top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 26 Julie 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (14)


Die profetiese rede: die groot verdrukking (6)


“Kom Here, ja, kom gou!”


Matt. 24:27-28 – “Die koms van die Seun van die mens sal wees soos ‘n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig. Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.”


Vergelyk ook Matt. 10:22 – “Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot teen die einde toe volhard, sal gered word.”


Ons moet onthou dat Matteus se evangelie sy ontstaantyd in die tagtigerjare van die eerste eeu nC het. Wat Matteus dan skryf oor wat Jesus sê, is terugskouend. Die gemors waarin die Jode hulle bevind het, sonder ‘n stad en sonder ‘n tempel, het aanleiding gegee dat baie van hulle gesmag het na ‘n leier wat hulle uit hierdie dilemma kon verlos. Daarom het Jesus hulle 40 jaar vantevore al gewaarsku teen die vals christusse en profete wat sou opstaan. Die verwarring sou “in daardie tyd” (v. 23), onstaan en allerlei verkeerde opvattinge van hoe die Messias sou kom, was aan die orde van die dag.


Jesus was egter baie duidelik hieromtrent en het ondubbelsinnig bekend gemaak dat “die koms van die Seun van die mens sal wees soos ‘n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig.” So duidelik as “aas vir aasvoëls uit die lug” waarneembaar is, so opsigtelik sal die Seun se koms wees. Die koms van die Here sal onmiskenbaar duidelik wees vir almal, nie net vir die ingewydes van een of ander sekte of beweging nie, veral nie die “vals christusse en vals profete” nie. Die wederkoms van die Here sal universeel wees en almal sal wéét!


Ons mense is nogal geneig om mekaar bang te praat oor die wederkoms van Jesus. Die mees prominente vraag in ons gedagtes is seker: “Is ek gereed?” En wanneer ek en jy ons sondes analiseer, wys die gevolgtrekking eintlik hoe ontsettend onvoorbereid ons is! Tydens die seereis van die lewe bevind ons onsself soms op onstuimige waters terwyl die golwe van satan en sy bose trawante, onophoudelik poog om ons lewensbootjie stukkend te slaan. Ons voel asof alles en almal, selfs ons godsdiens, ons in die steek gelaat het. Die swaarkry terwyl ons ‘n dissipel van Jesus wil wees, laat mens dan wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie? Wag!! Moenie boedel oorgee nie, moenie tou opgooi nie, raak rustig en dink na oor die prys wat God gewillig was om te betaal om my en jou te red! Dit is moontlik dat ons deur die genade en leiding van die Heilige Gees, die sleutel tot hierdie “verloredeur” kan vind!


Ons is as gelowiges, diep in ons wese, deel van Jesus se vrede, die vrede wat ons by die voet van die kruis ontvang het. Daarom is ons blydskapmense ten spyte van swaarkry en vervolging en kan ons Jesus se belofte vasgryp toe Hy gesê het: “Wie tot teen die einde toe volhard, sal gered word.” Hierdie hoop word op God se genade-aambeeld steeds sterker gesmee. Ons moet nie wonder daaroor nie, maar in verwondering dankbaar wees daaroor en onthou.

Maar, dan neem die menslike twyfel, soos nou met COVID, weer oor en is ons geneig om te wonder hoe ons blydskapmense kan wees. Met respek, blydskap is om verheug te wees en verheug en swaarkry, is twee teenoorgesteldes! Wat is lekker aan swaarkry? As ons dit so in die algemeen stel, klink dit asof ons moet lekkerkry wanneer ons swaarkry. Wanneer ons egter name by swaarkry voeg, raak dit moeilik – vreugde en eensaamheid; vreugde en hartseer; vreugde en kanker; vreugde en verwerping; vreugde en honger; vreugde en sonder werk; vreugde en lyding; vreugde en dood! Swaarkry laat ons so aan onsself oorgelaat voel, sonder God en sonder mense.


En dan kom Johannes en hy skryf vir ons in Openbaring 1:7a en 8: “Kyk, Hy kom op die wolke, en al die mense sal Hom sien ... Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” Christus, die Seun van God, is nie ‘n ewigrustende teenwoordigheid nie. Hy is op pad na ons toe. Dit gee aan die toekoms vir ons gelowiges ‘n ander karakter!


Die toekoms is nie net dieselfde ou storie van swaarkry en pyn nie. Daar wag vir my en jou iets nuut. Dit sal die totale einde wees van die ou wêreld en begin van ‘n nuwe wêreld. Jesus kom weer want Hy gee om vir hierdie stukkende wêreld van ons. Vir diegene wat nie in Hom glo nie, sal dit ‘n dag van donkerte en benoudheid wees, maar vir ons gelowiges, ‘n dag van feesvreugde.


Daarom kan ons Christene nie terughunker na die “goeie ou dae” nie. God het nie al Sy genade in daardie “goeie ou dae” uitgestort nie. Dit het beslis nie opgeraak nie. Ons kan uitsien na ‘n toekoms wat aan die Seun van die mens behoort, aan Hom wat kom; die toekoms is ons ontmoetingsplek met Jesus Christus. Is jy saam met my waaksaam en op jou pos? Hou jy jou oë saam met myne gerig op Hom sodat Sy koms ons nie onverhoeds en onkant betrap nie? Voel jy ook om saam met my uit te roep: “Kom, Here, ja, kom gou!”


“Watter teenstand ons ook al in ons dag teen die vooruitgang van waarheid sien, moet ons nooit twyfel nie dat ons Here weer sal kom en deur al die ondernemings van die mense sal breek en ‘n pad vir sy Woord sal oopmaak” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here Jesus, ek neem my toevlug tot U; daarom kan ek bly hoop. Wanneer die lewenstorms woed, is U my anker. Deur U lewe, lyding, dood en opstanding, is ek verseker van ‘n ewige lewe saam met U in die Vaderhuis. Ek dank U dat U liefde my hoop omskep in sekerheid oor my erfenis wanneer U weer gaan kom. Kom, Here, ja, kom gou! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page