie kan bekostig om te maak nie, is om die wederkoms doer ver in die toekoms weg te steek. Ons moet dit enige oomblik verwag. Ons moenie te tuis raak hier op moeder aarde en nie meer uitsien na Sy koms nie. Ons is dan die eregaste, en daar is ‘n fees wat wag. Jesus is ons Here, Hy beheer die tyd en ons kan Hom ten volle daarmee vertrou. Ek is seker as ons Hom vertrou met ons siel en ons plek in die hiernamaals, kan ons Hom seker ook vertrou met die laaste dag van die wêreld. Ek is doodseker Hy sal nie laat wees vir Sy afspraak nie. Ek en jy moet net seker maak ons is nie te houtgerus besig met ons winterslapie nie! Ons moet elke dag leef en werk in die blye verwagting van Jesus se wederkoms.


“Ons Here sal kom om uiteindelik ‘n deurbraak te maak deur al die ondernemings van mense sodat die vrye loop van sy Woord verseker kan word” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here, U waarsku ons deur Paulus “dat ons baie versigtig moet wees hoe ons lewe en dat ons soos verstandige mense moet lewe in hierdie goddelose tyd” (Ef. 5:15-16). Dankie vir die vier en twintig ure van elke dag wat U my skenk om my tyd mee vol te maak. Gee dat ek my tyd só sal benut dat ek genoeg tyd opsysit om met U te praat en U Woord te bestudeer. Help my om tyd te maak vir my gesin, familie en vriende in die tyd wat ek tot beskikking het. Help my egter om nooit U wederkoms doer ver in die toekoms weg te steek nie, maar wel só te leef asof dit enige oomblik kan gebeur. Dit vra ek om U Naam ontwil. Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page