top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 15 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (108)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (9)

(Matt. 23:1-36)


Jesus veroordeel huigelary (3)

(Mark. 12:40; Luk. 11:39-42; 20:47)


Christene leef in die waarheid!


Matt. 23:16-20 – “Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is. Julle sê: ‘As iemand by die tempel ‘n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel ‘n eed aflê, moet hy die eed nakom. Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word? Julle sê ook: As iemand by die altaar ‘n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar ‘n eed aflê, moet hy die eed nakom. Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur die offergawe geheilig word? Wie by die altaar ‘n eed aflê, lê ‘n eed af by die altaar en by alles wat daarop is.”


Jesus se derde ellende-uitspraak word die kerkleiers se huigelagtigheid by eedswering aan die kaak gestel. Hulle wat veronderstel was om as gidse voor te loop en mense na die koninkryk van God toe te lei, tref intussen blindelings allerhande klein onderskeidings wanneer ‘n eed bindend is en wanneer nie. Die leiers het hulleself graag as “gidse vir blindes” (nie-Jode) beskou: “Julle is daarvan oortuig dat julle gidse vir die blindes is, ligte vir dié wat in duisternis is, leermeesters vir dié wat onkundig is” … (Rom. 2:9) – maar is eintlik self blindes wat ander blindes probeer lei. Die resultaat is dat hulle lekker saam op ‘n draffie is op ‘n afdraande, reguit hel toe, in plaas van na die regte bestemming in God se koninkryk!


Die skrifgeleerdes en Fariseërs het ook nie ‘n probleem daarmee gehad dat mense ‘n eed aflê nie, solank hulle dit nie verbreek of dat dit vals was nie. Hulle kon ook ‘n belofte (eed) aan God maak, maar dan moes hulle dit nakom. Indien dit egter ‘n vrou was of iemand wat van die Noorde in Galilea afkomstig was, is jy kwytgeskeld want die Jode in die Suide, het vrouens en Galileërs beskou as mense wat nie weet wat hulle sê of doen nie. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het die kuns vervolmaak om sekere “formuletjies” ook by hulle vertolking van eedsweer, by te voeg. Hulle het ’n hele rangorde ten opsigte van eed aflê, ontwikkel – “by die tempel …, by die goud van die tempel …, by die altaar …, by die offergawe bo-op die altaar …, by die hemel ‘n eed aflê, lê ‘n eed af by die troon van God en by God wat daarop sit.”


Intussen is dit alles tegniese puntjies oor wanneer dit ‘n geldige eed sou wees of nie. By eedswering roep mens God as getuie in en is skuiwergate nie van toepassing nie. Dit is nie nodig om God as getuie te roep nie. God is klaar daar – God is alomteenwoordig. God hoor nie net sekere woorde wat deur die mens ge-uiter word in Sy Naam nie, Hy hoor álle woorde. God sien die gekruisde vingertjies agter ons rug en herken die geldigheid van ons eed. Daarom moet alle eedswering, indien nodig, beskou word as heilig want elke eed wat geneem word is in die teenwoordigheid van God.


Waar laat dit ons? Die feit is, dat mens soms onder eed geplaas moet word (in die howe), omdat ons deel is van ‘n oneerlike wêreld. In ‘n perfekte wêreld, ‘n Koninkryks-wêreld van God, sou dit nie nodig gewees het nie. As Christen het ons ‘n verpligting om in die waarheid te leef en dan het ons nie ‘n eed nodig om dit te bevestig nie. Ons behoort onsself in ‘n posisie te plaas waar dit nie nodig is om onsself daaruit te probeer lieg nie, en soms nog ‘n eed ook byvoeg om dit te bekragtig nie. Die gevolg daarvan is om sonde by te voeg by sonde. Vermy dinge wat jou sal laat skaam kry indien dit rugbaar word. God eis dat ek en jy ons woorde reg sal gebruik teenoor Hom (derde gebod) en teenoor ons naaste (negende gebod).


Ongelukkig leef ons in ‘n wêreld waar beloftes baie maklik gemaak word en om ‘n eed te neem word nie baie versigtig mee omgegaan nie. Vergun my om my eie opinie op papier te waag. Eedswering of eedaflegging word deesdae maklik gedagteloos en ligsinnig geneem. Ek wil nie veralgemeen nie, maar het eedswering in ons howe en inswering in spesifieke ampte, waar ook al, nie ‘n blote formaliteit geword nie, in plaas daarvan dat mense besef dat hulle God as getuie inroep? Word erns nog gemaak met beloftes (eedswering) byvoorbeeld tydens doopplegtigheid, bevestiging in ‘n amp, regering asook kerkamp, huweliksbevestiging? Het dit nie maar net deel van ‘n ritueel geword nie?


Jesus wil dat ons die waarheid praat. Hy wil hê ons moet op ons woord geneem kan word. Jesus wil ons as eerlike mense deel maak van God se huisgesin. Omdat Hy sy Naam aan ons bekend gemaak het, kan ons Hom ken, Sy Naam aanroep, bely en prys. Om te probeer wees en op te tree soos die skrifgeleerdes en Fariseërs wat nie net leuens verdra het nie, maar selfs nuwe gesofistikeerde metodes ontwikkel het om die leuens te verskoon, is om satan, die kunstenaar van leuens, te dien. Christene glo in die waarheid, leef die waarheid, het die waarheid lief en is toegewy aan die waarheid want dit bevry ons. “(Ons) is gered deurdat die Gees (ons) vir Hom afgesonder het en deurdat (ons) die waarheid glo” (2 Tess. 2:13b). Ek en jy skuld God en ander mense eerlikheid!


“’n Leuen is ‘n sneeubal, hoe langer jy hom rol, hoe groter word hy” (Martin Luther).


Gebed: Here, plaas ‘n wag voor my mond, hou tog wag oor wat ek sê (Ps. 141:3). Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my Redder (Ps. 25:5). Here, maak my woorde en dade vry van oneerlikheid en onopregtheid. Maak my gees en gedagtes nuut sodat ek alle valsheid kan aflê en ek oral en altyd, die waarheid praat. Moenie dat ek ‘n vals eed aflê nie want ek weet U haat dit (Sag. 8:16-17). “Laat (ons) aan U toegewy wees deur die waarheid want U woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page