Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 27 Julie 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (15)


Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens (1)


Die grootheid van Jesus se eer


Matt. 24:29-31 – “Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.”


Die vraag van die dissipels vroeër oor die teken van Jesus se koms (24:3) in heerlikheid, word nou deur Hom finaal beantwoord. Na al die genoemde tekens – woelinge onder nasies, natuurrampe, vervolging en verdrukking van en verwarring onder gelowiges, pessiektes en pandemies – sal die “teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn.” Jesus verduidelik dat die hele skepping betrokke sal wees by Sy uiteindelike wederkoms van stralende heerlikheid, grootheid en eer. Die einde sal aangekondig word deur geweldige versteurings in die gang van die hemelliggame, soos deur die profete voorspel – “Die sterre en die sterrebeelde sal nie meer lig gee nie, die son sal al donker wees wanneer hy opkom, die maan sal ophou lig gee” (Jes. 13:10).


Sodra God, die Skepper, die finale herskepping bewerk, doen die hemelliggame afstand van hulle glorie en krag. Alles sal in duie stort, maar dit geskied as noodsaaklike voorwaarde vir die ontstaan van die nuwe aarde en die nuwe hemel (verg Op. 21:1 vv.). Met verslaentheid sal die volke Hom wat hulle nie wou erken nie, as Regter op die “wolke sien kom met groot krag en majesteit.” Met oorwinnings-trompetgeklank sal die engele uitgaan na al die grense van die aarde om die uitverkorenes te versamel uit elke skuilhoek waarheen hulle gevlug het. En diegene wat die evangelie nie gehoorsaam het nie, “sal die Here Jesus met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig” (2 Tess. 2:8). Skrikwekkend!


Die blye vooruitsig wat Jesus hier voorhou dat “Hy sy engele sal uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af,” versterk elke gelowige om die uiterste nood te verduur met ’n jubeling in die hart. Jakobus bevestig dit ook in sy brief wat hy skryf aan gelowiges wat oor die hele wêreld versprei is a.g.v. vervolging en verdrukking. Hy skryf aan mense wie se geduld tot die uiterste beproef word. Mense wat verdrukking, vernedering, onreg en oordeel beleef. Wat moes hulle houding nou wees? Hoe moes hulle hierdie spanning hanteer? Jakobus sê: “Wag dan geduldig, broers (en susters), totdat die Here kom” (Jak. 5:7)


‘n Mens sou verwag dat Jakobus die verdruktes sou oproep om teenstand te bied want hulle het immers God aan hulle kant. Teenstrydig hiermee begin hy merkwaardig, om hulle op te roep om geduldig te wees. Ons eerste reaksie sou wees dat dit nie waar kan wees nie, dit is verregaande! Dit is onmoontlik vir die onderdruktes om geduldig te wees, te wag en te hoop op ‘n beter lewe. Christene is protestante en daarom protesteer ons teen alles wat indruis op God se grondwet (soos bv. die nuwe voorgestelde PEPUDA Wetgewing.) Dit het egter niks met stilbly oor die kwaad of onregverdigheid te make nie. Die geduld waarna Jakobus verwys is dat ons nie God se rol moet oorneem nie. Hy sal uiteindelik die Regter wees.


Dit is nogal ‘n troos om te weet dat ander reeds deurgemaak het wat ons tans ondervind. Daarom is dit nodig dat ons Christene moet bly werk vir verandering, bly bid vir versoening en geduldig bly, selfs in lyding. Gelowiges is geduldig met mekaar en die wêreld. Ons verskil van mekaar omdat God ons verskillend geskep het. Die Gees gee vir ons dieselfde vrug, maar werk in ons verskillende gawes. Ons moenie oor mekaar kla nie, maar ons moet ook nie by mekaar kla nie. Wanneer iemand by ons kla, behoort ons saam te bid oor die saak waaroor die persoon kla, in plaas daarvan om mekaar verder te vergiftig.


“Ons behoort God te dank vir alles: as dit goed is, omdat dit goed is; en as dit sleg is, omdat dit geduld, nederigheid en afkeur vir hierdie wêreld in ons werk en ons hoop vestig op die ewige stad van God”

(CS Lewis).


Gebed: Here, help my om gefokus te bly op U, ten spyte van al my probleme. U wat die Krag is van die swakkes en onderdruktes, help my om standvastig te staan in elke beproewing, blymoedig te hoop en volhardend te bid. Help my om geduldig te wees, ja Here, al haal U die son uit die hemel weg, dat ek steeds geduldig sal wag om te sien wat U gaan doen. Maak ons geduldig met mekaar en maak my anders sodat ek ‘n verskil kan maak tot U eer. Dankie dat U my die vaste vertroue gee dat, afgesien van my omstandighede, my geloof uiteindelik sal seëvier en ek daarom kan uitsien na U wederkoms. Amen



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon