top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 23 Julie 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (13)


Die profetiese rede: die groot verdrukking (5)


Mense ken ons aan die vrugte wat ons dra


Matt. 24:23-26 – “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie.”


Vergelyk ook Matt. 7:15a en 16 – “Pas op vir die vals profete. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?”


Jesus het genadiglik die toekoms verberg toe Sy dissipels gevra het oor die oordeel van Jerusalem en ‘n teken gesoek het om die einde van die wêreld aan te dui (24:3). As hulle die twee vreeslikste feite, naamlik Jesus se kruisdood en die verwoesting van die tempel en Jerusalem ten volle besef het, sou vrees hulle onmiddellik oorweldig het. Daarenteen het Jesus net die hooftrekke gegee van die belangrike gebeurtenisse wat sou plaasvind. Deel daarvan was om hulle te waarsku teen “vals christusse en vals profete wat na vore sou kom en selfs die uitverkorenes verlei.”


Wat is die karaktereienskappe van ‘n vals profeet? Ons hoef nie te wonder nie, Jesus gee die maatstaf waaraan ons hulle kan meet: hulle vrugte! Die gesegde lui dat ‘n boom aan sy vrugte geken word en in Sy waarskuwing teen vals profete, verwys Jesus juis hierna. Die vals profeet is gewoonlik iemand wat met ‘n mooi voorkoms, dade en woorde, veral aanhalings uit die Bybel gebruik om mense te mislei. Vir die leek klink dit natuurlik na die waarheid. Die “vrugte” wat hierdie mense voortbring lyk en klink tog goed, wat het Jesus dan teen hulle?


Iemand het gesê dat elkeen ‘n reg het op sy of haar opinie, maar dit is nie te sê dat sy of haar opinie noodwendig reg is nie. Elke mens het ‘n reg om sy mening uit te spreek en Jesus waarsku ons om nie te oordeel nie. Indien ons dus ‘n mening wil beoordeel moet ons dit eerstens aan God se Woord toets want dit gaan oor die eer van God. Die basiese “vrug” van die vals profeet waarteen Jesus ons waarsku, is dat dit oor eiebelang gaan en sy prediking van die evangelie is gebaseer volgens sý interpretasie en nie volgens God se Waarheid nie.


Jesus sê dat hierdie vals profeet “na ons toe kom” – hy kies die kerk uit en gee voor hy speel vir dieselfde span maar intussen is hy ‘n lakei van valse getuienisse. ‘n Ander “vrug” van die vals profeet is dat sy skynheilige optrede goddelik lyk en klink. Hy “preek” wat die mense graag wil hoor en sy “boodskap” is vleiende onwaarhede wat nie die suiwer verkondiging van die Woord is nie – “Julle (vals profete) is soos jakkalse tussen die puinhope … Julle het met julle leuens mense wat My wil wou doen, laat moed verloor” (Eseg. 13:4 en 22).

Nog ‘n “vrug” van die vals profeet is die een wat getuig dat hy “geestelike openbarings” direk van God ontvang het. God het met hom gepraat net soos met Jesaja, Jeremia, Paulus en Petrus. Met groot fanfare dra hy dan sy “openbaring” aan sy volgelinge oor en hulle glo dit! Profete was mense wat namens iemand praat. In die Bybel was dit mense wat deur God geroep is om namens Hom te praat. Omdat dit ménse is wat hierdie taak verrig het en vandag nog verrig, is dit moontlik dat satan, die meester in die kuns van verleiding en vader van die leuen, hierdie “sogenaamde profete” juis gebruik om mense op ‘n dwaalspoor te lei deur hulle met vals leerstellings, te verwar.


Die vals profeet draai mense weg van die Bybelse waarheid af na ‘n sogenaamde “geestelike” wêreld van fantasie“’n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf” (Deut. 18:20)! Skrikwekkend! Ons sal dus die vals profete aan hulle dade en vrugte kan herken. Die Here kan nie bekostig dat vrugtelose bome kosbare spasie in Sy vrugteboord opneem nie, inteendeel, almal wat Sy genade goedkoop maak, word uiteindelik uitgekap.


Dit is maklik om mense te verlei en te mislei, maar niemand kan die Here bedrieg nie. Hy ken elkeen van ons deur en deur. Daarom, wat van my en jou? Gebruik ek en jy nog ons vermoë om deur God se genade, Hom te kies? Wat maak ons met die Here se goeie nuus, dra dit vrug, goeie vrug, regte vrug? Ons moet seker maak dat ons weet waarin en in Wie ons glo. Wanneer iemand met ’n klomp leë waarhede na ons toe kom, moet ons kan onderskei tussen die waarheid en wat sommer eenvoudig bo verdenking is. En dis die probleem. Baie mense word maklik heen en weer in hulle geloof geswaai, omdat hulle nie seker is van dit waarin hulle glo nie. Hulle hardloop agter elke liewe prediker aan, omdat hulle glo hulle is reg. Maar is hulle reg? Is hulle woorde in lyn met die woorde van die Bybel, die lewende God se woorde?


Laat die Heilige Gees my en jou hart en gedagtes versier. Laat ons Hom gebruik as padkaart wat die rigtingwysers van die Bybel ken en ons enduit, koers sal laat hou! Gehoorsaam God se padreëls met die Gees as Leidsman, dit lei na die “deur” op die einde waarvan net Jesus die sleutel het!


“Die kerk moet vrede en verdraagsaamheid najaag, maar dan nie ten koste van en in stryd met God se koninkryk nie. Wie met God wil wandel, moet in dieselfde rigting as Hy gaan” (Ds. Johan Smit).

Gebed: Bron van Waarheid en Lewe, weerhou my van vals leraars. U het vir my ‘n voorbeeld gestel sodat ek in U voetspore kan volg (1 Pet. 1:21) en tog wil ek soms steeds hardnekkig op my eie aankarring. Verlos my van die vyand wat homself verskuil in vals profete wat só maklik kan verlei. Help my om sonder skroom te sê en te wys aan Wie ek behoort. In U teenwoordigheid is waar ek ware vreugde vind, deurstraal my deur U teenwoordigheid sodat ander U in my sal raaksien. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page